Vryheidstigting bring hulde aan sosiale demograaf

Dr. Chris Jooste. (Foto: Erika Jooste)

In ʼn artikel oor dr. Chris Jooste in 2011 sluit Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, met hierdie woorde af: “In Orania is dr. Jooste se teenwoordigheid ʼn vaste punt; is dit ʼn geestelike landmerk. Ons huldig hom.”

Dié burgerlike inisiatief, wat homself toespits op navorsing en strategiese skakeling om Afrikaners te help met die vrye uitlewing van hulle identiteit en strewes, het Dinsdag met soortgelyke grootse woorde en gedagtes Jooste se lewe gedenk.

Jooste, wat in Stellenbosch gewoon het, se gesondheid het verlede week vinnig verswak ná ʼn operasie om ʼn gebreekte been te herstel. Hy is Maandag in die ouderdom van 98 oorlede.

“As befaamde sosiale demograaf het Jooste, as direkteur van die destydse Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (Sabra), vandag die Vryheidstigting, nie net navorsing oor die Afrikaner se toekoms in Afrika georganiseer nie, maar self ook sy insig en denke in vele publikasies gedeel,” het Boshoff gesê.

Jooste se reusewerk in Sabra, veral tussen 1968 en 1982, het aan die Afrikaner se vryheidstrewe ʼn nuwe karakter en woordeskat gegee, een wat selfs teen die heersende gedagtes van die politiek van die dag, ongewild, ingedreun het.

“Sy dinkwerk, soos byvoorbeeld sy 1991 publikasie ’n Volkstaat vir Boere-Afrikaners: Lesse uit die Joodse besetting van Palestina verstom steeds, 30 jaar later, met die insig in ons eie volk se bestaanskrisis en die demografiese antwoord op ons politieke verlamming.”

Boshoff het gesê Jooste het, met wetenskap, insig en bykans tasbare logika, sy fenomenale dinkwerk in die ongekarteerde grond van die Afrikanertoekoms ingeploeg, en vandag kan Afrikaners in die skaduwee van sy grootsheid voortbou.

“Dit is dus met dank en erkenning dat die Vryheidstigting Jooste se heengaan na die ewigheid op Maandag 22 Februarie 2021 sal onthou.

“Ons bid die gesin, familie, vriende en volksgenote seëning en vertroosting toe, waar dit inderdaad ʼn groot gees is wat, ook soos sy eggenote kort te vore, die reis na sy ewige tuiste onderneem het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Toe die verregse AWB in die 1980s van selfbeskikking en volkstaat gepraat het, het die regerende Nasionale Party dit afgeskiet as rassisme. Die regse Konserwatiewe Party en die ewe regse Herstigte Nasionale Party (dié 2 partye kon om duistere redes nooit saamwerk nie) het weer gesê “ ‘n volkstaat kan nie werk nie”. In 1991, toe almal al geweet het dat die ontbande ANC ‘n veelrassige verkiesing sou wen, het net 60 mense darem Orania gestig, maar na amper 30 jaar bly daar minder as 2000 mense, wat in 8 kerke verdeel is. Amper 1 miljoen nee stemme van 1992 se referendum was in 1994 af na 425 000 vir die VF-Plus en daarna minder met elke verkiesing.
Ons het ons kanse gehad, maar toe was daar mos verskonings van “dit kan nie werk nie” en enersdenkende groepe wou ook nie saamwerk nie. G’n wonder die ou wit Nasionale Party regering wou ons nie help nie. Na 1994 ook maar ‘n sterk gebrek aan belangstelling. Selfbeskikking nou is te laat. Die anti-wit ANC sal dit nooit vir ons gee nie.

Dries ·

‘n Seder het geval. Daar stap n man verby. RIV dr. Jooste

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.