Vrou vertel van noue ontkoming toe kapers toeslaan

Argieffoto

“Klim in.”

Só het twee kapers aan Bianca Engelbrecht (37) gesê toe hulle en ’n makker haar Dinsdag vroegaand in die oprit van haar huis in Linden in Johannesburg oorval het.

“Ek het net gedink daar is geen manier dat ek terug in die motor klim nie. As jy dít doen, is jy weg,” vertel Engelbrecht nou.

Sy is dankbaar dat sy gespaar is om dié gebeure te kan oorvertel.

Engelbrecht vertel sy het die betrokke dag omstreeks 18:40 van die winkels af teruggekeer en gewag vir die elektriese veiligheidshek van haar erf om oop te maak, toe sy skielik ’n silwer motor agter haar sien stilhou het.

Hoewel sy aanvanklik gedink het dat dit bloot een van die bure moet wees, word daar nou vermoed dat drie mans haar van die winkels agtervolg het om haar tuis te oorval.

Engelbrecht het opgemerk hoe twee van die mans met vuurwapens uit die motor gespring het terwyl een in die motor agtergebly het. Sy het dadelik haar veiligheidsgordel losgemaak en haar motordeur oopgemaak.

“Ek wou net uit die motor kom. Ek het geskree en vir hulle gesê om enigiets te vat, maar my net te laat gaan.”

Hulle het egter daarop aangedring dat sy terug in die motor moet klim. Dit is tóé dat Engelbrecht begin terugbaklei het.

Argieffoto

“Jy veg vir jou lewe. Jy dink net jy wil nie verkrag of vermoor word nie. Jy dink aan jou kinders in die huis …”

Engelbrecht se man het in dié stadium die geraas gehoor en uit die huis gehardloop waarop die verdagtes ’n skoot op hom afgevuur het. Hy is genadiglik nie getref nie en kon daarin slaag om tot by sy vrou te kom waarna hy die verdagtes met die motordeur geslaan het.

Engelbrecht is in die struweling ook met die deur getref.

Die verdagtes het eindelik bes gegee waarna hulle met leë hande op die vlug geslaan het. Die Engelbrechts se bure het in dié stadium uit hul huise gekom om ondersoek in te stel.

Engelbrecht het verskeie kneusplekke oor haar liggaam in die voorval opgedoen en het intussen besluit om selfverdedigingsklasse by te woon.

“Ek kon die eerste nag nie slaap nie. Jy dink heeltyd aan wat kon gebeur het.”

Sy wil nou ook ander vroue teen soortgelyke voorvalle waarsku.

“Laat weet een van jou geliefdes wanneer jy ry dat jy op pad huis toe is sodat hulle jou kan verwag. Moenie stilhou nie en hou aan ry as jy sien jy word agtervolg. Bel dadelik ’n sekerheidsmaatskappy.

“Moet ook nie stilhou en wag vir die hek om oop te gaan nie. Maak die hek vroegtydig oop sodat jy net kan inry. Plaas jou handsak in die kattebak wanneer jy bestuur.

“Ons weet om al hierdie dinge te doen, maar ons bereik ’n punt waar ons net weer gemaklik raak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

MCL ·

Almal gaan meer moet oplet. Dit gaan net erger raak. En jou voertuig kan ook n wapen word. Seker makliker gese as doen maar ek sal nie skroom om bo-oor hulle te ry nie.

Jo-Anne ·

Eerder moet gaan vir skiet lesse. Geweer aan ons sy is ons voorland soos dit in hierdie land aangaan.

Frank ·

My handwapen is al die afgelope vier jaar 24/7, of aan my sy, of binne gryp afstand. Behalwe as ek stort…

Adeline ·

KOOP PEPPER sprei – dit werk en kan jou lewe red verseker – wees altyd op jou hoede – moet nie gemaklik raak nie – loop en sit op naalde en baklei terug – SOOOOOOOO bitter dankbaar vir die berig en dat niemand dood is nie en die aanvaller gevlug het – maar om die draai is daar ‘n ander slagoffer in hulle hande – verseker.

Cherokee ·

Die sein-stelsel kan verleng word sodat die opvangs verder strek, en dan kan die hek oopgemaak word terwyl stadig nader gery word..

Blikkies ·

Ek se Dankie Here dat julle niks erger oorgekom het nie. Ek stem saam met paar van die kommentare, wapen maar 24/7 by ons begin dra. Vir wat dit werd is gee jy jouself darem ‘n tweede kans.
Dit is beter om ‘n wapen by jou te he as jy geen nut vir hom het nie, as wat jy geen wapen by jou het as jy een nodig het nie.

AlWeerSo ·

Leer tog! Is al oor en oor gesê! Moet nooit intrek nie, staan reguit in die pad totdat jou hek oop is. Ry dan in en maak jou hek dadelik agter jou toe! Ons weet mos tog teen nou… Suid Afrika is een groot moordenaars en rower nes en jou lewe is niks werd nie! Kyk agter jouself! Wees paraat!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.