Vroue leer om hulself teen geweld te beskerm

Never Tap Out bied selfverdedigingklasse aan (Foto: Verskaf)

Honderde vroue het tydens die nasionale 16 dae van aktivisme- veldtog geleer hoe om hulself te beskerm te danke aan gratis selfverdedigingklasse.

Leilani Kuter, stigter van die nieregeringsorganisasie Yellow for Survivors wat slagoffers van geweld teen vroue bystaan, het hande gevat met Never Tap Out, ʼn organisasie wat mense bemagtig om hulself te beskerm en verdedig.

Nadat Kuter in September 448 km gestap het om geld in te samel om slagoffers van geslagsgeweld te help, het sy besluit om dit selfs verder te neem en te help dat die geweld in die eerste plek stopgesit word.

Gary Lewis van Never Tap Out het nege, twee uur lange selfverdedigingsessies aan 290 mense aangebied. Dié sessies het onder meer in Roodepoort, Wolmer, ATKV Klein Kariba en Krugersdorp plaasgevind as deel van 16 dae van aktivisme- veldtog wat van 25 November tot 10 Desember gestrek het.

Never Tap Out bied selfverdedigingklasse aan (Foto: Verskaf)

Lewis het die vroue, mans en kinders wat die sessies bygewoon het geleer oor selfverdediging met spesiale fokus op teenverkragtingstegnieke.

“Die deelname wat fenomenaal. Die mense wat die klasse bygewoon het, was so dankbaar vir die vaardighede wat hulle geleer het. Selfs al het ons slegs aan die basiese, maar belangrikste tegnieke geraak,” sê Kuter.

Kuter, wat self ʼn verkragting oorleef het en die pad gestap het om weer heel te word, sê die vaardighede wat Lewis hulle leer, is uiters belangrik.

“As ek hierdie vaardighede in my eie situasie kon toepas, kon ek dit dalk vrygespring het,” sê sy.

Yellow For Survivors is trots op die werk wat hulle tydens die 16 dae van aktivisme kon doen, maar is vasberade om die goeie werk voort te sit om vroue, kinders en mans in 2021 te bemagtig deur middel van soortgelyke sessies.

“Daar is nog so baie om aan mense te leer. Ek kan nie wag om ons nuwe projek volgende jaar te begin nie. Die terugvoer van ma’s en dogters was ongelooflik en ons wil ʼn definitiewe fokus op skole plaas volgende jaar.”

Vir meer inligting, besoek Yellow for Survivors se webtuiste hier. In geval van ʼn noodgeval oor geslagsgeweld, bel 0800 150 150.

Hier is vyf praktiese wenke om weg te breek uit ʼn gewelddadige huishouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

Elke vrou moet so kursus bywoon. Vriendin het ‘n kursus (nie van Tap out nie) bygewoon en kon haarself verdedig teen ‘n aanvaller laasweek in Kroonstad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.