Vrou wat Kaapstad-bejaarde onthoof gevonnis

Sandra Malcolm. Foto: mirror.co.uk

Die jong vrou wat op 18-jarige ouderdom ʼn bejaarde vrou van Kaapstad onthoof en haar lyk opgesny het, is Vrydag in die Kaapstad-hooggeregshof gevonnis.

Sheree Prince, nou 21 jaar oud, het in April 2015 by Sandra Malcolm (74), ʼn Skotse burger, se huis in Lakeside in Kaapstad ingebreek. Malcolm het haar glo betrap, maar Prince het aangevoer sy soek hulp omdat sy haar voet gebrand het. Malcolm het Prince gehelp om haar voet te behandel en Prince het Malcolm verskeie kere met ʼn mes in die bors gesteek.

Daarna het sy vir Malcolm onthoof, haar ledemate afgesny en van haar ingewande verwyder.

Prince is aangekla van moord, huisbraak en diefstal. Sy het skuld beken op aanklag van moord, maar skuld ontken op die ander twee aanklagte. Sy is in Maart vanjaar skuldig bevind op al drie aanklagte.

Prince is Vrydag lewenslange tronkstraf opgelê op aanklag van moord. Sy het ook drie jaar tronkstraf gekry vir huisbraak en drie jaar vir diefstal. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Vonnisverrigtinge het verlede week begin en Prince het emosieloos in die beskuldigdebank gesit terwyl die getuienis aan die hof voorgehou is.  Willie Hanekom, ʼn kliniese sielkundige, het getuig Prince toon tekens van psigopatie.

Hanekom het verder getuig indien Prince nie in hegtenis geneem is nie, sou sy voortgegaan het met haar dwelmmisbruik en hopelose bestaan. Indien sy dan onder genoeg druk geplaas sou word, is dit waarskynlik dat sy nog ʼn moord sou pleeg.

Kapt. Marius Joubert, ʼn forensiesemisdaadtoneelkenner en bloedspatselontleder, het tydens die hofverrigtinge getuig Malcolm het waarskynlik van haar beserings in die kombuis opgedoen. Na aanleiding van die bloedspatsels het sy waarskynlik gestaan toe sy die eerste keer gesteek is, en kon sy lank genoeg staande bly vir baie bloed om op die vloer te drup voordat sy inmekaargesak het. Sy is daarna nog verskeie kere gesteek.

Malcolm is daarna van die kombuis na die woonkamer gesleep en volgens Joubert moes sy in dié tyd steeds gelewe het. Sy is in die woonkamer weer met die mes gesteek, voordat sy uit by die voordeur en na die binnehof van die huis gesleep is. Dit is vermoedelik daar waar haar liggaamsdele verwyder is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koos ·

Nee. Watse verskil sou dit aan haar vonnis gemaak het? Dit sou neerkom op ‘n duplisering van klagtes.

D V ·

Lelike moorde vind ook deur anders mense as 3de wêreld persone plaas.

Cynthia TREDOUX ·

Ek hoop hierdie barbaarse MOORDENAAR…bly vir die res van haar lewe…AGTER TRALIES!

Oningelig ·

Hoe lank is lewenslank is RSA? Kan iemand parool kry op ‘n lewenslange vonnis?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.