Vroulike werkers van Kaboelse stadsraad ‘moet tuis bly’

Afghaanse vroue betoog Sondag vir beter vroueregte in Kaboel, Afghanistan. (Foto: BULENT KILIC / AFP)

Vroulike werknemers van die stadsraad in Kaboel, Afghanistan, is aangesê om van Maandag af tuis te bly terwyl slegs vroue wat tans werk verrig wat nié deur mans verrig kan word nie, sal mag werk.

Dít beperk vroue tot die skoonmaak van dameskleedkamers, berig CNN.

Die waarnemende burgemeester van Kaboel het Sondag gesê alle munisipale poste wat deur vroue beklee word, sal deur mans gevul word.

Dít volg maar sowat ’n maand ná die Taliban beheer oor Afghanistan geneem en hand en mond beloof het dat ’n herhaling van sy vorige wrede en onderdrukkende regering nie sou plaasvind nie.

Tog het die ministerie van onderwys die afgelope naweek slegs manlike onderwysers en studente beveel om na die land se hoërskole terug te keer. Daar was geen sprake oor die land se miljoene vroulike onderwysers en leerders nie en die Taliban beweer ’n “veilige vervoerstelsel” moet eers vir vroulike leerders ingestel word voordat hulle na die klaskamer kan terugkeer.

“Ek kan net sowel dood wees”, het ’n vrou Maandag gesê, nadat sy uit haar senior rol by die ministerie van buitelandse sake ontslaan is.

“Ek was in beheer van ’n hele departement en daar was baie vroue wat saam met my gewerk het … nou het ons almal ons werk verloor,” het sy aan AFP gesê. Die vrou het daarop aangedring dat sy nie geïdentifiseer word nie uit vrees vir vergelding.

Die Taliban het Vrydag ook skynbaar die voormalige regering se ministerie van vrouesake gesluit en dit vervang met ’n ministerie wat tydens die Taliban se eerste bewind bekendheid verwerf het vir die afdwing van godsdiensleer.

Die Taliban het nog geen formele beleid uitgereik wat vroue uitdruklik verbied om te werk nie, maar die verbod word in die stadium deur individuele amptenare afgedwing.

Die Taliban se nuwe regering sluit ook geen vroue in nie, ten spyte daarvan dat hy ʼn inklusiewe regering beloof het wat kwansuis ʼn weerspieëling sou wees van die etniese samestelling van die land.

Mullah Mohammad Hassan Akhund, ʼn senior minister tydens die Taliban se brutale en onderdrukkende regime in die 1990’s, is aangewys as waarnemende eerste minister.

Al die topposte word beklee deur sleutelleiers van die Taliban en die Haqqani-netwerk, die gewelddadigste tak van die Taliban wat bekend is vir sy verwoestende aanvalle.

Volgens ’n woordvoerder van die Taliban is dit ’n tussentydse regering.

Amptenare van die Taliban hou intussen vol vroue is aangesê om vir hul eie veiligheid tuis te bly en sal toegelaat word om te werk sodra behoorlike segregasie geïmplementeer kan word.

“Wanneer sal dit wees?” wou ’n vroulike onderwyser egter Maandag weet.

“Dit het die vorige keer gebeur. Hulle het aanhoudend gesê dat hulle ons sal toelaat om terug te keer werk toe, maar dit het nooit gebeur nie.”

Vroue was van 1996 tot 2001 onder die Taliban se bewind grootliks uitgesluit uit die openbare samelewing. Afghaanse vroue mag destyds slegs hul huis verlaat het indien hulle deur ’n manlike familielid vergesel is.

Geen amptenaar van die nuwe regime het Maandag op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Bronne: AFP, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Friedrich

Hier gaan ons alweer

Jaco

Het Afghanistan ‘n ambassade in Pretoria? Want hulle kan BAIE van regstellende aksie en diskriminasie teen minderheidsgroepe by SA leer. Dis mos ANC-beleid ook.

Hardekwas

Bokwagters, islam. Slegte kombinasie.

Blikkies

Maar almal het geweet die Taliban sal hulle nie steur aan die buitelandse vereistes nie en sal ook nie hulle belofte nakom nie. En wie is nou van plan om wat te doen….

Johann

Wel ek neem aan dis die teen kant van wat FREEDOM FOR ALL onder n bevrydings terroris regerig behels?