Vrou wat haar as regskenner voordoen agter tralies

Brenda Wardle. Via ANA

ʼn Beweerde kamma-prokureur wat vir lank as ‘n “regskenner” vir sommige mediahuise opgetree het en onder meer ’n analise oor die Oscar Pistorius-saak verskaf het, is in hegtenis geneem.

Die vrou, Brenda Wardle (56), het Maandag in die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in Port Elizabeth verskyn waar sy tereg staan op aanklag van bedrog ter waarde van nagenoeg ʼn half miljoen rand.

Die sogenaamde regsontleder en skrywer is in Junie in Oos-Londen in hegtenis geneem nadat sy vir langer as ‘n jaar die reg ontduik het.

Wardle het bekendheid verwerf toe sy internasionale regsanalise verskaf het tydens die opspraakwekkende moordverhoor van Pistorius. Sy het ook gereeld op televisieprogramme van die SAUK en die BBC verskyn om regsanalise aan kykers te verskaf.

Op haar Facebook-blad meld sy onder meer dat sy verskeie boeke oor hofsake, waaronder dié van die Britse sakeman Shrien Dewani, geskryf het.

Wardle is uiteindelik aangekeer en het Maandag in die hof verskyn waar sy aangekla word dat sy glo voorgegee het om ʼn prokureur te wees en haar “dienste” aan ʼn veroordeelde moordenaar aangebied het.

Volgens die staat is Wardle tussen April 2009 en Augustus 2013 R538 766 betaal om Stephanus van Aardt, ʼn Oos-Kaapse melkboer van Somerset-Oos, te help met sy vroeë vrylating op parool.

Van Aardt is in 2007 skuldig bevind en tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die aanranding en moord op ʼn 15-jarige seun, Eliot Magabane. Van Aardt het Eliot in Februarie 2006 met sy vuiste aangerand, hom geskop en met sy stewels op hom getrap. Die seun is ook met ʼn graaf aangerand. Eliot het verskeie beserings, waaronder ʼn breinbesering en gebreekte ribbebene, opgedoen en is die volgende maand dood.

Die staat beweer Wardle het gemaak asof sy ʼn prokureur is en kon nie die aansoek vir Van Aardt se vroeë vrylating voorlê nie. Van Aardt was verder ook nie in aanmerking om sy gevangenisstraf te omskep nie.

Wardle, wat haarself verteenwoordig, het ʼn vorige veroordeling van bedrog.

Staatsaanklaer Tjaart van Zyl het haar borgtogaansoek teengestaan op grond van Wardle se patroon om hofverskynings van soortgelyke sake te ontduik.

Die saak is tot 27 Julie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Genieve ·

Kan jy glo hoeveel is nog daar buite met dieselfde as bogenoemde.

johnny_walker ·

wat is so snaaks hieraan , almal in die staatsdiens hou hulself voor as iets wat hulle nie is nie , vat maar ons president , hy het nie eers std 6 nie

Desiré ·

Stem Johnny! Dink nou weer aan die 20 jarige wat onlangs aansoek gedoen het vir ‘n betrekking as ‘n Kardioloog! Dis angswekkend! ???

Chris ·

Plaas die blaam op die organisasies. Hulle vreet alles vir soetkoek op en glo die skurke/boewe en swendelaars. Kyk na jou gaste en aanbieders en sg kenners.

Koos1 ·

Nou waar gaan die land heen as jy nie eers meer ‘n prokureur kan vertrou nie!!!!????

BOESMAN ·

Sjoe Koos1, van wanneer af kon mens hulle enigsins voorheen vertrou??

Louis ·

Die gesprek gaan nie oor prokureurs wat volgens wet in n Hooggregshof aangestel is nie, maar oor die “sogenaamde prokureurs” wat hulle onwettig voordoen as prokureurs

Theresa ·

Ai. Lyk my TV-programme beïnvloed party mense regtig vreeslik. Vermoed hul probeer dan ‘n rol waarvan hul baie hou, in die lewe uitspeel. Erg.

Eish ·

Dalk was Brendatjie se “struggle credentials” bo verdenking vir Mnr. Motsoaneng.

Johnny ·

Gee vir haar ‘n rol in Sewende Laan. Sy is duidelik BAIE oortuigend…..

Johann cb ·

Kan só ‘n vals analise van die Pistorius-saak beteken dat hy vroeër vrygelaat word? Ek sal dit nogal verwelkom!
Miskien moet Adv Gerrie Nel die ontleding her-evalueer…

Robert ·

‘n Halfmiljoen rand… Dit is skreeusnaaks! Sy moes BAIE meer gevat het, dan was sy vry. Kyk na die anc se president. Hy het baie meer skade aangerig en hy is vry?

Jan ·

Stem saam. Dis soos SARS. Moet NOOIT R 5000 skuld nie, want hulle gaan jou verwoes. Skuld hulle R 5 miljoen, dan onderhandel hulle met jou. :-(

Sarel Strydom ·

Niks snaaks. Onthou die vrou wat paar jaar terug as Mediese Dokter gepraktiseer het?

Davoz ·

Imagine hoeveel van die MP’ en ministers en die in gesiene staats poste sit met vals credentials wat deur die guptas verkoop is aan hulle. ?

Deon ·

Hoekom vir Brenda toesluit, sy volg die voorbeeld wat daar gestel word en was vindingryk genoeg om van die geleenthede wat daar beskikbaar gestel word gebruik te maak. Die vrou het inisiatief….LOL…. , plaas hulle haar n pos in die Regering offer….sy pas tog so mooi daarin. Kan darem nie almal onder dieselfde kam skeer Re: Standerd 6 nie, Tony Factor was disleksies en het as ek reg kan onthou ook baie vroeg skool verlaat. Hy het egter n skatryk sakeman geword. Dit is egter nie van toepassing op almal wat vroeg skool verlaat dat ieder en elk oor die vermoee beskik tot sukses binne die besigheids wereld en of die bestuur van n land nie. Al skenk Universiteite gratis Grade, beteken daai stukkie papier “Niks” as die “Capability nie daar is nie. Snaaks dat ons nog nie ” Medalje Parades” moet ervaar waar erkening aan “Die & Kie” uitgedeel word, wat die land reeds in die “diepste donker gat het en daagliks nog dieper daarin afdruk nie”.

Die vraag wat by my opkom, sommige word vervolg ander nie. Is daar verskillende wetgewings van toepassing op verskillende mense …….die antwoord daarop kan net “Definitief Ja” wees. En ons moet dit respekteer … ????

Annie ·

Waar rapporteer mens sulke mense wat hulle voordoen as prokureurs maar nie is nie?

Landie ·

Annie, by die prokureursorde. Elke prokureur wat mag praktiseer is/moet by hulle geregistreer wees. Selfs al is hulle kandidaat-prokureurs moet hulle deur hulle registreer.

Gladnieverbaas ·

Laat my dink aan die hoogs gekwalifiseerde tolk op Mandela se begrafnis met die hele wereld se kameras hahahaha ha ha haaaa

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.