Vroueregte 1, ANC-parlementslid 0

Mduduzi Manana (Foto: Flickr/Governmentza)

Vroueregte in Suid-Afrika het vanoggend ‘n klein stappie vorentoe gegee toe die ANC-LP en voormalige adjunkminister van hoër onderwys, Mduduzi Manana, uit die parlement bedank het.

Manana sou vandag voor die parlement se staande komitee oor etiek en ledebelange verskyn het nadat hy verlede jaar glo sy huiswerker aangerand het.

Hy het ook ‘n vrou in ‘n Johannesburgse nagklub aangerand kort nadat sy hom hardop gekonfronteer het met gerugte dat hy gay is. Hy het haar toe te lyf gegaan. Die gebeure is deur ‘n geslotebaan-videokamera vasgelê. Kort daarna het Manana as adjunkminister bedank.

Hy het as parlementslid aangebly en die ANC het baie kritiek verduur omdat hy nie onmiddellik ook as parlementslid uitgeskop is nie.

Vandag sou hy voor die etiekkomitee verskyn het, waar die verwagting was dat hy harde bene sou kou, met spesifiek die EFF en die DA wat hul tande vir hom geslyp het.

Omdat hy toe op die nippertjie voor hy sou verskyn, uit eie beweging bedank het as parlementslid, kan die etiekkomitee hom nou nie meer straf nie want hulle het nie meer jurisdiksie oor hom nie.

Die gebeure het die siening in politieke kringe laat posvat dat die ANC hierdie keer oorgehaal was om wel een van sy lede aan die pen te laat ry vir wangedrag, en dat dit die rede is waarom Manana te bang was om voor die komitee te verskyn – die ANC-meerderheid sou hom nie beskerm nie.

Die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, het Manana se vrywillige bedanking verwelkom as ‘n neem van verantwoordelikheid vir sy dade, en ‘n teken van berou.

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, het nietemin die ANC versoek om ook intern dissiplinêr teen Manana op te tree en hom dus nie polities ongestraf te laat bly nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hardus Vermeer ·

Los eerder die politiese straf en vervolg hom krimineel.

Henk du Toit ·

Handsak gevegte gaan daardie man nog ver bring. Hoop nie iets bring hom weer terug nie.

Casper Labuschagne ·

Vroueregte? Na berig word, konfronteer ‘n werker haar werkgewer met ‘n gerug dat hy “gay” sou wees en hy rand haar aan. Dit is duidelike aanranding en sou hy vir die aanranding vervolg word sal geregtigheid dus seëvier. Sekerlik is dit ook verkieslik dat lede van die volksraad hulself nie aan kriminele dade en vergrype teen andere moet skuldig maak nie, maar ek vermoed dit is ook nie van toepassing by alle sittende parlementslede nie.

Maar hoe werk dit dat dit ‘n oorwinning vir vroueregte kan wees? Word vroue werklik geëmansipeer as ‘n manlike parlementslid bedank? Is dit van soveel groter belang sou ‘n vrou aangerand word as wanneer ‘n man aangerand word, of is aanranding nie dieselfde ding ongeag van geslag nie? Sou dit dus ‘n mindere saak wees sou ‘n vroulike parlementslid haar manlike tuinier aanrand as wanneer ‘n manlike parlementslid sy vroulike werker aanrand?

Vir my klink dit eerder na, “Propaganda deur aktiviste vir feminisme 1, ANC-parlementslid 0”

MarieM ·

Casper, die vrou wat by hom wou weet of hy gay is, is nie sy werker nie. Dit is 2 verskillende gevalle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.