Vrou vra glo ook ‘skelmpie’ om hoteleienaar te vermoor

Leon en Suretha Brits (Foto: Verskaf)

Die weduwee van Leon Brits (41), eienaar van die gewilde Pofadder-hotel in die Noord-Kaap, het glo nie net by haar vriend, Jacques van Vuuren, aangeklop toe sy die moord op Leon beplan het nie. Die staat het Donderdag tydens Suretha Brits se borgtogaansoek beweer dat sy ook “een van haar minnaars” gevra het om haar man te laat vermoor. Haar familie het kwansuis ook geweet van Suretha en dié man se buite-egtelike verhouding.

Volgens ʼn beëdigde verklaring wat verlede week in die hof voorgelees is, word aangevoer dat Suretha uiters ongelukkig in haar huwelik was, maar nie van haar man wou skei nie omdat haar kinders kwansuis daaronder sou ly. Sy het ook glo verskeie kere in die verlede aan haar minnaar gesê dat sy Leon wou laat “uithaal”.

Suretha (30) het Donderdag en Vrydag in die landdroshof op Pofadder verskyn waar haar borgtogaansoek voortgegaan het. Sy staan tereg op die moord op haar man.

Leon is op 7 Oktober wreed vermoor en sy liggaam in die swembad van die egpaar se huis gegooi. Suretha het Leon se lyk daarna “ontdek”.

Maroela Media het vroeër berig Suretha het glo derduisende rande betaal om Leon te laat vermoor en sy het glo ook die hele moord haarfyn beplan. Dié inligting het uitgekom tydens die pleitooreenkoms wat Van Vuuren ʼn maand gelede met die staat gesluit het.

Van Vuuren, Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) is oorspronklik vir Leon se moord in hegtenis geneem. Suretha is op 29 Maart ook in hegtenis geneem.

Die staat het Donderdag op grond van verklarings van getuies aangevoer dat Suretha seksuele verhoudings met ander mans gehad het terwyl sy en Brits getroud was.

Die staatsaanklaer, adv. Hannes Cloete, het ’n verklaring van Denton Nienaber (40), een van haar sogenaamde minnaars, voor die hof gedien.

Luidens die verklaring het Nienaber en Suretha mekaar in 2019 ontmoet en daar het ’n seksuele verhouding ontstaan. Nienaber getuig in die verklaring dat hy daarvan bewus was dat sy met Leon getroud was.

In die verklaring erken Nienaber ook dat Suretha en haar familie, waaronder haar ma, suster, broer en skoonsuster, gereeld by sy huis in Parys gaan kuier het. Hy sê die familie was bewus van sy en Suretha se verhouding.

Volgens Nienaber het Suretha verskeie kere vir Leon sleggesê en ook aan hom (Nienaber) erken dat sy ongelukkig in haar huwelik met Leon is. Sy het glo vir Nienaber gesê dat Leon haar aan haar arm geruk het en aangevoer dat daar soortgelyke voorvalle was.

“Ek en Suretha het op ’n keer oor egskeiding gepraat. Sy het egter gesê dat dit nie ’n opsie is nie, want Leon sou haar nie uitlos nie en dat haar kinders daaronder sou ly. Ons het saam besluit dat ek vir haar sal wag totdat die kinders uit die skool is en ons dan sou saam wees,” het Nienaber in sy verklaring gesê.

In die verklaring getuig Nienaber dat Suretha in Junie of Julie verlede jaar vir hom ’n splinternuwe R1M Yamaha-motorfiets gekoop het en vir hom gesê het dat sy dit vir hom gekoop het omdat “hy altyd almal help en hy dit verdien”.

Nienaber erken in sy verklaring dat Suretha kort daarna, tussen Augustus- en Septembermaand, verskeie kere aan hom gesê het dat sy vir Leon gaan laat uithaal. Hy sê hy het haar deurentyd afgeraai om dit te doen omdat “dit nie ’n oplossing is nie en dat sy aan haar kinders moet dink”. Volgens Nienaber het sy hom ook gevra of hy iemand ken wat sulke goed kan doen. Nienaber sê hy het vir haar gesê dat hy sal kyk, maar dat hy nie regtig sulke mense ken nie. Hy het egter nie daaroor navraag gedoen nie.

