Vrou wat haarself aan brand steek vertel van dáái dag

Susan van Rooyen van Randfontein (53)

“Dis was nog nie my tyd gewees nie. Ek sal nooit weer my eie lewe probeer neem nie; die Here het ‘n doel vir my op aarde.”

Só het Susan van Rooyen (53) vanuit die brandsorgeenheid by die Leratong- provinsiale hospitaal aan haar oudste dogter, Susan Cloete (35), gesê nadat sy verlede Maandagmiddag in Randfontein, wes van Johannesburg, petrol oor haarself uitgegooi en haar buite ʼn winkel aan die brand gesteek het.

“Sy sterk goed aan en die dokters is tevrede met haar vordering. Ons is ook tevrede met die diens wat sy by die hospitaal ontvang, hulle kyk mooi na haar,” het Cloete dankbaar gesê. “Dit is ʼn wonderwerk dat sy oorleef het. Ek is baie dankbaar teenoor God vir die tweede kans saam met my ma.”

Cloete het gesê haar ma is verlede Vrydag van die ventilator afgehaal en kan nou self eet en praat. Sy het erge brandwonde aan haar gesig, nek en ore opgedoen, waarvoor sy ʼn veloorplanting sal moet ondergaan.

Omstanders kon daarin slaag om die vlamme te stop en sy het net tot by die haarlyn gebrand. “Al haar hare is geskroei, maar haar kopvel is gelukkig nie beskadig nie – dit is deel van die wonderwerk,” het sy gesê.

“Die swelsel in haar gesig begin sak en sy loop selfs rond en wil net huis toe gaan, maar ons vermoed sy gaan nog ʼn rukkie daar moet bly. Buiten die brandsorg wat sy ontvang, ontvang sy ook sielkundige behandeling. Haar gesig gaan nooit weer dieselfde wees nie. Vir eers wil hulle haar verhoed om enigsins in ʼn spieël te kyk aangesien dit haar kan skok. Sy is nog baie emosioneel, maar almal se gebede dra haar.”

Cloete het vroeër verduidelik haar ma is ʼn ruk gelede van haar man geskei en het ’n geruime tyd by haar in hul huis in Randfontein gewoon. Bipolêre gemoedsversteuring is by haar gediagnoseer. Sy het nie gewerk nie en is afhanklik van ongeskiktheidspensioen wat sy ná ʼn rugbesering ontvang.

Sy het volgens Cloete sowat sewe jaar gelede ʼn vriend ontmoet en het op 1 Julie by hom ingetrek. Die dag wat sy gepoog het om haar eie lewe te neem het die twee glo rusie gemaak. “Sy is juis daai dag dorp toe om te gaan werk soek om onafhanklik te wees. Sy was net baie moedeloos omdat sy nie kon werk kry nie, en oor al die omstandighede en emosionele dinge.”

Cloete het gesê die sielkundige het haar gevra of haar ma al voorheen probeer het om haar eie lewe te neem, maar dit was die eerste keer. “Sy het gesê sy hét al daaraan gedink, maar het dit nooit deurgevoer nie. Die sielkundige sê dit is ʼn goeie teken.”

Cloete het gesê haar ma wil graag haar eie blyplekkie hê, maar Cloete het vir haar gepreek en gesê sy moet nou eers daarop fokus om gesond te word. “Ons glo daar sal ʼn uitweg kom. God sorg vir sy mense en daar is ʼn rede hoekom hy haar lewe gespaar het. Selfs my ma sê dit.”

Volgens Cloete is haar ma baie vaardig met haar hande en wil sy graag besig bly. “Van breiwerk, hekel tot houtwerk. Sy help gereeld haar vriendinne uit om nutswerk te verrig en selfs om blokkasies in dreine te verwyder. Sy is baie goed met handwerk en mal daaroor om mense te help. Sy wou besig bly en het ook gehelp om bejaarde tannies se huise skoon te maak; sy wou net ander mense gelukkig maak. Ons dink daaraan om vir haar lappe en verf te kry sodat sy dalk lapverf kan doen en ʼn inkomste daaruit kan maak,” het sy gesê.

Cloete se jonger suster, Norina van Zyl (33), woon in Bethal, Mpumalanga. “Sy gaan die einde van die maand vir ʼn week deurkom en dan sal ons meer met die dokters kommunikeer om die pad vorentoe te bepaal.”

Van Rooyen het Cloete versoek om “baie dankie” te sê vir die mense wat haar lewe gered het en wat vir haar gebid het. “Hou asseblief aan met bid. Hoe meer mense bid, hoe beter is haar kans om ten volle te herstel. My ma het gesê sy sal nooit weer so iets doen nie. Dit is nog nie haar tyd nie.”

  • Mense wat angstig of depressief voel en graag met iemand wil gesels, is welkom om SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep) te kontak. Hulle het opgeleide beraders wat ʼn mens deurgaans kan bystaan. Kontak hulle hier: 011 234 4837 of 0800 20 50 26 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vicky ·

Baie Sterkte vir julle gesin.
Gebruik die 2de kans en leef dit soos die Here jou lei. Ek het my boetie aan selfmoord verloor en wat ek sal gee om hom net weer te sien en styf vas te hou. Ek mis hom na 20 jaar nog elke dag. Bless julle.

Ander Annie ·

Sterkte Susan met jou pad van herstel. Ek hoop jou pad is geseënd en gevul met dit wat jy nodig het. Ek stuur vir jou so in die gees ‘n groot drukkie.

Marianne ·

Baie sterkte vir julle pragtige gesinnetjie….wees verseker dat Vader julle hierdeur sal dra en dat daar nog n groot getuienis hieruit, tot Sy eer, sal kom…!!Gaan asbl aan met die goeie dienswerk aan ander mense en pas jouself mooi op….

miriam horak ·

Ek wil net se: ek kan nooit regtig verstaan as mense iets aan hulle self doen: altyd n diskoers voer en se “dalk het die Here n doel met hul lewe? of as hulle nie meer daar is en die wat agter bly weer se: dit was God se wil. ek noem net , ek is al 15jr bipoler,gebruik geen drank want dit meng in met my chroniese medikasie. ek sien ook gereeld my psigiater. maar dit gaan nie oor my maar oor my vraag wat ek nie kan verstaan. dis die Here se wil ens.

Gesiggie ·

Susan, ek is so verlig om te verneem, dat jy n tweede kans gekry het… dit kon baie erger gewees het, omstandighede in n mens se lewe, laat n mens partykeer moedeloos en dan neem jy besluite waaroor jy patykeer nie beheer het”’ Klou vas aan God se kleed, hou moed, wat ook al die omstandighede, daar is mense wat omgee, daar is iemand wat sal help. Jy is vaardig met jou hande.. God het aan jou n talent gegee… lewe dit uit. Ek is so Dankbaar dat God jou vir jou kinders se onthalwe gespaar het. Sterkte aan jou… mag jy gou hestel, en Mag dit van nou af net beter gaan. God is Good… All the Time… Hy sal jou lei. Als wat mooi is vir jou…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.