Vrou wat haarself aan brand steek wil vertel wat gebeur het

Susan van Rooyen van Randfontein (53)

Susan Cloete (35), die oudste dogter van Susan van Rooyen (53), die vrou wat Maandagmiddag in Randfontein, wes van Johannesburg, petrol oor haarself uitgegooi en haar buite ʼn winkel aan die brand gesteek het, het Saterdag vertel hoe dit tans met haar ma gaan.

“My ma lyk goed. Ek glo sy sal baie gou herstel. Sy sê dankie vir al die boodskappe,” het Cloete gesê.

Volgens Cloete kan haar ma onthou wat gebeur het. “Sy wou ons vertel, maar ons het gesê ons kan môre daaroor praat; ons kon sien sy is moeg.”

Die familie kon vandag vir die eerste keer vir van Rooyen sap en water koop en sy het self ’n bietjie daarvan gedrink. Sy kon selfs in ʼn sagte stem ’n rukkie met hulle gesels. “Sy wil net weet waar is die kleinkinders.”

Cloete het Woensdag aan Maroela Media gesê haar ma is na die brandsorgeenheid van die hospitaal oorgeplaas.

Paramedici van ER24 het haar op die toneel behandel waar sy tussen omstanders op die sypaadjie gesit het. Hulle het pynmedikasie toegedien voordat hulle haar in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas het. Sy het erge brandwonde aan haar kop en gesig opgedoen.

“Dit het ons almal baie onkant gevang. Ek kon my ma gister [Maandag] vir net twee minute sien voordat ek die waakeenheid moes verlaat. Ek was te geskok en kon nie met iemand daar oor haar toestand praat nie, maar haar toestand is bedenklik,” het Cloete toe gesê.

Cloete het verduidelik haar ma is ʼn ruk gelede van haar man geskei en het ’n geruime tyd by haar in hul huis gewoon. Bipolêre gemoedsversteuring is ook by haar gediagnoseer. Sy het nie gewerk nie en is afhanklik van ongeskiktheidspensioen wat sy ontvang ná ʼn rugbesering.

Sy het volgens Cloete sowat sewe jaar gelede ʼn vriend [slegs bekend as Danie] ontmoet en het op 1 Julie by hom ingetrek.

“Sy was op medikasie wat ʼn staatspsigiater in Krugersdorp vir haar voorgeskryf het. Die pille het egter newe-effekte veroorsaak en daar is nuwe pille voorgeskryf. Ek weet sy is met dié pille daar weg toe sy by oom Danie ingetrek het en sover ek weet, het sy haar pille gedrink. Die psigiater wou haar nie in ʼn inrigting laat opneem nie, omdat hulle eers wou kyk of die pille werk. Ons weet glad nie hoe haar gemoed Maandag was of wat tot die voorval gelei het nie.”

Cloete het gesê haar ma was juis Maandag in die dorp om werk te soek. “Dalk was sy net moedeloos en teleurgesteld omdat sy niks kon kry nie. Niemand weet nie.”

Oor Van Rooyen se vaardighede sê Cloete trots dat haar ma baie goed met haar hande is. “Van breiwerk, hekel tot houtwerk. Sy help gereeld haar vriendinne uit om nutswerk te verrig en selfs om dreine te ontblok. Sy is baie goed met handwerk en mal daaroor om mense te help. Sy wou besig bly en het ook gehelp om bejaarde tannies se huise skoon te maak; sy wou net ander mense gelukkig maak,” voeg Cloete by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

c ·

Miskien sal iemand nou vir haar werk gee. Sterkte aan die familie

Bekommerd ·

Is die truitjie wat sy aan het haar eie handewerk? Kan n mens nie probeer wol insamel dat sy voorlopig brei-of hekelwerk doen nie? Dalk kry sy later n meer permanente werk?

hanta ·

duidelik iemand wat geen kennis van brei en hekelwerk het nie. weet jy hor lank duur dit om truitjie soos daardie een te brei? dae. nie ure nie. dan wil mense jou R50 in fie hand stop want jy “dit mos net.”

