Vrou weer aan hoof van Voortrekkermonument

Foto: Facebook/Die Erfenisstigting

Cecilia Kruger. Foto: Facebook/Die Erfenisstigting

Die direksie van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting het aangekondig dat ’n nuwe besturende direkteur van die twee instansies vanaf 1 Julie 2016 aangestel is. Die Erfenisstigting se senior bestuurder, Cecilia Kruger, wat sedert November 2015 as besturende direkteur waargeneem het, is nou, ná ʼn streng keuringsproses, as besturende direkteur aangestel.

“Dit het nog nie heeltemal ingesink nie en ek besef terdeë dis ʼn geweldige verantwoordelikheid. Ek dink wat tot my voordeel strek, is die feit dat ek darem al sewe maande waarneem en ook 15 jaar op die terrein is. Ek sien geweldig uit na al die nuwe dinge wat ons beoog,” sê Kruger.

Sy het in 2000, ná 15 jaar in erfenisbewaring en museumwese, saam met genl. Gert Opperman by die Voortrekkermonument ingeval en was onder meer verantwoordelik vir die vestiging en uitbou van alle vakkundige dienste op die terrein. Benewens verskeie toepaslike nagraadse kwalifikasies, voltooi sy in 2002 haar meestersgraad in erfenisbewaringsbestuur oor die Voortrekkermonument. Dit was hierdie verhandeling wat in 2011 as grondslag gedien het vir die verklaring van die Voortrekkermonument tot Nasionale Graad I-erfenisterrein ingevolge die Nasionale Erfenisbewaringswet (wet 25 van 1999). Sedert die totstandkoming van die Erfenisstigting in 2002 is sy ook betrokke by landwye reddingsaksies van erfenisgoedere.

Sy sê opwindende dinge word beplan en die instansie sal ook meer op die gemeenskap fokus. “Ons het nou baie gefokus op oorsese toerisme, wat goed is want dis ons brood en botter, maar ons wil graag ons plaaslike gemeenskap meer by die monument betrek.”

Volgens Kruger is die infrastruktuur van die terrein en politiek die twee grootste uitdagings wat wag, maar sy reg is vir die groot taak. “Ek sien uit na alles – ek word dalk binnekort ontnugter, maar in hierdie stadium sien ek daarna uit om lekker te werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sakkie du Plooy ·

Die regte mens op die regte plek! Ons kultuurskatte word beleer deur ‘n vyandige omgewing en ons skuld ons kinders en kleinkinders insae in ons verlede. Soos ons Afrikaners se eeuelange roemryke strewe na vryheid o.a. in die 1830’s en 1900’s. Ons is trots op jou en mag jy groot wysheid en sig ontvang om daagliks hierdie bestuurstaak met sukses te verrig.

JC ·

Baie trots op die Voortrekkermonument!!
Ek skaam my vir myself, want tot baie onlangs toe ek in Pta was, het ek my neus opgetrek vir die VOORTREKKERMONUMENT en ons geskiedenis. Hoe ruggraatloos en naief was ek nie!
Te midde van al die aanvalle op ons kultuur en TAAL het my trots daarop DAREM weer herleef, dankie tog daarvoor!! Bou voort asseblief en maak ons weer trots! Afrikaners en Afrikaans is awesome!

Rina Kotze ·

Veels Geluk Cecilia

My kinders is nog klein, maar ek sal hulle graag wanneer hulle in die skool is wil vertel en die Voortrekker monument kom wys.
Ek het self besoek as kind.

Baie Voorspoed met jou groot taak en mag jy van krag tot krag gaan.

Lance ·

Baie sterkte ! Bemarking gaan deurslaggewend wees aangesien staat fondse onttrek het

jaco ·

waars die regstellende aksie? hoe kan n wit Afrikaanse vrou hierdie werk kry?

John ·

Asseblief tog net nie nog een van die oorbekende handevat-beelde ook aan die voet van die monument nie… dan gaan dit daar begin spook…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.