Vroue betoog woordeloos by Ramaphosa-toespraak

Twee van die vroue wat stil betoog het. Foto: Brenda Masilela / ANA

Drie vroue het Dinsdag stil protes aangeteken in ʼn saal waar pres. Cyril Ramaphosa ʼn toespraak gelewer het tydens die bekendstelling van ʼn inisiatief om aandag te gee aan die gebrek aan sanitasiegeriewe by die land se armste skole.

Die vroue het plakkate vasgehou wat die regering gekap het oor die dood van twee vyfjarige kinders wat in puttoilette by skole geval het.

Die inisiatief, Sanitation Appropriate for Education (SAFE), volg vier jaar ná die dood van Michael Komape wat in ʼn puttoilet by ʼn skool in Limpopo geval en verdrink het.

In Maart vanjaar is Lumka Mkthethwa dood toe sy in ʼn puttoilet in die Oos-Kaap geval het.

Ná Lumka se dood het die president vir Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, opdrag gegee om ʼn oudit van skole se sanitasiegeriewe te doen en om ʼn plan in te dien oor maniere waarop dié probleem hanteer kan word.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng wat ook by die bekendstelling was, het na die vroue gestap en kalm met hulle gepraat.

Voordat Ramaphosa die podium verlaat het, het hy die vroue se protes erken en gesê Lumka se dood was die katalisator vir die SAFE-inisiatief.

“Skole moet ʼn plek wees waar kinders veilig kan wees en bemagtig kan word. Skole moet sentrums wees om gemeenskappe op te bou. Die inisiatief is meer as om net aan sanitasie aandag te gee; dit raak die siel van ons nasie,” het Ramaphosa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

“This government is DISINGENUOUS!” Beste beskrywing vir ANC.

RIP ·

Julle doen mos nou alles beter as die NP regering hoekom was daar nog puttoilette na 24 jaar wat julle aan bewind was, kon julle regtig nie in 24 jaar die TOILETGERIEWE verbeter nie? Julle (wat vandag deel is van die regering) was vinnig om skole af te brand en apartheid vir alles skuld te gee WAT WAS NOU JULLE VERSKONING?? Die arme kind.

GM ·

Dis vreeslik hartseer. Dit maak my terselfdetyd ook kwaad. Kwaad dat mense aanhou om als af te brand, kwaad dat mense aanhou kinders kry al kan hul nie vir hul sorg nie, kwaad dat belastinggeld eerder op partytjies spandeer word as op skole en hospitale ens. Die regering gee nie om nie, hulle wil die armes verder verarm, en ongeskoold hou, want sodoende bly hulle aan bewind deur leë beloftes te maak, en hoop te skep vir die mense. Plaas elkeen R1 skenk en maar self die skole verbeter. Wat keer die gemeenskap? Ek sien dikwels die armstes van die armes met kiste bier staan, gereed vir hul naweekpartytjie. Soms moet mens maar opoffer en self inspring as mens verbetering wil sien. Om vir die regering te wag, gaan nie help nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.