Juffie ·

Dit is ‘n baie slim idee! Wonder hoe gaan ‘n mens nou te werk as mens so iets wil van stapel stuur?

Linda ·

Hanta, hierdie is ‘n gehekelde truitjie. En dis met lang steke gehekel wat baie vinnng gaan. As sy haarself die heeldag daarmee besig hou, behoort sy so een in een dag klaar te hekel. Hoogstens ‘n dag en ‘n half. Ek weet, ek hekel self.

Marianne ·

Biopolere medikasie het talle nagevolge, dit bots maklik met ander medikasie, soms is men’s so deurmekaar, gespanne of hartseer dat jy jouself onbewustelik oordosseer.
Ek was die afgelope paar jaar by verskeie Staats Hospitaal Psigiaters, elkeen skryf ander medikasie voor, hulle verwys jou na ‘n Kliniek, die Duster het nie daardie medikasie nie en gee jou iets anders….
Jou brein funksioneer nie, jy het wanbelaanse, jy skree binne maar die woorde kom nie uit nie. Jy bid, jy huil, jy bestaan nie meer nie.
Almal vra hoe dit gaan, jy smile en se okay. Party dae is beter as ander, dis waar!!!
Gods verlaat en desperaat, so alleen in ‘n huis vol mense.
SUSAN EK BID VIR JOU – MAG JY NOU DIE REGTE BEHANDELING, VERSORGING EN BERADING KRY….
Mag jou gesin BERADING kry sodat hulle jou kan bestaan, sodat hulle kan verstaan.
MAG JY TENVOLLE HERSTEL GEBROKE VROU, KIND VAN GOD.

Ek verstaan. ·

Ek verstaan Marianne. Ek het ‘n vriend bygestaan in sy uiterste oomblik van nood en is seker dat ek bygedra het om sy kewe te red. Met die korrekte medikasie het hy nog baie jare gelukkig geleef.

"Eksê" ·

Die bybel sê “in die laaste dae sal daar kritieke tye wees wat moeilik is om deur te kom “. Ons weet regtig nie watter verskillende vorms hierdie moeilike tye gaan aanneem nie, maar dit is hier.

elize van zyl ·

Tannie mag jy spoedig herstel en daar baie deure vir tannie oopgaan.

LMF ·

Ek noem jou soma my vriendin en so bly jy het 2de kans gekry nou jou pad voorentoe vind en klou aan God HY sal jou nooit versaak nie sterkte my maaitjie liefde en sterkte

Susan Lambrechts ·

Hierdie is iets wat my so na aan die hart lê. Die mediese fondse bied net die absoluut noodsaaklikste dekking vir psigiatriese medikasie, en ek kan my net indink hoe verskriklik dit moet wees om op die regering te moet staat maak vir dié behandeling. Dit is ‘n skande dat beide wegkom hiermee.

piper ·

sielkundiges neem kennis van neurobion, al die gemorswat voorgeskryf word help nie die oorsaak van die probleem nie.

nhk ·

Die aanvuller wat hannes marais van praat …werk regtig. Het ek dit maar net jare tevore al geweet …kon ek baie geld bespaar het.

Jem ·

NHK sal bly wees as jy die aanvuller se naam vir my kan stuur.
Dankie

Theresa ·

BAIE sterkte. Mag daar ‘n persoon bewus gemaak word vir hierdie ellende en hierdie hele gesin met berading bystaan, sodat die moeder kan baat en dit ook vir hul makliker is. Sonder die nodige kennis hoe om die dame behulpsaam te wees, is dit ‘n probleem. Het al gelees dat sekere kossoorte dinge vererger. Dis ‘n baie goeie plan om handwerk aan te moedig en dit moontlik te maak. Dis ‘n gawe en nie verniet aan haar toegedeel nie. Werkskepping! Iemand wat reeds entrepreneur is om hier in te spring?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.