Vroue dood toe bus, motor bots

Die toneel in die Durbanse middestad. (Foto: ALS Paramedics)

Twee mense is dood en nege ander beseer toe ’n bus en ’n motor in die Durbanse middestad gebots en verskeie voetgangers getref het.

Die gru-ongeluk het Vrydag vroegoggend in Alicestraat naby Russelstraat plaasgevind.

Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS Paramedics, sê paramedici het ’n “volslae bloedbad” met hul aankoms omstreeks 06:30 op die toneel aangetref.

Twee vroue, vermoedelik in hul 20’s en 30’s, het noodlottige beserings tydens die voorval opgedoen. Daar word vermoed dat die vroue voetgangers was.

“Paramedici kon niks meer vir hulle doen nie en hulle is dood verklaar,” sê Jamieson.

Tien ander pasiënte het geringe tot matige beserings in die voorval opgedoen. Die pasiënte is vanoggend op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ’n nabygeleë Durbanse hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Die presiese omstandighede rakende die voorval is in dié stadium nog onduidelik. Die polisie was vanoggend op die ongelukstoneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Misky ·

Ek is glad nie verbaas nie. Die busse jaag en ry baie onverskuldig en jy moet maar padgee vir hulle. Sterkte aan oorlewendes en simpatie met familie van die twee dames wat met hul lewens moes betaal het.

Chris ·

Ek was nie op die toneel nie. Ek dink ek weet presies wat gebeur het. Hier is Durban drentel (pootsleep) voetgangers oor die strate. By verkeersligte wat rooi wys stap hulle oor. Bestuurders stop ook nie by rooi verkeersligte nie. Dit is chaos in die stad. Die mense ry soos en wanneer hulle wil. In die nagte kan jy die straat renjaers hoor. Jy neem jou lewe in eie hande as jy durf iewers heen ry. Iemand het Woensdagoggend agter in my kar vas gejaag na vele waarskuwings aan die man. Ek het verkeerd opgetree en hom gaan verduidelik dat dit nou nie mooi was nie.

Janine ·

Wat het geword van laerskole wat jou gaan leer het? ‘Flink en vinnig’ Slegs oor sebrastrepe? Ons het met daai wieletjies geloop en geleer. Ons ouers het ons OOK geleer. Slegs voetoorgang of robot. Jou agterent is vuurwarm geklap as jy net oor die pad gestap het.

Linda ·

Ek is glad nie verbaas nie want deesdae het voetgangers absoluut geen respek vir padreëls nie, en 90% loop met oorfone in hulle ore en besig met selfone en stap soos plaasvee die paaie vol. Ry op enige snelweg of by skole en kolleges, daai mense het geen ontsag vir die wet nie. Hulle dink jy wat lisensie betaal en wettig daai pad mag gebruik, moet uitswaai en botstil stop om hulle te akkomodeer. Waar is polisieëring? Voetgangers moet beboet word en vir straf gedwing word om opleidingklasse by te woon oor padreels. Hoeveel grootmense loop nie met kleuters en babas op hul rug enige plek oor enige besige pad nie. Watse voorbeeld kry daai kind?

Janine ·

Bestuurders ook met die verdomde foon teen die oor. Ek wil iemand aanrand wanneer hulle soos idiote bestuur, en dan is die sotte besig om te whatsapp of te gesels. GRRRR!

piet ·

Ja jy swaai uit en stop vir voetgangers, dis hoe dit is. As bestuurder moet jy altyd voetgangers in gedagte hou, (oor)VERSIGTIG bestuur as voetgangers in die omtrek is en ongelukke probeer vermy (al is die voetganger verkeerd). Die feit dat jy ‘n motorlisensie het, gee jou nie die reg om oor voetgangers te ry soos jy wil nie. Voetgangers kan OOK die pad gebruik en onthou’n voetganger is in ‘n baie meer kwesbare posisie as jy in jou metaalraam. Ek stap baie en daar is beslis baie padvarke wat beslis nie ‘n duit omgee nie. Selfde geld vir fietse, eintlik nog gevaarliker want daar ry hulle die fietse van die pad af (soms met opset lyk dit vir my). Oor die algemeen egter is motoriste meer bedagsaam teenoor voetgangers as fietsryers volgens my waarnemings.

piet ·

Moet se dis onrusbarend om te verneem van ‘n motoris wat ‘n probleem het om vir ‘n voetganger uit te swaai of te stop. Nee wat, ry maar sommer oor hom. Eish.

Misky ·

@piet, ek dink nie dis wat Linda bedoel het nie. En ek sien selde dat mense werklik nog ‘n sypaadjie gebruik. Hulle loop deesdae in die pad en soos Linda tereg sê, hulle loop net en jy moet maar stop en dan kry jy nog ‘n arrogante kyk ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.