Vrou weer in hof wat juffrou glo met sambreel aanrand

Tlhalefang Sepotokele, die seun van Mpuseng Sepotokele, ʼn onderwyser wat na bewering deur ʼn leerder se ouer aangerand is by Leema Primary School (Foto: ANA)

ʼn 40-jarige vrou wat daarvan beskuldig word dat sy ʼn onderwyseres met ʼn sambreel aangerand het “om haar ʼn les te leer”, het Maandag vlugtig in die Mankwe-landdroshof in Mogwase in Noordwes verskyn.

Itumeleng Lizbeth Letsepe word daarvan beskuldig dat sy die graad 3-juffrou Mpuseng Sepotokele (52) op 22 Februarie by Leema Primary School in Tlhatlaganyane naby Sun City fisies aangerand het.

Letsepe het Maandag aan die hof gesê sy wil graag deur ʼn regshulpprokureur verteenwoordig word. Sy het vroeër aangedui sy sal self haar eie verdediging hanteer.

Die saak is tot Dinsdag vir ʼn moontlike borgtogverhoor uitgestel sodat ʼn prokureur aangewys kan word. Sy staan tereg op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Letsepe het ná die voorval weggehardloop, maar lede van die gemeenskap het haar later teruggebring skool toe en haar aan die polisie oorgegee. Die polisie was in daardie stadium by die skool om Sepotokele se verklaring af te neem.

Sepotokele is na bewering herhaaldelik oor die kop en hande met ʼn sambreel geslaan. Sy het ernstige beserings opgedoen. Sy is aangeval toe sy die oggend by die skool opgedaag het.

Ontstoke inwoners het in die hof bymekaargedrom om te hoor of Letsepe op borgtog vrygelaat sou word. Hulle het aangedui hulle wil nie hê die hof moet haar op borgtog vrylaat nie.

Maroela Media het vroeër berig Letsepe het glo die onderwyseres daarvan beskuldig dat sy haar kind sleg behandel het. Sy het glo aan die onderwyseres gesê dat sy haar ʼn les sal leer. Sepotekele het glo nog probeer verduidelik dat sy nie kinders sleg behandel nie toe sy met ʼn sambreel aangeval is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ZAR ·

Hoe oud is hierdie “seun”, want hy lyk so 25 jaar oud vir my.

ZAR ·

@Se net, jammer ek het dit mis gelees, dankie vir die reg help.

@Swak Onderwys ·

Ek aanvaar as my kind stout is of slegte maniere het en hy word sleg behandel….. ja ek verstaan dit 100% MAAR as ek vir ‘n FEIT weet dat hy nie so tipe kind is nie sal sy ook sleg tweede kom. En nie met ‘n sambreel nie….iets erger!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.