“In ’n latere stadium het sy vir my gesê dat sy ’n ou ken wat ’n familievriend is, wat enigiets vir haar sal doen. Ek het egter aan haar gesê dat sy alles moet los,” het Nienaber in die verklaring gesê.

Volgens Nienaber het hy en Suretha die oggend van Leon se moord nog kontak gehad, maar glad nie oor die beplande moord gepraat nie. Hy is later deur Suretha se skoonsuster in kennis gestel dat Leon vermoor is.

Volgens Nienaber was hy en Suretha teen die tyd wat Nienaber die verklaring afgelê het, steeds in ’n verhouding.

Suretha het tydens die hofverrigtinge die buite-egtelike verhoudings en haar betrokkenheid by die moord ontken.

Die staat voer aan dit is in die belang van geregtigheid dat haar aansoek om borgtog van die hand gewys word.

Cloete het namens die staat aangedui dat Suretha se borgtogaansoek teengestaan moet word oor haar seksuele verhoudings met ander mans en omdat daar geen dwingende redes aangevoer is om borgtog te regverdig nie. Cloete het ook aangevoer indien Suretha op borgtog vrygelaat word, sy die hofverrigtinge kan ondermyn en die staatsgetuies kan probeer nader of beïnvloed.

Van Vuuren se pleitooreenkoms is ook deur Cloete in die hof voorgelees. Hy sal as staatsgetuie tydens die verhoor dien. Hy is reeds op 25 Maart in die hooggeregshof in Kimberley ingevolge die pleitooreenkoms gevonnis.

Uit die pleitooreenkoms blyk dit dat Van Vuuren die middelman tussen Suretha en die verneemde moordenaars, Williams en Bareki, opgetree en in die buit gedeel het.

Suretha se borgtogaansoek gaan op 17 Mei voort. Sy sal dan saam met Williams en Bareki in die hof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Snowball ·

Sy wou nie skei nie want haar kinders sou daaronder ly? En die kinders ly nie nou omdat hulle pa so koelbloedig vermoor is en hulle ma dalk op pad is tronk toe nie? Sy is ‘n berekende moordenaar en het klaarblyklik nie respek vir die huwelik of vir ‘n lewe nie. Ongelukkigheid is een ding, maar slu en gewetenloos is ‘n perd van ‘n ander kleur.

Ronel ·

Ai en nou moet die kinders sonder albei ouers groot word. Hoe selfsugtig kan mense nie wees nie!!!!

Maggies ·

Lei haar kinders nie nou erger om te besef dat hul mamma verantwoordelik is vir hulle pappa se moord nie. Nee wat ‘n vrou met sulke dubbel standaarde hoort vir ewig en altyd in ‘n tronksel. Die kinders sal beter af wees sonder haar invloed.

Sobymykoolkop ·

Neewat mnr Nienaber, as jy kan verneuk sal jy beslis lieg ook. Lekker fiets verniet gekry. Dink nie jy was baie oortuigend in jou poging om haar te keer om haar man te laat vermoor nie. Jy het al ver gesigte gesien van baie lekker lewe as haar man dood is. Om watter rede is jy nie reeds daardie tyd polisie toe nie, maak jou in ń mindere mate skuldig, jy kon sy dood voorkom het.

lodewyk ·

Lyk vir my die vrou was die oorsaak van haar huweliks probleme -van waar die gevolgtrekking kom dat sy meer as een minaar gehad het ? -Sy sal nou maar moet kyk vir n skelmpie in die tronk,maar dit gaan nie n man wees nie-hoop sy word lewenslank toegesluit ,sy hoort nie in die samelewing nie!!

SomeOne ·

sy gaan verseker nog baie gemeenakaplike sake in die tronk ontdek

Wat op dees Aarde ·

Ek verskil nou weer. Sy het alles mooi fyn beplan. Geen skroef los, Net selfsugtigheid en geldgierigheid. Sy is ‘n meester brein.

