Vroue moet hulself bewapen – drukgroep

Argieffoto

Die drukgroep Action Society het ʼn beroep op Suid-Afrikaanse vroue gedoen om hulself wettig te bewapen omdat die regering versuim om hulle te beskerm.

Die oproep kom nadat duisende geweldsmisdadigers vrygelaat is sonder dat DNS-monsters tydens die ondersoeke ingedien is.

In een van die jongste voorvalle van geslagsgeweld is ʼn vrou enkele dae gelede in ʼn gru-aanval vermoor, glo deur haar kêrel wat vroeër op borgtog vrygelaat is.

Dele van Siphokazi Booi (27) se verkoolde liggaam is verlede week in ʼn asblik langs die Mbekweni-spoorlyn in die Paarl aangetref. Haar vriend was ten tyde van die voorval glo op borgtog nadat hy verlede maand weens haar beweerde aanranding aangekeer is.

Action Society het intussen ʼn regspan aangestel om dié saak dop te hou.

“Die saak is tot 13 September uitgestel wanneer die beskuldigde in die hof sal verskyn vir ʼn formele borgtogaansoek,” het Heinrich Gonzales, hoof van die regspan wat Action Society aangestel het, gesê.

Ian Cameron, woordvoerder van die organisasie, sê vroue moet nou meer as ooit tevore vir hulself opstaan – en hulself bewapen.

“Hoe word daar van vroue verwag om veilig te voel as die regering aanhoudend geweldsmisdadigers vrylaat en ons verbied om ʼn vuurwapen te besit wat vir selfverdediging gebruik kan word,” het Cameron, met verwysing na die beplande wysigings aan die Vuurwapenwet, gesê.

‘Verkragters’ op vrye voet

Maroela Media het vroeër berig dat altesaam 96 785 skedule 8-oortreders – dit sluit moordenaars en verkragters in – sedert 2016 op parool vrygelaat is sonder dat ʼn DNS-monster by die forensiese databasis ingedien is.

ʼn Wysigingswet hieroor bepaal dat die monsters ingedien moet word, maar die wetgewing wag steeds op pres. Cyril Ramaphosa se handtekening.

Sedert Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, die skoksyfers bekend gemaak het, het dit aan die lig gekom dat altesame 20 000 van hierdie misdadigers in Gauteng woon.

Die DA het intussen Woensdag aangekondig dat 36 647 sake wat verband hou met seksuele misdrywe in die Wes-Kaap steeds uitstaande is weens die agterstand van DNS-monsters wat nie verwerk word nie.

Gillion Bosman, voorsitter van die Wes-Kaapse staande komitee oor maatskaplike ontwikkeling, het ʼn dossier by die president se nasionale raad vir geslagsgeweld ingedien wat dié enorme agterstand uiteensit.

“Ons vra dat die raad, in samewerking met die polisie, die DNS-verwerking na die private sektor uitkontrakteer sodat die agterstand dringend aandag kan geniet.”

Volgens Bosman sal dit sowat 18 maande duur om die agterstande in te haal.

“Slagoffers van hierdie soort geweldsmisdade het genoeg gely en weens die polisiediens wat versuim het om ʼn tenderproses te verseker wat die DNS-ontledingsmasjiene diens, sal hulle net verder ly.

“Sommige masjiene is reeds meer as 1 200 dae buite werking,” sê Bosman.

“Vroue sien hoe diegene wat hulle mishandel het op vrye voet is net omdat die DNS-proses wanbestuur word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann ·

Vereenselwig jouself met hoe jy n staat van anargie skep EN onderhou! ALLA ANC LEGACY!!!!!!

Trotse Boervrou ·

Uitstekend! Ek ondersteun dit 100%. Laat ons dit self doen want die Regering is te sleg en die mans wat dit doen en graag wil help, word meestal in die tronk gestop omdat hul dan nou kwansuis die reg in eie hande geneem het.

Persheks Adri ·

Cyril vat so lank om te teken, maar ons moet dit bekamp en hoed beoordeel en spreek kommer uit… Net nog meer rede hoekom ons nie ontwapen sal word nie!

Hoop die klomp slaap lekker in die aand met die wete ons is onveilig! Gooi die tronk deure en grense verder oop ANC en laat SAPS nóg minder werk!

Sarel ·

Dit is nou hoe die Regering Vrouens & Kinders beskerm.
Verder is Minister Cele besig met ontwapening van
Wetsgehoorsame Burgers

Persheks Adri ·

Hy gaan dit nie reg kry nie, want ons gaan dit nie toe laat nie punt.

#013 ·

Ons wettelose land word net beter en beter. Almal het menseregte behalwe wetsgehoorsame burgers.

Hennie J ·

Nie net self bewapen nie. OOK opleiding ondergaan om die wapen behoorlik en effektief te gebruik.

pieter ·

Met die regime gaan niks verbeter nie , dit gaan net slegter , hoe gaan jy jouself beskerm / verdedig as lisensies nie goedgekeur word nie

Belinda ·

onsself bewapen maar ons moet ons wapens inhandig? Praat van dubbel standaarde! Na jy jouself beskerm het dan word jy nog in die tronk gegooi ook.. wie try wie flous hier?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.