Vrou wél naby Gautrein-stasie aangeval

Joanne Atkin in pyn in die hospitaal. Foto: Facebook

Joanne Atkin in pyn in die hospitaal. Foto: Facebook

WAARSKUWING: Die foto’s in die berig is uiters grafies van aard en kan kinders en sensitiewe lesers ontstel.

Gru-foto’s van ʼn vrou wat Saterdag vermoedelik naby die Gautrein-stasie in Centurion aangeval is, word wyd op sosiale media versprei. Die egtheid daarvan word egter in twyfel getrek aangesien die polisie dit nie kan bevestig nie. Maroela Media het met die slagoffer gepraat.

Joanne Atkin (53), ʼn ma en inwoner van Midrand, het Saterdag by Midrand op die Gautrein geklim op pad na Centurion Mall. “Ek het drie horlosies by my gehad wat ek by ʼn winkel daar wou laat herstel het, en terselfdertyd dit doen waarmee vroue goed is – inkopies doen,” het Atkin Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê sy het omstreeks 12:45 by die Centurion-stasie afgeklim en besluit om na die winkelsentrum te stap, aangesien die busdiens nie Saterdag beskikbaar was nie. Sy het links in West-rylaan gedraai en oor die pad gestap. Sy is glo naby ʼn oop stukie veld tussen die Gautrein-stasie en Momentum-gebou deur ʼn man genader.

“Die man het vriendelik gelyk. Ek het gedink dit is ʼn munisipale werker, want hy het ʼn blou oorpak aangehad. Ek wou hom nog komplimenteer oor die goeie werk wat hulle [die munisipaliteit] doen, want die stuk veld waar ek toe verbygestap het, was so goed versorg. Die man het in my rigting gestap en iets roois uitgehaal. Ek het eers gedink dit is ʼn selfoon. Hy het in ʼn vriendelike luim in Afrikaans vir my gesê ‘ek soek jou handsak’. Ek het in ʼn vriendelike luim geantwoord, ‘nee, ek gaan dit nie vir jou gee nie’. Ewe skielik val hy my aan met die rooi ding wat in sy hand was – ʼn groot veeldoelige knipmes.”

Atkin het om hulp geskreeu terwyl die man haar verskeie kere in haar linkerarm gesteek het. Sy het haar greep op haar handsak laat verslap, en die man het rustig daarmee weggestap. Atkin se beursie, selfoon, medikasie, sonbril, ʼn sambreel en die drie horlosies was in die handsak. Atkin het gesê sy maak net van haar kaart gebruik, en dat daar geen kontant in haar beursie was nie.

Omstanders het Atkin te hulp gesnel en kort daarna het ʼn motor stilgehou en haar na die Unitas-hospitaal gehaas waar sy dadelik opgeneem is. “Ek kan niks verder onthou vandat ek by die hospitaal ingestap het totdat ek in die saal wakker geword het nie. Ek kan net die erge pyn onthou, asook dat ek goeie behandeling ontvang het.”

Atkin is Sondag ontslaan. Sy het vier erge steekwonde aan haar linkerarm opgedoen. Sy het spier- en senuweeskade. Sy het gehoor dat die dokters haar arm sou moes amputeer as hulle die weefsel nie kon heg nie. Haar arm is toegebind en in ʼn slinger. Sy moet weer op 18 Maart vir ʼn opvolgondersoek gaan.

Verwarring oor die egtheid van die voorval, wat wyd op sosiale media gedeel is om mense te waarsku, is in twyfel getrek nadat die Lyttelton-polisie aan die media terugvoer gegee het dat daar nie ʼn voorval aangemeld is nie.

Atkin het gesê sy weet nie wat die hospitaal se prosedure is nie, maar sy was nadat sy ontslaan is te getraumatiseerd en onder medikasie om dit by die Lyttelton-polisie aan te meld. Sy is egter Maandag na die Midrand-polisiestasie toe, maar hulle wou haar glo nie help nie, alvorens sy ʼn J88-vorm van die hospitaal verkry het.

