Vrystaat-brand verwoes 20 plase  

Nagenoeg 20 plase in die brand vernietig. (Foto: Verskaf)

Sowat 30 000 hektaar, wat weiding, vee en infrastruktuur insluit, is Donderdag in Dealesville en Boshof in die Vrystaat deur vlamme verteer. Dit is boonop die tweede keer in net een jaar dat dié gebied deur brande verwoes word.

Volgens Johann Steenkamp, voorsitter van AfriForum se Boshof-tak, is nagenoeg 20 plase in die brand verwoes.

“Ons wag egter nog vir die lugfoto’s om die finale oppervlakskade te bepaal.”

Maroela Media het vroeër berig dat die oorsaak van die brand in dié stadium onbekend is, maar dat dit moontlik as gevolg van ’n elektriese kabel kan wees wat weens sterk wind gebreek het.

Teen Vrydagoggend was die brand oënskynlik geblus, maar het talle beseerde diere en vee steeds gely.

“Die staatsveearts is in die proses om plase te besoek waar vee erg gebrand het. Ons sal dus in die volgende paar dae weet wat die omvang van die veeskade is,” sê Steenkamp.

Duisende hektaar weiding is vernietig en talle vee dood nadat ’n brand Donderdagmiddag tussen Boshoff en Dealesville in die Vrystaat uitgebreek het. (Foto: Verskaf)

Volgens inligting is geen huise in die brand vernietig nie en is niemand ernstig beseer nie.

Steenkamp sê voorts dat plaaslike strukture reeds kragte saamgesnoer het om droogtehulp vir die betrokke boere te reël.

“Ons het nog skenkings van verlede jaar oor en het ook vars bale wat by die boere afgelewer sal word.”

Meer as ’n 100 000 ha is in Oktober verlede jaar oor vier dae in groot gedeeltes van die Vrystaat en Noord-Kaap, waaronder Dealesville, Boshof, Hertzogville en Hoopstad, deur brande verwoes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fedup ·

Extremely devastating news.
As if farmers don’t have enough problems as it is.
My heart goes out to all if you.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.