Vrou voor familie doodgeskiet

Amanda Vermeulen. Foto: Verskaf

Amanda Vermeulen. Foto: Verskaf

Amanda Vermeulen, wat vir jare lank as ʼn ontvangsdame by ʼn dokterspraktyk in Lichtenburg in Noordwes gewerk het, is Sondagaand tydens ʼn huisbraak voor haar man, skoonsuster en swaer doodgeskiet.

Melissa van den Berg (28), Amanda se stiefdogter, het Maandag aan Maroela Media gesê Vermeulen en haar pa, Kobie, woon al nagenoeg 15 jaar in Lichtenburg.

“My pa se suster en haar man, Gawie en Retha Botha, het uit Nelspruit vir hulle kom kuier en het die naweek daar oorgeslaap,” het Melissa gesê.

Sy sê twee mans het omstreeks 19:40 haar pa en ander familielede in hul huis in 14de Laan oorval.

“My pa sê alles het so vinnig gebeur. Die mans het kepse gedra en een van hulle het ʼn vuurwapen gehad. Die man met die vuurwapen het in die huis in gehardloop en op my pa geskiet, maar gemis. Een van die koeëls, of ʼn stuk skrapnel, het my oom in sy toon getref,” het sy gesê.

Terwyl die gewapende man in die huis ingestorm het, het die ander man die twee vroue met ʼn besemstok aangehou en gekeer dat hulle vlug.

“Die man met die vuurwapen het ʼn selfoon gegryp en weer uit die huis uit gehardloop terwyl hy wild en wakker begin skiet het.”

Amanda is tydens die skietery noodlottig in die bors gewond. Sy is op die toneel dood. Retha is ook in haar bors, en arm geskiet. Kobie het hulp ontbied en die polisie gebel.

ʼn Plaaslike dokter het Retha behandel, waarna sy in ʼn kritieke toestand na die Life Anncron-kliniek in Klerksdorp oorgeplaas is. Retha was Maandagmiddag in ʼn stabiele toestand.

Amanda het die afgelope 14 jaar as ontvangsdame by dr. Gerrie van den Berg se spreekkamers gewerk. Dr. Van den Berg het aan Maroela Media gesê Amanda was ʼn dierbare en liefdevolle mens.

“Sy was ʼn groot Christen en baie lief vir mense. Sy sou regtig uit haar pad uit gaan vir haar medemens en die pasiënte het net met lof van haar gepraat,” het hy gesê. Hy sê dit is ‘n groot skok vir almal in die dorp.

Sers. Kealeboga Molale, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisbraak en moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

  • Amanda se roudiens vind Woensdag om 11:00 by die NG Kerk (Klipkerk) plaas. Almal is welkom om die diens by te woon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

62 Kommentare

jongste oudste gewildste
willie

Ek wil kommentaar lewer maar miskien sal dit beter wees as ek hou by die volgende naamlik: Kobie en Melisa en die ander lede van die gesin, mag God julle omvou en beskerm, mag Sy liefde die haat wat in my opvlam blus, mag God ons help om te bly vergewe. Mag Retha deur Sy groot genade spoedig en volkome herstel. Mag almal van julle die krag ervaar om uit hierdie greep van seer en pyn heelhuids te ontsnap
Hoe swaar ookal, hoe moeilik ookal, ek glo eendag sal ons beter verstaan as nou.

Johann Roux

Kan daar bemoedigende woorde gespreek word vir ‘n diep bedroefde familie?
Al wat gese kan word, is dat julle, die familie nooit alleen gelaat sal word, om hierdie uiters moeilike pad na geestelike herstel op jul eie krag hoef te loop nie.

Julle is in ons gebede.

Vader, spreek U en hou die naasbestaandes, familie en vriende van Amanda styf vas asseblief.

Amen.

Mara Van Staden

Na aanleiding van die sensuur op die advertensie .. belaglik.! Pleks hulle sensureer die geweld wat sommer soos peanutbutter en stroop toebroobjies aan ons opgedis word. Die Godslaster in meeste van die programme… ( The Leftovers waar hulle op die Jesuspop piepie ens… walglik) en die vloekery op elke liewe kanaal… dis ‘n wonder die diertjies op Animal planet vloek nog nie… en wat my bekommerd maak is dat ons ouers saam met ons kinders hierdie peanutbotter en stroop kyk! Vir hulle is dit dus aanvaarbaar dat vrouens en mans mekaar slaan dat die tande waai, dat die “good guys”… Lees meer »

Henk du Plooy

My hart gaan uit na die naasbestaandes, ons is hartseer saam met julle. Mag die Heilige Gees julle vertroos en dra in die tyd. GOD Seen van ons Lichtenburgers.

Arno

My suster-hulle was 7 jaar terug net ‘n paar strate af aangeval. Hulle het ongedeerd daarvan afgekom. Maar hier gebeur dit weer. Wat gaan aan in hierdie land? Ek sal wragtig my tassies pak en loop. Sterkte aan die familie.