Vrou vrees ‘die ergste’ toe rowers by gastehuis toeslaan

Die gastehuis is op die Coppull-private natuurreservaat by Stanford geleë.
(Foto: Verskaf)

“Dis nie soseer die voorval sélf wat my angsbevange maak nie, maar die gedagte oor wat moontlik kon gebeur het.”

Só sê Naomi Herselman, ʼn sakevrou wat Vrydagaand saam met 12 ander mense, onder wie twee jong kinders, by ʼn gastehuis naby Hermanus oorval, vasgebind en beroof is. Die gastehuis is op die Coppull- private natuurreservaat by Stanford geleë.

Tydens die roof het die verdagtes Herselman se lewensmaat met ʼn tou probeer wurg en die vroue het gevrees dat hulle verkrag kan word.

Die vier rowers, almal met klapmusse op, is met onder meer R20 000 kontant, selfone, duursame juweliersware, drank en selfs oorskietgarnale vort.

Dit voorval het ongeveer 20:30 plaasgevind, kort ná Herselman se lewensmaat, Derek Crabtree (60), en sy seun, DJ (27), vir die gaste gekook het.

Die plek waar die slagoffers aangehou is. (Foto: Verskaf)

Die paartjie ken die gaste en het op die betrokke aand saam met hulle geëet. Dit was ook die eerste keer in drie maande dat gaste dié versteekte huis gehuur het.

Herselman en die Crabtree’s bestuur die gastehuis en is in die proses om dit te restoureer. Die huis behoort aan ʼn paartjie wat in Engeland woon.

“Ek het in die oopplankombuis gestaan toe drie van die rowers skielik verskyn het.

“Die een rower het ʼn vuurwapen, wat soos ʼn selfgemaakte geweer gelyk het, in die lug gehou terwyl die ander mans elk met  ʼn skerpgemaakte skroewedraaier en swaar koevoet gewapen was.”

Herselman, wat in ʼn huis op die dorp woon, sê sy het kort voor die voorval gereedgemaak om te ry sodat sy die aandklokreël kan eerbiedig.

“Ek sidder om te dink wat sou gebeur het as ek buite teen hulle vasgeloop het.”

ʼn Vierde aanvaller het hom later by sy makkers aangesluit.

Herselman sê die rowers het hulle hande styf met skoenveters vasgebind en almal in een vertrek laat sit. ʼn Tweejarige kleuter was in dié stadium reeds in die bed en die 10-jarige kind is nie vasgebind nie.

“Hulle het toe juwele, selfone en dies meer begin eis. Hulle wou ook weet waar die kluis en die geld is, maar ons het verduidelik dat niemand permanent in die huis woon nie en ons hulle dus nie daarmee kon help nie.

Die gastehuis is versteek. (Foto: Verskaf)

“Toe hulle ons beveel om op te staan, het ek werklik gedink hulle gaan ons skiet. Ek was ook vreesbevange dat hulle ons [die vroue] gaan verkrag, veral toe hulle die mans in ʼn stadium na die badkamer geneem het om hulle toe te sluit. Omdat dit ʼn familiegastehuis is, is daar egter nie sleutels aan elke deur nie.”

Volgens Herselman het die rowers Derek na ʼn ander vertrek in die huis geneem waar hulle hom met ʼn tou probeer wurg het.

“Die tou het egter gebreek. Een van die rowers het hom toe beveel om sy belt af te haal waarop die ander een geantwoord het: ‘Los dit net.’”

Herselman sê sy het die ergste verwag en is steeds bang.

“Ek kon die koerantopskrifte al visualiseer.

“My suster, Megan, is destyds [2006] tydens ʼn kaping vermoor en ek het nooit gedink ek sou dieselfde pad stap nie – en hier word ek daarmee gekonfronteer.”

Sy sê die gebeurtenis was vir almal uiters traumaties.

Vanweë die manier waarop hulle al die gesteelde goedere ingepak het, vermoed Herselman dat die rowers te voet was.

“Hulle het ook drank en sjokolade uit die oorspronklike geskenkboksies gehaal en dit in ʼn sak gegooi. Hulle was selfs kieskeurig oor watter drank hulle wou vat en het verskeie bottels oopgemaak om eers daaraan te ruik.”

Herselman sê een van die gaste het haar trouring ingesluk om te verhoed dat dit ook gesteel word terwyl ʼn ander gas stilletjies sy egte Rolex-horlosie afgehaal en weggesteek het. Herselman het sowat R20 000 kontant in haar beursie gehad omdat sy vroeër probleme met haar aanlyn bankdienste ervaar het en belangrike betalings moes afhandel. Dít, asook ʼn hangertjie ter waarde van R45 000, is gebuit.

Een van die veters waarmee ’n slagoffer se hande vasgebind was. (Foto: Verskaf)

Die rowers het gevlug sonder om een van die nege motors in die oprit of die motorsleutels te steel.

“Gelukkig het een van die gaste sy selfoon op ʼn hoë kas neergesit, so dit is nie gesteel nie. Ons kon dit darem gebruik om die polisie te ontbied.”

Herselman sê die polisie en plaaslike AfriForum-veiligheidseenhede was uiters behulpsaam.

“Hulle was binne 10 minute op die toneel en AfriForum het ook wagte gereël om oor die perseel te waak. Hulle het my tot by die huis vergesel.

“Die volgende dag was die polisie se K9-honde-eenheid ook daar.”

Volgens kol. André Traut, polisiewoordvoerder, word die saak tans ondersoek.

“Niemand is tydens die voorval beseer nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Herselman sê die les wat ʼn mens hieruit moet leer, is om altyd paraat en voorbereid te wees, ongeag hoe veilig jy voel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Duck

Ek is juis so lief vir afgeleè plekkies, maar dit is die risiko wat jy neem.

Blomme

So jammer dat ons nog op ń wegbreek ook bedag moet wees teen geweld. Watter voordeel hou dit vir toerisme in?

Mariana

Nee skelms slaan toe net waar hulle kan en die spul moes geweet het dat hulle daar ongestoord hul daad sou kon pleeg. Dan is hulle nog kieskeurig ook soos wafferse drank eksperts. Arrogant die is hulle. Genadiglik het daai tou gebreek en niemand is ernstig beseer nie.

marius

SSG

Casper

Hoed se mense.