Vrou wat bejaarde onthoof, ‘wou van kleins af moor’

Sandra Malcolm. Foto: mirror.co.uk

WAARSKUWING: Die besonderhede in die berig is uiters grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die jong vrou wat op 18-jarige ouderdom ʼn bejaarde vrou van Kaapstad onthoof en haar lyk opgesny het, het reeds van kleins af daaraan gedink om iemand te vermoor.

Só het ʼn kliniese sielkundige vandeesweek in die hooggeregshof in Kaapstad getuig.

Sheree Prince, nou 21 jaar oud, staan tereg vir die moord op Sandra Malcolm (74). Prince het in April 2015 by Malcolm, ʼn Skotse burger, se huis in Lakeside ingebreek. Malcolm het haar glo betrap, maar Prince het aangevoer sy soek hulp omdat sy haar voet gebrand het. Malcolm het Prince gehelp om haar voet te behandel en Prince het Malcolm verskeie kere met ʼn mes in die bors gesteek.

Daarna het sy vir Malcolm onthoof, haar ledemate afgesny en van haar ingewande verwyder.

Prince is aangekla van moord, huisbraak en diefstal. Sy het skuld beken op aanklag van moord, maar skuld ontken op die ander twee aanklagte. Sy is in Maart vanjaar skuldig bevind op al drie aanklagte.

Vonnisverrigtinge het vandeesweek begin en Prince het emosieloos in die beskuldigdebank gesit terwyl die getuienis aan die hof voorgehou is. News24 berig Willie Hanekom, ʼn kliniese sielkundige, het getuig Prince het aan hom gesê dat sy al van kleins af iemand wou doodmaak. Volgens Hanekom toon Prince tekens van psigopatie.

Hanekom het verder getuig indien Prince nie in hegtenis geneem is nie, sou sy voortgegaan het met haar dwelmmisbruik en hopelose bestaan. Indien sy dan onder genoeg druk geplaas sou word, is dit waarskynlik dat sy nog ʼn moord sou pleeg.

Kapt. Marius Joubert, ʼn forensiesemisdaadtoneelkenner en bloedspatselontleder, het tydens die hofverrigtinge getuig Malcolm het waarskynlik van haar beserings in die kombuis opgedoen. Na aanleiding van die bloedspatsels het sy waarskynlik gestaan toe sy die eerste keer gesteek is, en kon sy lank genoeg staande bly vir baie bloed om op die vloer te drup voordat sy inmekaargesak het. Sy is daarna nog verskeie kere gesteek.

Malcolm is daarna van die kombuis na die woonkamer gesleep en volgens Joubert moes sy in dié tyd steeds gelewe het. Sy is in die woonkamer weer met die mes gesteek, voordat sy uit by die voordeur en na die binnehof van die huis gesleep is. Dit is vermoedelik daar waar haar liggaamsdele verwyder is.

Die staat voer aan in sy betooghoofde dat Prince swaar vonnisse opgelê moet word en dat daar geen buitengewone omstandighede bestaan hoekom daar van die minimum vonnis vir die oortredings afgewyk moet word nie.

Die staat het die hof daarop gewys dat die moord beplan was en met voorbedagte rade uitgevoer is. Volgens die staat hoef Prince se jong ouderdom ten tyde van die misdade nie noodwendig as versagtende omstandighede geag te word nie, aangesien die “bose aard” van haar dade die moontlikheid van onvolwassenheid uit die weg ruim. Die staat meen hierdie boosheid word weereens weerspieël deur die feit dat Prince die dade vooraf beplan het.

Die staat het ook aangevoer die feit dat Prince erken het sy het die moord gepleeg, dien ook nie werklik as versagtende omstandighede nie, aangesien die saak teen Prince so sterk was dat sy nie regtig ʼn ander keuse gehad het as om skuld te beken nie.

“Dit bly ʼn raaisel hoekom die beskuldigde voortgegaan het om te beweer dat sy onskuldig is op die aanklag van huisbraak en die beskuldiging dat sy die oorledene talle kere gesteek het, ondanks die oorweldigende bewyse teen haar.”

Volgens die staat is Prince se kans op rehabilitasie skraal aangesien sy geen berou vir haar dade getoon het nie. Hoewel ʼn brief van Prince in die hof voorgelees is waar sy Malcolm se familie om vergifnis vra en aanvoer dat sy verantwoordelikheid vir haar dade neem, wys die staat daarop dat Prince nooit persoonlik buite die hofverrigtinge vir Malcolm se familie om verskoning gevra het nie.

