Vrystaat-busongeluk: Oorledenes se name bekend

Foto: Departement van gesondheid.

Foto: Departement van gesondheid.

Die ANC in Gauteng het Maandag die name bekendgemaak van sy lede wat die afgelope naweek in ʼn busongeluk in die Vrystaat dood is toe hulle teruggereis het van Port Elizabeth waar die party se plaaslike verkiesing manifes-bekendstelling gehou is.

Sizakele Nkosi-Malobane, LUR vir gemeenskapsveiligheid en Gautengse uitvoerende komiteelid, het gesê die tien slagoffers van die ongeluk sal Dinsdag van die Vrystaatse lykshuis na die een in Germiston vervoer word. Die tien oorledenes was almal lede van die ANC in die Ekurhuleni-gebied. Hulle is Tiisetso Tselo, Sesi Mtshali, Sana Sibeko, Mphikeleli Malindi, Gugulethu Sithole, Vusi Nkabinde, Daphney Linda, Sicelo Kheswa, Sphamandla Gedle en Simphiwe Nhlapo.

“Die tien comrades sal na die Germiston-lykshuis vervoer word waar die families hulle amptelik sal uitken. Ek het reeds saam met lede van die SAPD die families van die oorledenes besoek en hulle van die tragiese ongeluk ingelig,” het Nkosi-Malobane Maandagmiddag gesê.

Mzwandile Masina, die ANC se distriksvoorsitter en adjunk-minister van handel en nywerheid, het gesê net minder as 70 ANC-lede het in die bus van Kabati-vervoerdienste gereis. “Van die lede het reeds teruggekeer huis toe [ná die ongeluk] en 15 van hulle is tans in verskeie mediese sentrums regoor die land. Tien is steeds in hospitale in die Vrystaat waar hulle behandel word.”

Hy het gesê die owerhede wag nog op die uitslag van ʼn ondersoek om te bepaal of die bus in ʼn goeie toestand was en of bewerings dat die ongeluk gebeur het toe twee bestuurders mekaar in die bewegende bus afgelos het, waar is.

Paul Mashatile, die ANC se provinsiale voorsitter, het gesê die Ekurhuleni-gebied sal in samewerking met die provinsie verseker dat elk van die oorledenes ʼn behoorlike begrafnis ontvang. “Hierdie comrades was deel van die groter familie van die ANC, sommige was leiers in die tak en is eers vanjaar verkies. Hulle het nog ʼn lang pad voor hulle gehad om die tak te lei,” het Mashatile gesê.

Hy het gesê die besonderhede van die begrafnisse en gedenkdienste sal bekendgemaak word sodra ʼn begrafniskomitee met al die families ooreengekom het oor die beplanning.

Lees alle vorige berigte oor die Vrystaat-busongeluk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

NEL ·

Wonder wie gaan betaal vir die begrafnisse Gaan dit die ANC wees of die belasting betalers. As die regering van die dag nie die land so ondergesit het nie was dit nie nodig vir die mense om so ver tery om ‘n byeenkoms by te woon nie. Dan sal daar nie sulke ongelukke plaasvind waar mense hulle lewens verloor nie.

Scalla ·

Jammer met die lewensverlies, die drywers moet verantwoordelik gehou word. Ek vermoed die auto pilot sisteem het toe nie gewerk nie.

m ·

Die belastingbetaler gaan beslis weer vir hierdie begrafnisse betaal .

Inge ·

Dit is vir my verskriklik om te sien hoe min mense waarde heg aan ‘n ander mens se lewe. Julle behoort julle te skaam om sulke aanmerkings te maak. Ongeag vir watter party hulle stem etc, hulle het families wat lief is vir hulle, dalk kinders. Dit is ‘n verskiklike ding wat gebeur het, die mense wat agter gelaat is se lewens is verwoes oor drywers wat hulself simpel gehou het.

Lynet ·

Inge van ons kyk ook nie verby die leed nie maar feite is feite ons belasting betalers gaan nou
maar weer moet opdok. Jammer vir die families oor hulle verlies. Jammer ook vir die res van ons vir ons verlies van belasting gelde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.