Vrystaat-dubbelmoord: Bejaardes albei in kop geskiet

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

Die Vrystaat-polisie het meer inligting bekend gemaak nadat die liggame van ʼn bejaarde egpaar Dinsdag op hul plaas in die Vanstadensrus-omgewing, tussen Zastron en Wepener, gevind is.

Sers. Mosili Ntsika, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die egpaar se huiswerker het vanoggend op die egpaar afgekom en dadelik die polisie ontbied.

“Die egpaar is albei met ʼn kopwond in hul slaapkamer aangetref. Hulle was albei in hul stoele vasgebind,” het Ntsika gesê.

Ntsika het gesê daar was geen teken van gedwonge toegang aan die buitekant van die huis nie, maar dat ʼn veiligheidsdeur aan die binnekant van die huis na bewering oopgedwing is.

Die egpaar se voertuig, ʼn silwer Chevrolet Spark met die registrasienommer FWZ 736 FS, is gesteel sowel as vuurwapens en die egpaar se selfone. Die voertuig is nog nie gevind nie.

Die polisie ondersoek ʼn plaasaanval en twee sake van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Dit is ook nog nie duidelik hoeveel aanvallers by die moorde betrokke was nie.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het aan Maroela Media gesê die man was 78 jaar oud en die vrou 67. Hulle was albei lede van AfriForum.

Die egpaar is vermoedelik Dinsdag tydens die vroeë oggendure vermoor.

Die name van die slagoffers is bekend, maar word weerhou totdat al hul naasbestaandes van hul dood in kennis gestel is.

Volgens Müller is 34 mense, dié egpaar ingesluit, vanjaar reeds op plase landswyd vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Annie ·

Sterkte aan die familie en vriende – hierdie is so wreed. So hierdie is ‘n plaasaanval – want mense is onnodig vermoor – maar as hulle net by jou inbreek en jy jaag hulle weg is dit niks. Dis ook ‘n plaasaanval Polisie .

Ronel Dreyer ·

God se vertroosting vir die familie en vir ons Volk wat op die altaar is.
Is Daar n webwerf wat die moorde op ons mense volg en opsom? Ek wil dit wys vir mense hier in Kanada. Hier is Kanadese wat Diep gegrief is oor wat in SA gebeur.

Ella ·

Ek het begin met so n lys in Maart toe daar al 109 plaasaanvalle was. Dit het my in n diep depressie laat verval en ek kon nie met my dagtaak aangaan.
My hart gaan uit na die mense wat al deur hierdie geweld en moord getref is. Ek weet nie hoe hulle weer lig sien en aangaan maar ek bid altyddeur vir ons mense dat ons nie geloof en hoop verloor.
Ek se weer: die regering moet by die hoogste hof aangekla word van versuim om AL sy mense beskerm.

Anner Anton ·

Wed jou dit is mense wat vir hulle gewerk het in al 34 gevalle.

Kwaaitjie ·

Ek wil baie lelik praat as ek hieroor lees. Dis onsinnig. Onnodig. Hoeveel nog? Hoeveel mense gaan slaap saans met die hòòp om net die dag te oorleef?? ?

Nettie ·

“Geen gedwonge ingang van buite nie” …… Nogal nè? Hoekom dink ek die “nanny” het vir die boosdoeners êrens ‘n deur oopgelos of dalk ‘n sleutel gegee? Want, hoe anders het die boosdoeners dan in die huis gekom? Ons Suid-Afrikaners vertrou te veel op huis- en tuinwerkers om takies, wat ons wel self kan doen, gedoen te kry. En sodoende teken ons ons eie doodsertifikate.

Blondie ·

Dis so so waar Nettie. Ek wonder altyd oor die honde. Plaas mense het altyd baie honde om hulle te beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.