Vrou wil bene laat amputeer ná vliegongeluk

Sharon en Hans Potgieter. Foto: Facebook

Sharon en Hans Potgieter. Foto: Facebook

ʼn Vliegentoesias van Malmesbury in die Wes-Kaap is vasbeslote om haar bene te laat amputeer – sodat sy weer kan loop.

Sharon Potgieter (53) se lewe het op 16 Desember verlede jaar handomkeer verander toe sy en haar man, Hans, se ligte vliegtuig neergestort het naby Mosselbaai waar die egpaar toe gewoon het. Sharon het gesê die Rockwell Commander-vliegtuig se enjin het net onklaar geraak en Hans, die vlieënier, moes dringend ʼn noodlanding doen.

Sharon vertel dat Hans met enkele snymerke uit die vliegtuig geklim het en vir haar gesê het om uit te klim. “Ek het op my voete probeer trap om my uit die vliegtuig te lig, maar niks wou werk nie. In daardie oomblik kan jy amper nie begryp wat gebeur het nie. Jy voel die pyn in jou rug, maar besef nie jy het so pas jou rug gebreek en kan nie loop nie.”

Sharon is na ʼn hospitaal in George geneem en later na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas. Daar het dokters vasgestel dat sy van haar rugwerwels weens die harde slag van die landing gebreek het en van die middel af verlam was. Ná ʼn operasie om die skade te herstel en drie maande in ʼn rehabilitasiesentrum, het van die gevoel na Sharon se bene teruggekeer. Sy het egter steeds geen gevoel in haar onderbene nie.

“Ek kan nie hitte of koue op my bene voel nie. Ek kan ook geen pyn in die bene of my voete voel nie. Ek kan byvoorbeeld nie voel as ek ʼn blaas het nie en kom eers agter my voet is stukkend as dit al ʼn groot wond is,” het sy verduidelik. “Beenstutte het ook nie gewerk nie, aangesien dit druksere onder my voete veroorsaak het.”

Weens die feit dat sy nie haar voete gebruik nie, het Sharon se voete na binne gedraai. Foto: Facebook

Weens die feit dat sy nie haar voete gebruik nie, het Sharon se voete na binne gedraai. Foto: Facebook

Volgens Sharon kan sy sedert die ongeluk nie werk en byna niks vir haarself doen nie. “Ek kan nie alleen bad nie, want iemand moet my in en uit die bad tel. Ek kan nie kook nie, want ek kan nie in die potte op die stoof sien nie. Ek kan nie bestuur nie en ook nie oral buite met my rolstoel rondbeweeg nie omdat al die terreine nie toeganklik is nie.”

Weens die feit dat sy nie haar voete gebruik nie, het die senings in haar enkels verkort en haar voete na binne gedraai. “Die dokters het gesê ek moet dit twee jaar gee en kyk of dit verbeter, maar dit is hoogs onwaarskynlik. Ek kan self agterkom dat my bene versleg en ek weet dit gaan nie beter word nie,” het sy gesê. “Die enigste manier waarop ek ooit weer sal kan loop, is as my bene geamputeer word sodat ek prosteses kan gebruik.”

Omdat dit Sharon se besluit is om haar bene te laat amputeer en dit nie weens ʼn mediese rede gedoen moet word nie, sal geen mediese fonds of die staat vir die operasie betaal nie. Dit het die egpaar laat besluit om deur die Fly Sharon Fly-inisiatief die nodige geld in te samel om die operasie te laat doen.

Volgens Sharon benodig sy sowat R200 000 om die amputasie te laat doen en basiese prostese te laat maak om te leer loop. Daarna sal sy nog ongeveer R130 000 benodig om prosteses te laat maak wat sy op ʼn langtermyngrondslag kan gebruik. “Daar is natuurlik wonderlike uitvindsels soos ʼn prostetiese voet wat hulle aan jou liggaam se sensors koppel sodat die voet breinimpulse kan ontvang en daarop reageer. Twee sulke voete kos R800 000. Jy kry ook ʼn silikoon-‘vel’ wat jy oor die prostese kan trek sodat jy nie die staal en skroewe sien nie en dit soos ʼn regte been lyk. Daar is wonderlike uitvindsels, maar dit kos alles astronomiese bedrae geld. Ek soek net basiese prostetiese bene sodat ek kan loop en weer my onafhanklikheid terugkry,” het sy gesê.

Ondanks die traumatiese jaar waardeur sy is, het Sharon geen bitterheid oor wat met haar gebeur het nie. “Die lewe gebeur. Of ons nou ʼn les daaruit moet leer of iemand anders ʼn les daaruit moet leer, die lewe gebeur en dit gaan aan. Niemand kan ʼn ongeluk voorkom nie, maak nie saak hoe hard ons probeer nie. Om verwyte te hê, sal niks verander nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leeutjie ·

Baie sterkte aan Sharon! Ek dink om so iets te doen vat baie innerlike krag maar is die beste ding om te doen. As ek voor so keuse sou kom sou ek dieselfde doen.

Petro ·

Ekt eendag n storie gehoor van n man wat verlam was in sy onderlyf die drs kon nks vir hom doen nie en hy was n man van GOD hyt aanhoudend begin bid elke dag vir 3 jaar lank en mooi gevra vir n laaste kans om wee te loop hyt die HERE gese hy belowe sy voete sal net die regte paaie loop en dat hy sy bene ten volle sal gebruik sonder om eendag te kla daaroor en een oggend toe hy wakker word toe begin hy gevoel in sy bene te kry.Geloof is groot as n mens glo en vertrou sal dit gebeur! Sterkte aan die tannie

Elinette ·

Wat ek nie kan verstaan nie, is dat Sharon nie fisioterapie gekry het om haar spiere soepel te hou nie. Sy het sensoriese verlies, maar wérk haar bene? M.a.w. het sy die vermoë om haar voete/bene te beweeg? Ek is ‘n diabeet en het neuropatie in my voete en bene; dit is HEL om òf geen gevoel in jou voete te hê nie óf oormatige gevoel in jou voete te hê; een dag voel jy dit nie eens as jy op ‘n glasskerf trap en jou voet sny nie; die volgende dag kan jy amper nie loop nie – alles maak jou voete seer. Maar sterkte aan jou Sharon; ek sal egter nie so ver gaan as amputasie nie, want dit het ook maar sy probleme op sigself.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.