Vrou wil borgtog vra ná ‘huurmoordkomplot’

Maria Ferreira kort nadat sy in hegtenis geneem is. Foto: Valke

Maria Ferreira (53), ʼn inwoner van Ponta do Ouro in Mosambiek wat glo haar derde man wou laat vermoor het, bly minstens nog tot Junie in aanhouding.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, het gesê Ferreira het Dinsdag weer vlugtig in die Witrivier-landdroshof verskyn nadat sy op 19 Maart in hegtenis geneem is. Sy word van sameswering tot moord aangekla.

Die saak is tot 12 Junie uitgestel en na die Nelspruit-streekhof verwys, waar sy dan na verwagting om borgtog gaan aansoek doen. Sy bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig Ferreira is in Witrivier in hegtenis geneem nadat sy glo ʼn polisiebeampte geld aangebied het om haar man, Carlos Ferreira (55), vir R20 000 te vermoor.

Die plan was na bewering dat die moord as ʼn mislukte motorkaping naby Malelane uitgevoer sou word wanneer die egpaar na Mosambiek sou terugkeer nadat hulle ʼn vriend in Witrivier besoek het.

Die Valke het ʼn lokval vir haar gestel en sy is in hegtenis geneem toe sy geld aan die beampte oorhandig het.

Dit het tydens die hofverrigtinge in Maart aan die lig gekom dat Ferreira nou vir ʼn derde keer getroud is. “Haar tweede man, Allen Hepburn (52), is op 5 Februarie 2012 voor hul huis in Bronkhorstspruit met ʼn mes doodgesteek terwyl hy ʼn voertuig se band omgeruil het,” het Sekgotodi gesê.

Niemand is nog in verband met Hepburn se moord in hegtenis geneem nie. “Die saak word steeds ondersoek. Daar sal nou deeglik ondersoek ingestel word of Hepburn se dood wel ʼn moord was of moontlik ook ʼn huurmoord.”

Haar eerste man is glo jare gelede aan kanker dood.

Lees die vorige berigte oor Maria Ferreira op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Arrie ·

Stel ook ondersoek in of sy met die dood van haar eerste man polis uitbetalings / enige geld ontvang het. Dit het dalk aanleiding gegee tot die gebeure in tweede en derde huwelike. Het sy enige finansiële voordeel getrek uit haar tweede man se dood en sou sy voordeel trek uit die derde man se dood? As sekere mense eers een keer “maklike” en groot geld geproe het lus hulle weer en weer daarna. Hulle het ook reeds vantevore daarmee weggekom.

Christine ·

Ek hoop van harte geregtigheid sal geskied , sy verdien nie om in die samelewing te wees , sys gewetenloos.

SARIE VAN HEERDEN ·

Praat van senuwees van staal! Waar kry sy al die manne wat met haar wil trou en nie eers uitvind wat het van die vorige eggenotes geword nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.