Vrou wat gevangene besoek met dwelms betrap

(Foto: Verskaf)

’n 36-jarige vrou is Dinsdag aangekeer nadat sy in besit van dwelms in die Bethal-gevangenis in Mpumalanga betrap is toe sy vir ’n gevangene gaan kuier het.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, is Lorraine Nomsa Makhubele met haar aankoms by die tronk – volgens prosedure – deur ’n tronkbewaarder deursoek. ’n Swart plastieksak is versteek onder haar onderklere gevind.

“Daar is gevind dat die plastieksak gevul is met 59 verskillende soorte tablette, asook 20 klein plastieksakkies en ander middels, onder meer fyngedrukte blare en ’n plastiekbottel wat olie bevat,” sê Mohlala.

Dit is vasgestel dat die tablette en ander middels dwelmmiddels is.

Die polisie is na die toneel ontbied waar Makhubele in hegtenis geneem is.

(Foto: Verskaf)

“Die sak en middels is vir forensiese ondersoek gekonfiskeer. Die straatwaarde van die beweerde dwelms word op sowat R6 000 geraam.”

Die ondersoek dui daarop dat die items vir ’n gevangene, wie se saak nog ondersoek word, bestem was.

“Die polisie en tronkbewaarder het glo na die gevangene se bed gegaan en dit deursoek. ’n Bykomende plastieksak met dagga is gevind.”

Die gevangene staan ook tereg op ’n aanklag van die besit van dagga en hy sal binnekort in die hof verskyn.

Makhubele het Woensdag in die landdroshof in Bethal verskyn op aanklag van die onwettige besit van dwelms.

“ʼn Moontlike aanklag van dwelmhandel kan bygevoeg word soos die ondersoek voortduur. Tydens haar hofverskyning is die saak tot 5 Oktober uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek. Sy bly tot dan in aanhouding.”

Lt.genl. Semakaleng Daphney, provinsiale polisiekommissaris van Mpumalanga, het die gevangenis geloof vir hul oplettendheid en vir die inhegtenisneming sowel as die beslaglegging op die items.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Dis n ou trick in die boek om n vrou te gebruik om dwelms te smokkel.Word nie sommer deursoek nie en sy kan voorstelle maak aan beamptes.So floreer misdaad in tronke.

Nick ·

Dagga in sy sel binne die tronk? Is die Gevangenisdiens ook nou ‘gecapture’ of is dit maar net slapgat bewaarders??

Manie ·

In hierdie geval was dit ‘n skerp bewaarder wat dit tydens ondersoeking, ontdek het.

Debby ·

Bewaarders se hande is afgekap want die gevangene het meer regte as hy

Christine ·

Dagga is nie die probleem nie. Dis dwelms soos tik en cocaine wat die probleem is en hoogs verslawend is.

Herman L ·

Hulle moes die vrou sommer daar gehou het. Sy het nie gegaan om iemand te help nie. Sy is deel van die probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.