Vrou wat baas deur FB, e-posse teister binnekort gevonnis

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

‘n Voormalige kandidaatprokureur by ʼn vooraanstaande regsfirma in Kaapstad sal volgende maand gevonnis word nadat sy die internet en sosiale media gebruik het om haar bestuurder “te verneder”.

Pravina Walabh (33) sal gevonnis word op 24 aanklagte van bedrog, vyf vir die uitstuur van valse inligting op die internet met die doel dat mense daarop reageer, drie aanklagte van crimen injuria en een aanklag van intimidasie. Sy sal ook gevonnis word op een aanklag vir die oortreding van die Wet op Kommunikasie en die voorsiening van kommunikasie-verwante inligting, wat verband hou met die onregmatige toegang tot of onderskepping van data.

Walabh, wat as ʼn “kuberbekruiper” beskryf is, het Dinsdag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Bellville voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn.

Die hof het vroeër gehoor Walabh was as ʼn kandidaatprokureur gretig om hofverrigtinge by te woon, maar haar bestuurder het telkens die sake aan ander kandidaatprokureurs toegestaan. Dit het Walabh kwaad gemaak.

Volgens die klagstaat het Walabh valse Facebook-profiele opgestel waarmee sy haar bestuurder en sy verloofde gekontak het. Sy het ook op die internet aangedui die paartjie stel belang in “volwasse aktiwiteite” en het ook hul kontakbesonderhede verstrek. Gevolglik het vreemdelinge wat die inligting op sosiale media gesien het, die paartjie genader en vir hulle boodskappe en foto’s gestuur.

Walabh het ook glo probeer om aanlyn vriende te word met die slagoffers se vriende op Facebook. Sy het ook lukraak webwerwe besoek en die twee slagoffers op honderde e-posnuusbriewe ingeteken. Walabh is in September 2012 in hegtenis geneem, waarna die slagoffers nie weer e-posse ontvang het nie. Die landdros het bevind die enigste redelike gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat Walabh vir die e-posse verantwoordelik was.

Staatsaanklaer Juan Agulhas het die hof versoek om Walabh tronkstraf op te lê, maar Rheaz Khan, Walabh se regsverteenwoordiger, het gesê ʼn boete tesame met korrektiewe toesig wat huisarres kan insluit, sal in belang van geregtigheid wees.

Agulhas het gesê dit is vreemd dat ʼn “jong, mooi en intelligente” vrou soos Walabh so iets sou doen. Hy het aan die hof gesê sy was nie ʼn vrou wat te na gekom was nie. Die twee slagoffers was diep verneder “en ʼn mens kan jou net indink watter pyn en wroeging hulle moes deurmaak”.

Die verdediging het toegegee dat die oortredings oor ʼn tydperk van nege maande, van Januarie tot September 2012, gebeur het. Hy het egter aangevoer hoewel die slagoffers getraumatiseerd is deur die gebeure, het Walabh aan hulle en hul families om verskoning gevra. “Dit is die eerste stap tot rehabilitasie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos1 ·

‘n Boete en korektiewe toesig in belang van geregtigheid. Geregtigheid vir wie? Net haarself! Sy het amper lewens verwoes met haar leuens. Ek hoop sy mag nooit weer as prokureur werk nie.

Etiek ·

Ek hoop sy is geskrap van al wat opsie is om as prokereur te praktiseer? Of maak dit haar juis die perfekte kandidaat vir hierdie land se “regstelsel”?

Corne ·

Ek gaan deur dieselfde word deur fb en oproepe en e posse geteister deur n persoon bekend aan my die man daag tot op by my werk en huis. Bly om te sien mens kan iets doen aan dit.

Scalla ·

Nog nie eers gekwalifiseer nie en begin al klaar met skelm streke, skrap klaar van die rol nog voor sy daarop verskyn

Pietiepol ·

Sy mag vir seker nie praktiseer as prokureur nie. Sy kan nie in so ‘n verantwoordelike posisie diens lewer nie. NS ek vermoed ook iemand wat ‘n wrok teen my as werkgewer het, het my adres aan verskeie rommelpos maatskappye gegee. Is daar ‘n manier hoe mens dit kan bewys?

Boelie ·

Miskien is haar baas ook ‘n boelie soos myne. Glo my mense, dis loutere hel om onder so ‘n mens te werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.