Vroue moet ligloop vir dié 3 dodelike hartrisiko’s

Argieffoto: Pixabay

Vroue wat rook, diabetes het of aan hoë bloeddruk ly moet ligloop; hulle kanse om ʼn hartaanval te kry is skrikwekkend hoër as dié van mans.

Al kry mans oor die algemeen meer hartaanvalle as vroue, en selfs al rook ʼn man en hy het ook diabetes of hoë bloeddruk, is ʼn vrou wat in dié kategorieë val, se kanse op ʼn hartaanval steeds groter.

Dit is bevind in ʼn studie wat pas in die vakjoernaal BMJ gepubliseer is. Kenners aan die Universiteit van Oxford het die gesondheidsinligting van byna 472 000 mense bestudeer wat geen geskiedenis van kardiovaskulêre siektes gehad het nie.

Daar is gevind indien ʼn vrou rook, is haar risiko om ʼn hartaanval te kry 55% hoër as dié van ʼn man wat rook. Terwyl haar kanse om ʼn hartaanval te kry indien sy hoë bloeddruk het, 83% in vergelyking met ʼn man se relatiewe kanse indien hy aan dié toestand ly. Tipe-2-diabetes verhoog ʼn vrou se kanse op ʼn hartaanval met 47%, in vergelyking met ʼn man se kanse, sou hy diabetes hê.

Volgens die studie is hierdie die eerste van sy soort wat na die verskille in die risiko vir ʼn hartaanval kyk, tussen mans en vroue met dieselfde toestand, of wat rook. Omdat leefstylfaktore al meer bydra hiertoe en mense al hoe ouer word, is die verwagting dat mans en vroue uiteindelik dieselfde aantal hartaanvalle sal kry, selfs sonder dié drie faktore.

Argieffoto: Pixabay

Die benadering van hartsorg vir vroue het ook begin verander nadat die internasionale Amerikaanse hartvereniging ʼn beleidsverklaring in die vakjoernaal Circulation gepubliseer het, omdat vroue nie korrek gediagnoseer en behandel word nie.

Vroue kry nie sulke erge blokkasies in hul are soos mans nie, tog wanneer daar ʼn bloedklont is, is daar skade aan die hart se kransslagaar en dan is die bloedtoevoer te min na die hartspier.  ʼn Stent word minder gereeld wil vroue gegee.

Wanneer daar gepoog word om bloedtoevoer te herstel, is daar soms komplikasies by vroue omdat hul are en slagare kleiner is, en hulle ouer is wanneer hulle ʼn hartaanval kry. Daarby, het hulle dan reeds siektes oos diabetes-tipe-2 en hoë bloeddruk

Simptome is: Vroue kan borspyn ervaar, net soos mans, maar dit is meer algemeen om kortasem te wees, te braak, naar te wees en pyn in die kaak of rug te kry. ʼn Mens kan ook ʼn gevoel van “volheid” of druk in die middel van jou bors ervaar, pyn in albei arms, nek of maag en sweet.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Van die sweet kan ek getuig want lyk of iemand jou met water gegooi het. Dan die geweldige hoofpyn en brand op die bors. Na doktersbesoek het ek twee dae later hartaanval gehad. Twee by huis tot ambulans gekom het en twee terwyl ek in hospital gelê het. Wens niemand dit toe nie hoor

Taalpolisie ·

Daar is 3 foute in die tweede en derde paragraaf na die rookfoto. En dan kort daar ‘n spasie na die punt nog ‘n bietjie ondertoe.

Ek het nie die boonste gedeelte van die berig gelees nie.

Tania Heyns ·

Dagsê Taalpolisie

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

AmY ·

Julle kan hierdie berigte tot vervelens toe plaas, as mense nie wil hoor nie, sal hulle nie. Hulle sal net met verskonings kom, dat dit net so ongesond is om sjokolade en vetterige kos te eet as wat dit is om te drink.
Maar nou ja, as hulle nie wil hoor nie, moet hulle dan maar voel…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.