Vroue werf glo meisies vir pastoor om seksueel te misbruik

Argieffoto

Twee vroue is Woensdag in hegtenis geneem nadat daar bewyse aan die lig gekom het wat toon dat hulle meisies gewerf het vir die Nigeriese pastoor wat van mensehandel en die seksuele misbruik van nagenoeg 30 meisies in Suid-Afrika beskuldig word.

Kapt. Anelisa Feni, woordvoerder van die Valke, sê die onderskeidelik 28-jarige en 36-jarige vroue is in Port Elizabeth in hegtenis geneem.

“Daar word beweer dat die vroue die meisies [vir die pastoor] gewerf het en dan hul bewegings fyn dopgehou het in die plekke waar hulle aangehou is,” sê Feni.

Sy sê ʼn ondersoek in dié verband duur steeds voort en dat nóg verdagtes waarskynlik in hegtenis geneem sal word.

Die vrou sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn.

Gert van Niekerk, vir die pastoor, het bevestig dat hy ook Donderdag weer sal aansoek doen om borgtog. Dit volg nadat sy eerste borgtogaansoek in Junie vanjaar van die hand gewys is. Sy aansoek is geweier toe landdros Thandeka Mashiyi bevind het hy is ʼn vlugrisiko en sou waarskynlik  met staatsgetuies inmeng.

Maroela Media het vroeër berig dié omstrede pastoor (58), wat op 20 April in hegtenis geneem is op aanklagte van mensehandel, het glo kerke in Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg en die Verenigde Koninkryk bestuur, en het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van dié kerke na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, geneem waar hy hulle glo seksueel misbruik het.

Hy staar nagenoeg 22 klagte van mensehandel en seksuele misbruik in die gesig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanna ·

Daar is iets wat ek nie verstaan nie! ‘n Mens hoor dikwels van die gevalle waar iemand gevang is vir “mensehandel”, maar dit is nie so dikwels in die nuus dat meisies verdwyn het om nie weer gevind te word nie! Dit is ook die geval met skoolkinders!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.