Louise ·

Volgens my is hierdie Nienaber mansmens net so skuldig, as hy dalk GEPRAAT het voor die tyd dan het Leon dalk nog geleef. Hy moet ook aangekla word, maar nee HY het net aan sy eie LEKKER gedink. SKAAM jou NIENABER… JY HET OOK BLOED OP JOU HANDE!

Annelize ·

Goeie genade!!! Maar die vrou is a piece of work!!! Sy wou nie skei nie want die kinders sou daaronder ly? Wat ‘n swak redenasie, asof die moord hulle nie sou laat ly nie.

Ek sal my kop op ‘n blok sit, is dat al wat hier gebeur het is, haar man het geweet van haar smerige “buitemuurse” aktiwiteite, en was dalk van plan, of reeds in die proses om van haar te skei en te baklei vir die kinders, en haar met die minimum te los, wat sy sou verdien het.

Nou instede daarvan om voor die familie en vriende ontmasker te word vir wie en wat sy is, moes Leon toe met sy lewe boet. En nou sien sommer die HELE LAND wie en wat sy is. Never cut your nose to spite your face.

Absoluut walglik.

Maggies ·

Ek dink jy slaan die spyker op sy kop. En haar familie het geweet van haar verhouding volgens haar minnaar.

Rooikoos ·

“haar man het geweet van haar smerige “buitemuurse” aktiwiteite…”
Ek dink jys doodreg Annelize.

Rooikoos ·

En op haar Faceboek blad was sy die ene trane en verlange na die man wie sy vermoor het.

ES ·

Ek dink net aan die arme kinders… hulle moet nou grootword met die wete dat hul ma die eintlike rede is hoekom hul pa nie meer daar is nie. Selfsug, wellus en geld is die wortel van alle kwaad.

JohanR ·

Arme Leon het nie ‘n kaans gestaan nie! Sy sal genoeg tyd oor 120 jaar in die tronk om te DINK! Het iemand al ooit met ‘n huur moord weggekom? Ek kan aan ‘n paar in SA dink maar elke keer praat iemand, of die speurders kry hulle man/vrou.

Juffrou ·

Wat ń ongure karakter is sy. Arme kinders is beter af sonder haar. Net 30jr oud en reeds só boos.

Estelle ·

Denton Nienaber, ek het nuus vir jou … jy gaan nou nog BAIE langer vir jou minnares moet wag.

koos ·

Dis ‘n klad ook op haar ouers se naam – hulle het geweet maar ge-sjarrap! Skande, sies man!
Aangaande die voorgestelde tronkstraf in hierdie groep – julle het veel hoop. Dis die cANCer paradys in die land, tronkstraf is van korte duur en iets om met trots op jou CV te sit en daaroor te lag tydens jou volgende braai. Wat ‘n siek samelewing!
RIV Leon.

Marisa W ·

Sy wou nie skei nie want dan sou sy waarskynlik net 50% van die bates gekry het – sy wou 100% en die lewenspolisse hê – en daarom gaan sy nou met haar gat in die tronk sit.

Pieter J ·

Hierdie vrou laat my dink aan die liedjie van Trini Lopez. “If you want to be happy for the rest of your life don’t make a pretty woman your wife”. Duidelik was daar ń hele paar mans wat haar nie kon weerstaan nie.

twaalfboor ·

Neewat, dit was glad nie haarfyn beplan nie. Net “beplan” ja. Die hele “rëeling” was maar lomp en pateties. Dis tipies die geval van “i know somebody, who know somebody, who killed somebody”. Hopeloos te veel rolspelers om ń moord stil te hou. Dis soos ń staatskommisie wat aangestel word…… DIT GAAN FLOP.

Kirst ·

Toe ek in my 20’s was en ‘n baie mooi meisie gehad het, het ‘n oom wat ek goed geken het vir my gesê dat ‘n mooi vrou almal se vrou is. Dit lyk my hy was in hierdie geval reg. En dan was sy kamstig bang oor wat dit aan haar kinders sal doen as sy skei, maar was besig om meer as een kat in die donker te knyp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.