Vrou wend haar tot Facebook oor pa se onopgeloste moord

Stephan du Toit. Foto: Facebook

Stephan du Toit. Foto: Facebook

Nadat Mariska Meyer (34) se pa vyf maande terug koelbloedig in sy bed doodgeskiet is en niemand nog vir die moord in hegtenis geneem is nie, het sy haar tot Facebook gewend in haar soeke na geregtigheid.

Meyer het die groep Justice for Stephanus Francois du Toit gestig in die hoop dat bewusmaking rondom die moord op haar pa sal sorg dat sy moordenaars aan die pen ry. “Ek hoop dat iemand wat ons kan help, die groep sal raaksien en my sal kontak. Ek kry nie hulp by die polisie nie en die saak raak al hoe kouer terwyl die ondersoekbeampte sloer,” het sy gesê.

Drie verdagtes het glo die aand van 11 Februarie by haar pa, Stephan du Toit (54), se huis in Norkem Park aan die Oos-Rand, ingebreek. “Die rowers het glo die lig aangesit waar my pa, sy vrou en my sesjarige sussie in die bed gelê het. Hul miniatuur-Dobermann was ook op die bed en het begin blaf. My pa het die hondjie opgetel om hom stil te maak en die rowers het hom in sy linkerskouer geskiet,” het ʼn emosionele Meyer gesê.

“Hy het vooroor geval en hulle het hom weer geskiet. Die koeël het hom in sy regterheup getref en hy het uit die bed uit geval. Die rowers het vyf selfone wat in die kamer was gegryp en net voordat hulle gevlug het, het hulle hom ʼn finale keer in sy rug geskiet terwyl hy op die grond gelê het.”

Du Toit se vrou en dogtertjie was ongedeerd. Die rowers het vermoedelik ʼn pik, wat op die toneel gevind is, gebruik om die veiligheidshek van die huis oop te breek.

“Ons het onmiddellik van Brakpan af na hulle huis toe gery toe ons die oproep gekry het. Toe ons daar kom, was die polisie klaar besig om die toneel op te ruim. Hulle het klaar ook probeer om die bloed in die kamer af te was en die toneel was nie afgesper nie. Hoe kon hulle so vinnig klaar gewees met die ondersoek op die toneel? Hulle het my gekeer om in die huis in te gaan, want ek dink dit sou te traumaties gewees het om te sien,” het Meyer gesê.

Sy beweer dit het die polisie twee maande gevat voordat hulle die pik as ʼn bewysstuk by haar huis kom afhaal het. “Die polisie het ook geen vingerafdrukke op die toneel gekry nie. Hoe is dit moontlik as die rowers die ligskakelaar aangesit het? Iets is nie reg nie en ek voel die regte prosedures is nie gedurende die polisieondersoek gevolg nie,” het sy gesê.

Sy het gesê dat sedert die moord sukkel sy om enige inligting by die polisie te kry, omdat die ondersoekbeampte glo meestal nie beskikbaar is om met haar te praat nie. “Toe ek laas met hom gepraat het, het hy gesê hy moet nog ʼn verklaring by my pa se vrou afneem, maar hy kry haar nie in die hande nie. Hy het toe vir my gesê ek moet vasstel wat is haar nuwe adres, want sy het na die moord getrek. Dit is mos nie reg nie? Dit is tog sy werk om hierdie saak te ondersoek, nou vra hy ek moet maar die adres verskaf.”

Meyer vertel dat die familie platgeslaan is na haar pa se dood en steeds sukkel om sy moord te verwerk. Meyer se drie broers, onderskeidelik 29, 30 en 35 jaar oud, ly almal aan spierdistrofie en word in ʼn tehuis versorg. “My pa is op my middelste broer se verjaarsdag vermoor. Toe ons die oggend van die moord by die tehuis opdaag, het hy gedink ons kom hom haal vir ʼn verrassingspartytjie. En toe moes ons hom vertel ons pa is dood,” het sy in trane gesê.

Ao. Mahlodi Langa, woordvoerder vir die Norkem Park polisiestasie, het bevestig dat die moordsaak by die polisie geopen is en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie. Langa het Meyer se bewerings ontken en gesê die polisie is aktief besig met ʼn ondersoek na die moord. “Die ondersoekbeampte tree gereeld met die klaer in verbinding om haar op hoogte te hou van die vordering van die saak,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

pop ·

Hoe verskriklik tragies. Die hele voorval stink, iets is baie verkeerd hier en dit lyk soos toesmeerdery.

EMK ·

Baie, baie erg. Ek wens so mens kon jou help, maar ja, dalk met die sosiale media se hulp kan jy iets uitgerig kry. Baie jammer vir jou en jou familie; ek hoop iets kom hiervan. Jy moet dalk ook die polisie by hoofkantoor aankla of iets, dalk maak hul bietjie vuur onder die ondersoekbeampte – hene mens weet nie wat se raad om te gee nie, maar ek hoop jy raak geholpe.

SNEL ·

Dis vreeslik om jou pappie so onnodig te moes verloor. Mariska, alle sterkte, ek hoop regtig dat dinge nou sal gebeur en dat die skuldiges gevang sal word. Baie sterkte vir julle.

Annali ·

Dis tragies en ongelooflik dat ‘n mens vermoor word net sodat selfone gesteel kan word.
Ons was verlede Augustus in Gauteng omgewing aangeval en beroof van alles wat ons by ons gehad het, kar ook, en tot op datum was die polisie nooit weer met ons in aanraking nie. Navrae het ook getoon dat geen forensiese bewysstukke na die forensiese laboratorium gestuur was nie. Word die polisie en speurders laks omdat aanvalle en roof in Suid Afrika so alledaags is ? Moet ons wat aanvalle oorleef het maar “net dankbaar wees dat ons nog lewe” en aangaan asof niks gebeur het nie?

Lappop ·

Dit gaan nie oor lieg nie. Hulle is te lui om nog ‘n ondersoek te doen na nog ‘n witte wat koelbloedig vermoor is, want hulle gee nie ‘n flenter om nie. En al word die skuldiges gevang is hulle 1 , 2 , 3 uit op borgtog. Hulle is daar om ‘n salaris te kry, en omkoopgeld, en daarvoor hoef hulle nie te werk nie.

neelsie ·

Was dit in die swart gemeenskap het hulle ge toi toi en afgebrand.
Die kultuurverskille …………..
Hoop die poging is suksesvol.

Louisa du Toit ·

Aan almal wat hier gelees het wat Meyer BEWEER moet asseblief nie alles glo wat sy se nie, aangesien ek en ons 5 jarige dogterjie ( nie soos sy beweer 6 jaar oud nie – en dit haar sogenaamde sussie).alles aansou het. My oorlede man is ook nie in die plekke geskiet soos sy beskryf nie. Meyer het ook bewys stukke vanaf die toneel verwyder as sy dan die sodanige pik verwyder het. = Sy moet pasop, want die aantygings grens aan LASTER = Ek en my dogtertjie ondergaan nog steeds behandeling, en ek was ook in die hospitaal vir n wyle. Kontak my op my e-pos indien julle die waarheid wil weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.