Hof hoor vrou was ‘getraumatiseerd’ toe sy kleuterlykie aantref

Courtney Pieters.

Een van die staatsgetuies in die opspraakwekkende moord-en-verkragtingsaak van Courtney Pieters wat in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor is, het tydens die jongste verrigtinge gesê sy was erg getraumatiseerd toe sy die jong Pieters se liggaam onder ʼn boom aangetref het.

Pamela Schultz, ʼn lid van die buurtwag van Delft in Kaapstad, het emosioneel in die getuiebank geraak toe sy in die hof oor die voorval gepraat het.

“Ek het die kind se liggaam by die treinspore waar ek gesoek het, aangetref. Halfdroë boomtakke was bo-op haar liggaam geplaas. Ek kon van haar onderlyf tot haar voete sien en het onmiddellik geweet dit is sy omdat haar ma ʼn behoorlike beskrywing gegee het oor die klere wat sy aangehad het toe sy verdwyn het.

Schultz het gesê sy was erg getraumatiseerd, veral omdat sy in dié stadium alleen was. Volgens haar was die groeplede tydens die soektog versprei.

“Ek het vir ʼn rukkie gaan sit omdat ek baie emosioneel was,” het sy gesê. “Dit was presies 13:30 toe ek haar liggaam aangetref het. Ek was baie naby aan haar liggaam toe ek haar die eerste keer opgemerk het. Ek het basies net gedraai en toe gesien sy lê daar.”

Mortimer Saunders wat verdink word van die moord op die driejarige Courtney Pieters Foto: Twitter

Mortimer Saunders, wat destyds ʼn kamer in die huis van Pieters en Courtney se pa, Aaron Fourie, gehuur het, het vroeër in die hof in ʼn beëdigde verklaring erken dat hy Courtney op 4 Mei 2017 in haar ouerhuis in Elsiesrivier miergif ingegee en toe verwurg het.

Hy het egter onskuldig gepleit op aanklag van verkragting en voer aan die moord was nie met voorbedagte rade nie. Die staat het dié skuldbekentenis verwerp en gesê die moord is wel met voorbedagte rade gepleeg.

Nadat Saunders se regspan vroeër dié week hul kruisondervraging van Pieters afgesluit het, het Saunders sy regsverteenwoordiger gevra om vir Juanita Pieters, Courtney se ma, te sê hy is jammer oor wat hy gedoen het. Pieters het eers lank stilgebly voordat sy reguit na Saunders gekyk en gesê het: “Ek het Mortimer vergewe, maar ek sal [dit] nooit vergeet nie.”

Die verhoor is uitgestel tot 6 Junie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

GM ·

Ek sou hom nie kon vergewe nie. Hoeveel moordenaars is regtig jammer oor die dade wat hulle gepleeg het? Hul kry ligter strawwe as hul berou toon, dis maar waaroor dit gaan. Daar kan nie ‘n greintjie menslikheid in ‘n persoon skuil wat dít aan ‘n kind kon doen nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.