Vroulike masjinis kaal uitgetrek, met baksteen geslaan

Foto: African News Agency

Pres. Cyril Ramaphosa het ʼn aanval vandeesweek op ʼn vroulike masjinis van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) ten sterkste veroordeel.

Dit kom nadat Prasa vroeër vandeesweek bevestig het dat ʼn masjinis saam met minstens tien ander persone op die trein, wat tussen Pretoria en Pienaarspoort gereis het, aangeval is.

Luidens ʼn verklaring van die organisasie is die vrou glo oorval, kaal uitgetrek, met ʼn baksteen geslaan en toe in die bosse ingetrek. Die verdagtes het vermoedelik gevlug nadat reaksiespanne by die toneel aangekom het.

Cromet Molepo, Prasa-hoof, het ná die aanval gesê die spooragentskap is “ontsteld oor die katastrofiese vlakke van misdaad” wat teen sy werknemers en bates gepleeg word. Molepo het bevestig dat dringende ingryping, selfs dié van belangegroepe en die gemeenskap, nodig is.

Ramaphosa het op sy beurt in ʼn verklaring gesê die regering sal nie toelaat dat enige misdaad ongestraf bly nie. Hy het ʼn verslag van Prasa versoek oor hierdie voorval én ander aanvalle op die maatskappy se werknemers wat hom teen Vrydag moet bereik.

Ramaphosa het gesê hy simpatiseer met die slagoffers van die jongste Prasa-aanval en die impak wat dié aanvalle op die slagoffers se lewens het.

Hy het ʼn beroep op Prasa en die plaaslike owerhede gedoen om hul bes te doen om “oortreders aan die pen te laat ry”.

“Ons sal streng optree teen enige misdadigers wat openbare bates of dienste vernietig. Hierdie tipe kriminele aktiwiteite beïnvloed die gebruikers van dié dienste, asook die personeel wat lede van ons gemeenskappe is. Die regering wil altyd hoor oor griewe wat bestaan en saam met Suid-Afrikaners werk om enige probleme wat hulle in die gesig staar, te oorkom. Geen grief regverdig geweld of vandalisme nie,” het hy gesê.

Blade Nzimande, minister van vervoer, het intussen glo reeds onderneem om ʼn plan aan Ramaphosa voor te lê wat sal uiteensit hoe die situasie by Prasa moontlik genormaliseer kan word.

Dié voorval is die jongste van talle wat verlede jaar die gemeenskap geruk het. ʼn Veiligheidswag is onder meer verlede jaar in Kaapstad tydens ʼn aanval op een van Prasa se treine doodgeskiet. Talle soortgelyke voorvalle is ook al in KwaZulu-Natal aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ben ·

Ramaphosa is arrogant om hierdie voorval te veroordeel, al is dit afstootlik en krimineel. Dis onder sy politieke party se vaandel dat misdadigers amper meer regte as slagoffers geniet, waar strawwe afgewater is en weinig impak op misdaad bekamping het, en waar polisiëring en wetstoepassing gepolitiseer is en by tye korrup is. Maak dit eers reg en ons kan almal veiliger leef en werk.

snoefie ·

hy is n geleerde man, maar hy wil “rassisme” ook swaarder straf as moord.

Ella ·

Arme vrou. Wat gaan aan met die mense? Ek is so jammer om dit te se maar waaragtig sommige van ons landgenote is met niks tevrede. As die treine nie loop nadat hulle brand gestig en amok gemaak het is hulle kwaad. As dit wel loop val hulle die personeel en pendelaars aan op allerlei maniere. Sowaar my hart bloei vir ons land.

Wilma ·

Ons woon mos in SA . Dis criminals paradise. SA Regering moet die blaam dra want dis hul wat wette ingebring het wat di krimineel beskerm.

Janneman ·

Cyril, het jy al gehoor van die gruwelikke aanvalle op ou mense, vrou en kinders op ons plase? Het jy al gehoor hoe malema mense aanhits tot rassisme en geweld?

Tensy jy begin om alle geweld te verdoem gaan jy binnekort die padda in die pot word!

Hanna ·

Plaasmoorde, martelings en verkragtings wat daarmee saamgaan geniet nooit die aandag van CR nie! Ten minste het die vrou oorleef… Dubbele standaarde!

JoeV ·

Jô, streng optree teen misdaddigers nogal…. en ongestraf sal dit nie wees nie, manne raak streng. Wonder of hulle nie maar eerder wil probeer om die soort optrede net te laat stop nie? In aggenome dat hulle nou al 100 jaar lank die volk geleer het om geen wet te respekteer nie. Sterkte.

Marinda ·

Te veel jare het verloop om nou iets aan dit te wil doen. Amper 25 jaar lank maak almal net wat hulle wil, hoekom sal dit nou verander?

Coen ·

Dit kom alles neer op die polisie as die hulle werk doen sal misdadigers twee keer dink om mense aan teval mense doen wat hulle toegelaat word en die polisie laat hulle toe om te maak wat hulle wil.

Jo-anli ·

So onmenslik en wreedaardig om enige vrou so te disrespek. Dame wie jy I, ek bid vir jou en hoop vinnige herstel, emosioneel gaan dit miskien nooit heel. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.