“Ek het steeds pyn, neem medikasie en kan nie my linkerarm gebruik nie. Ek is afhanklik van vriende wat tyd van hul werk moet afvat om my na die polisiestasie te neem. Dus, soos ons hier praat, is die saak nog steeds nie aangemeld nie,” het sy gefrustreerd gesê.

Die publiek het ook verskeie navrae aan die Gautrein-bestuur gerig aangesien die aanvanklike waarskuwing die Gautrein-stasie as verwysingspunt gebruik het. Die Gautrein-personeel het daarop reageer en gesê dat hulle nie bewus is van die voorval nie, omdat dit nie in of [direk] buite die stasie plaasgevind het nie, en daar geen bewys of verslag daarvan by die polisie is nie.

“Ek kan bevestig dat die beweerde voorval nie by Gautrein se Centurion-stasie plaasgevind het nie,” het Kesagee Nayager Dinsdag aan Maroela Media gesê. Die Lyttelton-polisie se woordvoerder, ao. Hero Gumbu, het gesê hy kan nie kommentaar lewer sonder ʼn saaknommer nie.

Robert Jordaan, Unitas se bestuurder, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat die vrou in die hospitaal behandel is. Hy het gesê die hospitaal is nie in staat om elke misdaadverwante voorval waarmee hulle te doen het by die polisie aan te meld nie. “Ons sal wel sekere voorvalle, veral as daar kinders by betrokke is, aanmeld. In ander voorvalle voel ons dit is die pasiënt of hul families se plig om self die saak aan te meld,” het Jordaan gesê.

Jordaan het bevestig dat die J88-vorm aangevra is, en dat dit aan die pasiënt gestuur sal word.

Hugo Erasmus, voorsitter van die Lyttelton sekor 1-GPF, het onderneem om te sorg dat haar saak aanhangig gemaak en verder ondersoek word.

[Opvolg]: Aanval naby Gautrein-stasie amptelik aangemeld

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is uiters grafies van aard. Maroela Media het die foto’s digitaal gemanipuleer maar dit is steeds baie grafies en kan kinders en sensitiewe lesers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Ben ·

“Hulle” is baie braaf en sterk wanneer dit by vrouens, kinders en ou-mense kom. Was dit ‘n fris jong Afrikaans man, sou hy net “Middag meneer” gesê het. Lafhartige skarmunkel! Sterkte mevrou, God sal dit nog alles regmaak!

Ignaz ·

Geagte Maroela Media.

Dankie vir puik werk hier. Na al die facebook sensasie stories is almal nou met feite bedien. Hoe lekker. Welgedaan met goeie werk. Ons bedank u.

anna ·

Dit is verskriklik. So so jammer.
Ek hoop U voel gou beter – en ook U gesin.
Sterkte vorentoe.

Johan 2 ·

Dat die Polisie nie daarvan (wil) weet nie sê niks. Dit help in elkgeval net vir die statistiek om dit aan te meld.

Trix ·

Saps mag nie weier om klag af te neem sonder J88. laasgenoemde kan ingehandig word by di ondersoekbeampte selfs nadat klag geopen was. saps was seker ni lus om di saak te open daarom geweier op grond vn uitstaande J88.

Lorraine ·

Sy moes regs gehou het op West straat, by munisipale geboue verby en in Lenchen weg afgestap het Mall toe, daar is nie nie oop stukke veld nie, dis letterlik ‘n blok van die mall af en langs ‘n baie besiger pad. Ek wens haar egter baie sterkte toe en spoedige herstel.

Albert Marais ·

Was dit nou n jong BLANKE MAN wat 53 jarige swart vrou aangeval het, sou dit nou al by die
Vereenigde Nasies aangemeld gewees het – wat nog te se by n paaslike polisie stasie.
Alle simpatie mev Atkin, hoop u herstel volkome en gou.

Erns ·

My gedagte ook. So ruk terug geval gewees van ‘omgekeerde’ aanranding… dit was binne paar minute internasionale nuus, bo aan hoofstroom media webtuistes wereldwyd.