“Die brief dui ook nie aan dat sy berou het nie. Sy vra om verskoning vir haar dade, maar het skynbaar ʼn verwagting dat sy bloot vergewe moet word en plaas sodoende die verantwoordelikheid op die familie van die oorledene om moreel op te tree. Daar kan net redelik afgelei word dat die beskuldigde slegs die brief aan die hof voorgehou het om tot haar eie voordeel te strek en die hof te mislei om te dink dat sy berou het.”

Die staat het die hof versoek om Prince tot lewenslange tronkstraf te vonnis op aanklag van moord en die maksimum vonnisse vir die ander twee aanklagte op te lê.

Die vonnisverrigtinge sal op 29 Junie hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Annie ·

DOODSTRAF !!!!!! dis al wat sy kan kry – bring dit terug.

Iché ·

Hul moet haar ASB. tog nie in ‘n Staats Psigiatriese hospitaal/-saal plaas
(as alternatief vir die tronk) nie.
Ek weet van blote kinders en jong volwassenes wat bv. aan
enkele episode- depressie ensomeer ly, wat saam met sulke psigopate in een kamer beland het..!
Alle sterkte aan die tronkbewaarders. Moet ‘n ongelooflike stresvolle werk wees!

LVH ·

Ai, wat word van die mensdom! Sy moet uit die samelewing verwyder word. As sy van jongsaf al die drang gehad het om te moor, gaan sy nooit ooit rehabiliteer nie.

Alida ·

Dit is gross !!!! Skandelik en verdien niks minder as 50 jaar nie.

Piet ·

Alida as sy net 50 jaar kry is sy 70 as sy uit kom – sy sal steeds ‘n byl kan swaai!

GM ·

Ai Annie, hulle kan nie die doodstraf terugbring nie, want dubbele standaarde word in S.A. toegepas.

Herman ·

Doodstraf is nie die oplossing in die land nie. Jy sal kan hang vir die k woord..

jaco ·

Waarom verhuis jy vanaf veilige eerste wêreld Skotland na onveilige SA met die hoogste misdaad ter wêreld?

Elgin Gottowik ·

Meeste mense van Europa kom weens die goeie weer in S.A. Ek het Namibia en Suid Afrika verlaat lank gelede in 1982, maar ek kan vir julle sê, gelukkig is ek nie in Duitsland nie. Geen son, meeste tyd koud en so veel mense. Nêrens kan jy bietjie alleen wees nie.

Erika ·

Sluit toe en gooi die sleutel weg. Sy behoort nooit vir parool in aanmerking te kom nie.

Helen ·

Liewe Hemel! Wat gaan aan met die mensdom!!??? Het almal nou kop verloor?? Elke dag wat jy die nuus oopmaak is dit of roof, moor, plunder, brand, afbreek of korrupsie. Dit hou nie op nie… Jy word summier vir die lus daarvan vermoor of geskiet vir ‘n selfoon…

Ek as onderwyser probeer nog die beginsel van respek en liefde vir ander by my leerders inboesem, maar indien dit nie tuis ook toegepas word, maak dit amper geen verskil. Iewers het iets vreesliks verkeerd verloop dat die jonge dame wou moor…

Ongeag, ek glo nie ons moet gaan lê, ons moet opstaan en baklei vir liefde, vrede en verdraagsaamheid in ons wêreld. Veral by ons jeug. Hul is immers die toekomstige leiers van ons land. Sonder hierdie basiese waardes kan ons onmoontlik nie hoop op ‘n toekoms vir hul.

petro ·

Moes sy ook nie angekla word van “liggaamskending” nie?
Ek dink sy moes baie sterk gewees het om sommer ledemate af te sny en alles. Nee hel dis erg

Theresa ·

Watter angs moes die bejaarde nie deurgaan nie?
Wreedaard.

Nicole ·

Eienaardig!
Beskuldigde erken skuld op hierdie uiters grusame moord maar die saak duur voort ná 3 jaar????
Slegs in SA??

help ·

Dis nou twee dames wat vermoor is terwyl hulle in die geval besig was om die moordenaar te help met haar beserings en die ander dame wat met uitgestrekte hande na die skoolkinders gaan wat sy ken en dan vermoor word vir WAT?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.