Vroue se liggame in vlak grafte in PE gevind

‘n Vlak graf. Argieffoto: SAPD

Die liggame van twee vroue is die afgelope week in aparte vlak grafte in Gqeberha (Port Elizabeth) gevind.

Die polisie het die liggaam van Cynthia Williams (16) Woensdag gevind en Vicky Terblanche sʼn Saterdag vroegoggend. Williams is na bewering deur haar verloofde vermoor en Terblanche deur haar kêrel.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, is die polisie in Mount Road Vrydag omstreeks 21:50 van ʼn verdagte huis in ʼn woonkompleks in Eerstelaan in Millpark in kennis gestel. Met die polisie se aankoms op die toneel was die motorhuis se deure wawyd oop.

“Die polisiebeamptes het aangevoel iets is nie pluis nie. Hulle het forensiese hulp ingeroep,” bevestig Naidu.

“ʼn 32-jarige man het in daardie oomblik by die huis aangekom en aangedui dat hy daar woon. Speurders het die man herken, want hy het die Donderdag Terblanche, sy meisie, by die Mount Road-polisiestasie as vermis aangemeld.”

Die man is polisiestasie toe geneem vir ondervraging.

“ʼn Verdere ondersoek het die polisie na die kêrel se vriend se huis in Burtrylaan in Newton Park gelei, waar ʼn 24-jarige man ook ondervra is.”

Speurders het met behulp van die polisie se honde-eenheid die liggaam van Terblanche Saterdag omstreeks 03:00 in ʼn vlak graf in ʼn oop veld in Greenbushes gevind.

ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal.

“Terblanche se kêrel en sy vriend is albei in hegtenis geneem en aangekla van moord. Hulle sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Gqeberha verskyn.”

Die omstandighede rakende Terblanche se dood word ondersoek.

Williams se liggaam is Woensdag in die agtertuin van haar verloofde, Kyle Barnes, se huis in Bauhinisingel in Kamesh gevind. Sy was glo swanger ten tyde van haar dood.

“Daar word beweer dat die tiener op 11 Oktober deur haar 19-jarige verloofde doodgesteek is. Haar familie het haar by die polisie in Kamesh as vermis aangemeld.”

Barnes het Vrydag in die landdroshof in Kariega verskyn op aanklag van moord. Hy sal volgende week formeel om borgtog kan aansoek doen.

Brig. Thandiswa Kupiso, die waarnemende distrikskommissaris van Nelson Mandelabaai, het haar skok uitgespreek oor die wrede manier waarop die vroue moes sterf.

“Dit is verskriklik dat juis diegene naaste aan hulle die vroue soveel leed aangedoen het,” sê Kupiso.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lesly ·

Dis maar’n teken van die tye. Die lyn tussen reg en verkeerd is moeilik vir die mens om te onderskei. Korrupsie sonder einde en klaarblyklik is daar ook baie meer as net twee geslagte en so kan’n mens aangaan. Sodom en Gamorra kom by my op.
Sterkte aan die dames se families.

JM ·

Gemorsland in alle opsigte!! Om in hietdie land te moor is tweede natuur = barbarisme!

Genis ·

Gqeberha die regte naam… Gaan agteruit met n spoed… Geen waarde vir reg en verkeerd, lewe of dood… Mislukte sosiale ondersteuning fondasie… Geen waarde sisteem… dis eindelik so hartseer dat alles ten gronde gaan… In die demokrasie, is als wat reg is- verkeerd, en als wat verkeerd is- reg… Maar VIVA hulle sal weer so stem…

Maggies ·

Raak dit nou mode om eerder jou vriendin te vermoor as om net eenvoudig die verhouding te beëindig?

Di ·

Hierdie tipe geweld neem al hoe meer toe want die misdadigers kry net tronkstraf vir ‘n ruk dan word hulle op parool uitgelaat want die tronke is oorvol! Totdat die doodstraf nie heringestel word nie sal dit net erger raak. President vee ook sy agterent af aan geweld tussen vroue en kinders, als LEE beloftes as hy sy mond oopmaak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.