Vroue moet ‘sonder vrees vir aanvalle’ leef – LUR

geweld

(Foto: Tookapic/Pexels.com)

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga sê die nuwe jaar het droewig begin ná verskeie aanvalle op vroue in die provinsie.

Gabisile Shabalala sê sy het met afgryse kennis geneem van ʼn polisielid wat aangekeer is nadat hy Sondag glo twee mense vermoor het.

Maroela Media het vroeër berig die polisiebeampte het Sondagaand by sy vriendin (34) in Pienaar gaan kuier waar hy haar met ʼn ander man betrap het. Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê ʼn woordewisseling tussen hom, die vriendin en die ander man het uitgebreek waarna die polisiebeampte na bewering die man met sy dienspistool doodgeskiet het.

“Die polisiebeampte was daarna op ʼn moordtog uit en het sy vriendin noodlottig gewond terwyl sy na haar ouerhuis gehardloop het om hulp te ontbied,” het Hlathi gesê.

Die polisiebeampte het na bewering ook sy vriendin se broer gewond toe dié probeer ingryp het.

Die polisielid sou na verwagting Vrydag in die hof verskyn waar hy na verwagting om borgtog aansoek sou doen.

In nóg ʼn voorval is ʼn 28-jarige vrou en haar vierjarige dogtertjie verlede Donderdag in Machadodorp aangeval. Hul vermeende aanvaller, ʼn 35-jarige man, het glo by die slagoffers gaan kuier, maar ʼn mes uitgepluk en die ma en dogter tot in die kamer gedwing, waar albei glo verkrag is.

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Ander inwoner het alarm gemaak nadat die verdagte uit die huis gevlug het. Die polisie het hom die volgende dag aangekeer. Hy verskyn na verwagting volgende week in die hof, het Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, gesê.

Saterdag is die liggaam van ʼn 25-jarige vrou in ʼn oop veld in Tweefontein gevind. Sy is verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek en was reeds dood toe die polisie daar aangekom het. Niemand is nog in verband met dié voorval aangekeer nie.

Shabalala het by die polisie gepleit om die sake deeglik te ondersoek sodat die skuldiges behoorlik kan boet vir hul dade en die lyding wat hulle veroorsaak.

Sy het ook gevra dat inwoners met inligting oor misdaadvoorvalle dit by die polisie aanmeld.

“Ons móét misbruik by die polisie aanmeld. Ons wil hê geweldenaars moet vrot in die tronk sodat vroue en kinders vryelik kan leef, sonder vrees dat hulle aangeval gaan word. Ons howe moenie borgtog aan dié perverte toestaan nie en hulle moet swaar tronkstraf opgelê word. Ons het gemeenskapsbetrokkenheid nodig in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld.

“Dit gaan ook nie help om die voorvalle net te veroordeel nie. Alle betrokkenes en die burgerlike samelewing moet saamwerk in die stryd teen misdaad,” het Shabalala gesê.

Die LUR het vroue gevra om nié in skadelike verhoudings te bly nie en weg te stap van lewensmaats wat hulle mishandel of misbruik vóór dit te laat is.

Sy het gepleit vir meer ondersteuning aan slagoffers van misbruik sodat hulle nie later weer getraumatiseer word nie.

Die LUR het ook haar medelye betuig met die betrokke families en gesê die regering gaan alles moontlik doen om ʼn einde aan dié soort geweld te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.