Vrou wat eksman wou vergiftig gevonnis

hof-hamer

Argieffoto.

ʼn Vrou van Middelburg in Mpumalanga wat haar voormalige man probeer vermoor het deur hom gif in te gee, is in die Middelburg-streekshof gevonnis.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, het gesê Louisa Petronella van Niekerk (41) is skuldig bevind aan poging tot moord en sameswering tot moord. Sy is ses jaar tronkstraf vir die eerste aanklag opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is. Vir die tweede aanklag is sy tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, wat vir vier jaar opgeskort is. Sy is ook tot 30 maande korrektiewe toesig gevonnis.

Van Niekerk het op 28 Oktober 2015 ʼn man genader en gevra of hy haar eksman, Daniel Tredaux van Niekerk, kan vermoor. Volgens Sekgotodi was Van Niekerk en haar man reeds geskei, maar het hulle steeds saam in ʼn huis gewoon. Die man het dadelik die Valke in kennis gestel en ʼn geheime operasie is saamgestel om Van Niekerk vas te trek.

ʼn Paar dae later het Van Niekerk die “huurmoordenaar” en ʼn geheime agent van die polisie ontmoet om saam ʼn plan vir Daniel se moord te beraam. Tydens die ontmoeting het Van Niekerk aan die mans gesê sy het voorheen Temik, gif algemeen bekend as “Two Step”, in haar eks-man se koeldrank gegooi in ʼn poging om hom te vergiftig. Hy is egter na ʼn hospitaal geneem en het die voorval oorleef.

Sy het die twee “huurmoordenaars” R100 000 elk vir die moord belowe wat sy aan hulle sou betaal sodra Daniel se lewenspolisse aan haar uitbetaal is.

Op 30 Oktober het Van Niekerk die geheime polisieagent na haar huis geneem waar sy hom ʼn afstandbeheerder vir die hek en ʼn sleutel gegee het om die volgende dag in te kom en die moord te pleeg. Die owerhede het egter die volgende dag op die huis toegeslaan en Van Niekerk is in hegtenis geneem. Die beamptes het ook ʼn bottel gif gevind wat in die kas in Daniel se kamer versteek was.

Genl.maj. Zodwa Mokoena, die hoof van die Valke in Mpumalanga, het die ondersoekspan geloof vir hul goeie werk en toewyding om ʼn skuldigbevinding te verseker. Mokoena het gesê hy hoop die vonnis sal as ʼn waarskuwing vir potensiële oortreders dien.

In ʼn soortgelyke voorval is Maria Ferreira (53) verlede maand ook in Mpumalanga in hegtenis geneem nadat sy na bewering ʼn polisiebeampte betaal het om haar man, Carlos Ferreira (55), te vermoor. Sy is in hegtenis geneem voordat die beweerde beplande moord uitgevoer kon word.

Ferreira sal weer op 2 Mei in die Witrivier-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

linda ·

genade tog mens kan niemand meer vertrou

plaas doen hulle die vuilwerk self!

Pop ·

Skokkende vonnis. Wat wil die regter doen. Alle vroue toestemming gee om hulle mans te vergiftig.

Lou ·

Kry sy sowaar net ‘n opgeskorte vonnis vir poging tot moord??? Dit sal nie as afskrikmiddel dien nie.

Charmaine Coetzee ·

as n persoon n probleem het met oemand is dot nie nodig om te wul moor nie gaan sien dan n psgiater en kom oor jou probleem hier is genoeg moord en verkragting diefstal en alles in hierdie land!!!!

Scalla ·

Was net agter die polisgeld aan, te lig gestraf, nou kry sy niks, shame

CHRISTA ·

Ons regstelsel is ‘n groot klug!! En dan kan ‘n verstaan hoekom misdaad oorhand in ons land kry!! Wat verwag ons as iemand wat 2 maal vir poging tot moord skuldig bevind is, net ‘n opgeskorte vonnis kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.