Vrystaat-boere geloof vir veediefstal-bekamping

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Die Vrystaatse polisie het Woensdag die boeregemeenskap van die Lindley-omgewing in dié provinsie geloof vir hul hulp om veediefstal in die omgewing hok te slaan.

Kapt. Zweli Mohobeleli, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê plase in die omgewing loop al vir ʼn geruime tyd erg onder veediefstal deur.

Volgens Mohobeleli het die polisie besef die hoeveelheid beamptes wat op enige gegewe tyd aan diens is, is nie genoeg om dié misdaad te bekamp nie. Die polisie het daarom besluit om ʼn WhatsApp-groep te begin waardeur polisiebeamptes wat op rusdae of met verlof is, of reeds aan diens is, maar gevra word om langer as normale ure te werk, gekontak kan word.

“Hierdie beamptes was gewillig om hul families agter te laat, hul blou uniforms aan te trek en ver afstande af te lê om, soms oornag of in die reën, patrollies te doen,” het Mohobeleli gesê.

Kapt. Tebalo Mofokeng, bevelvoerder van die Lindley-polisiestasie, het besluit om die boeregemeenskap te betrek om die polisie se pogings nog meer te versterk. “Die resultate hiervan was onmiddellik sigbaar,” het Mohobeleli gesê. “Die boere het hul eie WhatsApp-groep begin en kon sodoende onmiddellik gemobiliseer word sodra inligting [oor veediefstal] ontvang word. So kon hulle in rekordtyd die nodige hulpbronne beskikbaar stel en saam met die polisie op patrollies gaan.”

Mohobeleli het ʼn paar suksesverhale gedeel, onder meer dié van ʼn voorval op 25 November toe ʼn 27-jarige verdagte met ses vermeende gesteelde skape in sy motor vasgetrek is. “’n Paar dae later het ʼn boer ʼn verdagte man op sy plaas aangetref. ʼn Konfrontasie het gevolg en die boer is deur die man aangerand,” het hy gesê.

“Die boere en die polisie is onmiddellik in kennis gestel en ʼn soektog na die man is van stapel gestuur. Sestien skaapkarkasse wat in swartsakke toegedraai is, is gevind in die voertuig wat die verdagte agtergelaat het. Drie verdagtes is dieselfde dag in hegtenis geneem.”

Op 6 Desember is nog inligting op die WhatsApp-groepe versprei van veediewe in die gebied. ʼn Groep boere en polisiebeamptes het op R76 Bethlehem/Lindley-pad gewag en ʼn verdagte motor voorgekeer. Twee lewende skape is in die kattebak van die voertuig gevind. Twee mans en een vrou is in hegtenis geneem.

Kort daarna is nog drie verdagtes in hegtenis geneem en 12 gesteelde skape lewend teruggevind. Hierdie verdagtes is ook verbind met ʼn vorige veediefstalsaak waartydens sewe skape gesteel is.

Marius Henning, ʼn boer in die gebied, het gesê hy voel bemoedig deur die vordering wat tot dusver gemaak is. “Ons is trots dat ons moontlik daartoe bygedra het om ʼn veediefstal-sindikaat wat in verskillende dele van die provinsie bedrywig is, tot niet te maak. Hopelik kan ander boere en polisiebeamptes ons voorbeeld volg,” het hy gesê.

Mohobeleli het bygevoeg veeboere is een van die hoekstene van landbou in die Vrystaat en ʼn lewensbestaan vir talle. “Dit verskaf noodsaaklike voedselsekuriteit vir die hele land. Enige dreigement vir hierdie deel van ons samelewing is ʼn direkte dreigement vir ons ekonomie en welstand,” het hy gesê. “Innovering en samewerking is noodsaaklik as ons [die stryd teen misdaad] wil wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nenna ·

Wonderlik, Wonderlik, Wonderlik!
Dankie Kaptein Mohobeleli en Kaptein
Mofokeng en manne van Lyndley polisiestasie. Dankie aan boere van Lyndley omgewing! Dankie dat julle ons hoop gee vir die toekoms van hierdie geliefde land van ons.

JC ·

Baie dankie aan almal betrokke, Kapteine Mofokeng en Mohobeleli en die Boere!
Julle is almal wonderlik en maak mens bitter trots!

wilma ·

Fantasties manne en vroue in blou en boere met di wonderlike samewerking. Jul is mense om trots op te wees. Ons saluut jul

Johan vd Merwe ·

Wys jou wat gedoen kan word as almal saanwerk om misdaad hok te slaan.

Kobus ·

Vanaand kan ek met reg se dat my vertroue in die mans en vroue in blou weer positief word…daar nog baie werk te doen…maar dis n begin…wys ons kan saamwerk en hierdie mooi land van ons maak werk….baie geluk…doen so voort….EK SALUEER JUL ALMAL

Christo ·

Welgedaan SAPS en boere wat bewys dat julle saam werk en tegnologie gebruik. Reël ‘n ou braaitjie waar almal saam en die polisie se gesinne genooi word om dankie te sê asb. Polisie beamptes se salarisse is maar skraps.

Gerhard ·

Die polisie op die foto lyk sommer netjies…n’ teken van goeie discipline, dan sal jy goeie resultate kry.

Uiltjie ·

CHEROKEE, jy moet maar wegbly uit die Kalahari met jou pynlik korrekte Afrikaans, want hier drink ons water wat BITTER LEKKER is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.