Vrystaat-brande: Mosie aanvaar om boere te help

Sowat 100 000 hektaar weiveld is verwoes. (Foto: Vrystaat Landbou)

Die nasionale raad van provinsies (NRP) het Donderdagmiddag eenparig ʼn mosie aanvaar om die landbouminister te versoek om die Vrystaatse distrikte, wat vandeesweek onder brande deurgeloop het, as ‘n rampgebied te verklaar.

Die Demokratiese Alliansie het die mosie ter tafel gelê en versoek die minister van landbou, Thoko Didiza, om die distrikte van Hertzogville, Dealesville, Boshof, Bultfontein en Hoopstad tot rampgebied te verklaar waar meer as 100 000 hektaar grond vandeesweek in brande verwoes is.

George Michalakis, die DA se lid vir sekuriteit en justisie in die NRP, het gesê dit sal hopelik die nasionale en provinsiale regering in staat stel om die nodige noodhulp aan die landelike gemeenskappe beskikbaar te stel. “Hierdie gemeenskappe vorm die kern van die plaaslike ekonomie en die noodhulp sal die gemeenskap deur middel van finansies en ander hulpbronne help om weer op sy voete te kom.”

Buiten geweldige verliese wat betref landbougrond, het duisende vee ook in die brand omgekom. Sommige diere moes deur die dierebeskermingsvereniging van kant gemaak word.

“Die DA se mosie versoek ook die Suid-Afrikaanse Polisiediens om beslissend op te tree teen diegene wat verantwoordelik is vir die ramp. Brandstigting is ʼn misdaad en dit is nooit die oplossing vir diensleweringsbetogings of ʼn middel tot protes nie. As die mense van die Tokologo- plaaslike munisipaliteit ʼn beter toekoms wil hê, moet hulle volgende jaar teen die ANC stem,” het Michalakis bygevoeg.

“Die DA sal steeds die landbougemeenskap ondersteun as ʼn skepper van poste en geleenthede en hoop in die Vrystaat. Ons haal ons hoed af vir die gemeenskap en hoe hulle mekaar in dié tyd ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Gemaskerde Sopbeen

Ek vermoed die agbare Minister is doof en blind. Hoekom moet sy deur ‘n mosie wakker gemaak word. Sy weet mo swat aangaan en moet optree.
Ander moontlikheid is:
Dalk het sy haar seker afgesonder, of sy is seker op reis; miskien slaap sy en moet wakker word.