Johann ·

Dit is sommer NONSENS dat die bus dienste nie op Saterdae beskikbaar is nie! Dit is juis dan wanneer die diens, soos in die vrou se geval, beskikbaar MOÉT wees!.. Mevrou. Ek wens U alle voorspoed toe met U pad vorentoe en dat U spoedig sal herstel.

Melt Olckers ·

Die busdienste is in elk geval niks werd nie. Hulle werk nie eers in die week nie. Staak net heeltyd.

Lassie ·

Daardie roete vanaf die Centurion stasie na die Centurion mall is baie dodgy en gevaarlik. Selfs net die algemene omgewing om die stasie. Ek het al van ‘n hele paar mense gehoor wat daar aangeval is terwyl hulle daar geloop het. Gaan my verstand te bowe dat die probleem nie aangespreek word nie. Selfs ‘n ‘Mugging Hotspot’ bord sal al help as die polisie nie hulle werk wil doen nie

Anette ·

Baie dankie! Stel asb. ondersoek in hoe Gautrain geweet het die foto is op Wikipedia EN voorheen gebruik is soos hulle op Twitter tekene probeer gee het. Ek het ‘reverse image search’ op Google en met TinEye gedoen en GEEN fotos gekry nie. Het Gautrain self die foto op Wikipedia gelaai om die skrywer van die ‘blog post’ te ‘discredit’? Ek het vir Wikipedia gevra om te help kyk wanneer en deur wie dit opgesit is.

Annie ·

Berigte wat versprei word op facebook en ander media het hulle genoop om dit te korrigeer..volgens die berigte het dit BY die Gautrein stasie gebeur en word mense aangemaan om nie meer van die Gautrein gebruik te maak nie…dis net reg dat hulle dit regstel. Dit is net weereens n bewys van hoe mense sommer alles glo en aanneem as die waarheid sonder om eers ordentlik ondersoek in te stel, vals beriggewing kan groot skade aan enige besigheid doen.

Johnny Botha ·

Annie, Jy verwag sekerlik nie dat die breë publiek alle berigte eers moet ondersoek voordat hulle kommentaar lewer nie. Die feit van die saak is dat ‘n onskuldige vrou wreed aangeval en beroof is. Die ligging van die voorval is sekonder tot die aanval. Wat baie meer relevant is, is die ras van die aanvaller. Dit, word egter nêrens gemeld nie.

Gesiggie ·

Mevrou ek voel baie jammer vir jou… n mens kan in vandag se lewe nie meer vrou alleen iewers heen gaan? n mens dink nie aan dit sal nie met my gebeur… maar die swape daar buite wat te lui is om te werk, is uit daarop om ander mense wat hard werk van hul besittings te beroof, en dan aan hul leed te doen… omdat hul mag.. sterkte Mev alle beterskap… en mag die skelm boet.

eliza ·

Nou hoe gemaak as dit haar enigste vervoer tot by betrekke punt is.en slegs die tyd vir haar moontlik is om daar uit te kom.
Dis n skande dat mens nerens meer kan en mag loop nie al is dit langs n stukkie park of veld. Jys veronderstel om veilig jou bestemming te bereik. Maar ja..nie meer in ons land nie.
Sterkte mev..kan net hoop en bid jy kry die gebruik v jou arm 100% terug.
En jy met die blou oorpak..mag die duiwel jou kom haal

Ant ·

Ek hou die Tshwane Bus diens ook verantwoordlik. As gevolg van n onwettige ‘strike’ los hulle, ou mense, vrouens en kinders langs die pad vir die slegte goed om plaas te vind!

beesblaas ·

My 16 jarige dogter vat daagliks hierdie trein. Is ons mense nerens meer veilig?

Theresa ·

Nee, niemand is veilig nie. Maak verseker alternatiewe planne om mekaar en geliefdes veilig by werke, winkels, kerke ensovoorts te kry. Hou kontak, al is dit irriterend. Dis bloot ‘n feit. Baie ongerieflik en onnodig, maar ‘n feit.

