Vroue verdien steeds minder as mans

(Foto: SloughObserver.com via ANA)

’n Onlangse studie deur Unisa se Buro vir Marknavorsing (BMR) het bevind Suid-Afrikaanse vroue word steeds minder as mans betaal.

Die BMR het ’n verslag saamgestel op grond van sy inkomste-en-uitgawemodel ten einde ’n noukeurige ontleding van die beraamde inkomste in Suid-Afrika vas te stel. Die verslag se data strek van 2015 tot 2019 en bevat ’n scenario-ontleding vir vanjaar se inkomsteberaming.

Luidens die verslag bly vroue steeds aan die agterspeen suig met betrekking tot kontantvloeiverwante inkomste. Ongeveer tweederdes van hierdie inkomste is verlede jaar deur mans verdien. Dít is ondanks die feit dat daar omtrent dieselfde aantal vroue as mans in die land is.

Jacolize Meiring, hoof van die navorsingseenheid vir persoonlike finansies by die BMR, sê die hersiene uitslae wys ná betreklik hoë jaarlikse groeikoerse van sowat 7,5% tussen 2016 en 2017, het die groeikoers van persoonlike inkomste nou verlangsaam na sowat 5% tussen 2018 en 2019.

“Die verslag onthul dat daar steeds ongelykheid in Suid-Afrika is, met 73,8% van die volwasse bevolking wat slegs 8,8% van die kontantvloeiverwante inkomste vir 2019 verdien het,” sê Meiring.

Gegewe die verwoestende ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie neem die verslag ook die finansiële las op huishoudings, ondernemings en die regering onder die loep. Die verslag dui aan dat ’n groot aantal mense tydens die Covid-19-krisis hul werk verloor het en ook onder salarisbesnoeiings gebuk gaan.

Meiring sê met Covid-19 uitgereken, het die kontantvloei-inkomste gedurende 2020 met 5,9% gestyg.

“Die resultate van twee betreklik konserwatiewe scenario’s dui daarop dat indien 800 000 betrekkings verlore gaan, die kontantvloei-inkomste na raming ’n inkrimping van -1,7% in vergelyking met verlede jaar sal hê. ’n Algehele verlies van 1,6 miljoen poste gaan ’n inkrimping van 7,5% in kontantvloei-inkomste tot gevolg hê,” sê Meiring.

Sy sê werknemers in die middelklas wat vaardige beroepe in die formele sektor van die ekonomie beoefen, gaan die swaarste deur die pandemie getref word. In vergelyking met die verwagte groei in die afwesigheid van Covid-19 word daar geskat dat mense wat tussen R447 001 en R899 000 per jaar verdien die grootste inkomsteverliese gaan ly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Ek weet glad nie wat die studies wil of probeer bewys nie. DIe is weereens n bewys van hoe dinge oorgedra word sodat manne en vroue ook koppe stamp. “Ek is nie teen man of vrou nie, maar voor jy snert probeer opneem gaan lees jou Bybel mooi as jy n kind van God is.” EK het stellings oor dit, maar vir nou is die my rigting van hulp.

Michael

Was daar nie jare terug ‘n studie wat getoon het dat selfs vroue wat top posisies beklee, vroue minder betaal nie?

Jakes

So wat is die punt? is daar dan nou n wet wat bepaal dat vroue meer as mans moet kry? Is vroue nie anders as mans geskape nie?

Scalla

Dit gaan mos oor prestasie , produksie, ondrevinding en doelwitstellings, en die persoon wat die job kan doen, ongeag ras,geslag of kleur, duidelik nie een van die regering se prioriteite nie, dit is hoekom ons rommelstatus geniet.

Ou gees

Ek as vrou wonder of hulle in ag geneem het dat vroue, in die algemeen, nie dieselfde werk as mans wil doen nie. Hoeveel myners is vroue? Elektrisiëns? Konstruksie? Dit is dieselfde met STEM velde. En bollie dat hulle nie dieselfde geleenthede kry nie. Gee my eerder ‘n man wat hard werk, sodat ek ons klomp kinder by ons tuiste kan grootmaak. Ek HAAT dit om vir ‘n baas te werk. Imagine as elke vrou besluit om te bedank en huistoe gaan na hul mans? Werknemers sal noodgedwonge take moet herstruktureer en dus mans meer moet betaal. Ai, my ou… Lees meer »