L ·

Mens sou dink die polisie sou probeer help het om die saak aan gemeld te kry sodat hulle dan…O dan sal hulle moes werk jammer…

Uit die Ooste ·

Waarheen is SA oppad ? Ek werk in Thailand. Hier ken die mense nie van sulke gemors nie, hulle weet nie eers van sulke dinge nie. Ek lees elke dag Maroela Nuus . Ek raak nou te bang om dit te lees want, wat ek lees is iets uit n riller fliek . Die land is nou in sy m–r in. Dit is nou een groot sirkus met een hoof nar aan bewind.
Wil net se ons hier dink aan julle daar in die mooi SA. Sterkte vir julle.

Liaan ·

Ek is baie bly die waarheid is bevestig. Ek wil net weet hoe julle wél aangeval en vermoedelik aangeval in dieselfde artikel kan gebruik?

a.j.stuijt ·

Nou verstaan ek hoekom so baie gewelddadige aanvalle nie aangemeld word nie: Maroela Media haal die hospitaal-segsman aan wat sê dat die hospitaal grotendeels alléén slagoffers van gewelddadige aanvalle meld ‘as daar kinders betrokke is’. Ook dat daar ‘n formulier nodig is wat die pasient van die hospitaal moet kry om dan self melding by die polisie te gaan maak. En dat die hospitaal self dikwels nie die inisiatief neem om gewelddadige misdade aan te meld by die polisie nie – dat dit ‘ die plig is van familielede en die slagoffers.’ Wel nee dit is nie waar nie – onder die wet moes geneeskundiges en verpleegsters wat kennis gedra het dat hulle ‘n pasiënt behandel het weens ‘n gewelddadige misdaad — nog ALTYD die insidente aan die polisie meld. Dit is selfs ‘n dokter se plig onder die eed wat hy/sy aflê. Die dokters en verpleegsters se foutiewe houding t.o.v. aanmelding van gewelddadige misdade verduidelik egter baie oor die onderrapportering van selfs die mees gewelddadige misdade in Suid-Afrika. Pasiënte moet dus self eers ‘n dokument by die hospitaal aanvra oor die beserings wat hulle opgeloop het – en daarna mag hulle eers ‘n klag gaan lê by die polisie? Dit is die omgekeerde wêreld…

Takkie Takuuza ·

Elke vrou wat hier lees; Loop koop vir jou ‘n “tazer” en skok die rook uit die sot wat naby jou kom. Trust my, tot honde is bang net vir die geluid.

Sê maar net ·

Eerstens wil ek sê sterkte aan die vrou en almal wat hierdeur geraak word. En tweedens wil ek vra, leer vroue nie uit ander se foute nie? Ek gaan sekerlik nou gestenig word, maar dink logies daaroor. Dit is vir moeilikheid soek om in die eerste plek deesdae met ‘n handsak te loop. Ek is self ‘n vrou, en ek verkies om nie ‘n handsak, beursie of geld by my te hou nie. Ek dra eerder ‘n broek met sakke waarin ek my kaarte en foon kan dra, as wat ek die kans vat om met ‘n handsak of beursie te loop.

Ina ·

Dis so jammer dat ons nie meer vry is in ons die land nie. Nou word sy gestenig omdat Sy onskuldig is. Ons kon altyd veilig buite rond beweeg sonder om aangeval te word. Sy is onskuldig, maar word beskuldig oor sy haar lewe wou leef. Ons kan nie in vrees lewe.

karen b ·

Mevrou, ek is jammer dat dit met jou moes gebeur. Ek hoop jy word gou gesond en kan dit wat met jou gebeur het verwerk op ‘n manier. sterkte

Engela ·

Ek is Sondag, plus minus 2 weke gelede, in Pick ‘n Pay, Centurion Mall eers agtervolg en toe genader vir geld deur ‘n vriendelike persoon met ‘n blou oorpak baadjie. Toe ek hom se ek gee nie geld nie was hy heel verontwaardig want hy wou eintlik net seep en waspoeier gehad het. Hy het laat spander toe ek met die bestuurder van die winkel gaan praat het. Ongelukkig het ek al op vorige geleenthede by die bestuur moes kla oor mense wat verdag optree in die winkel en geld vra, dit sluit in 2 dames wat hulle as doof voordoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.