Vrystaat-egpaar sterf in brand

brand vuur vlam

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Die Vrystaatse polisie het Vrydag gesê ʼn egpaar van Excelsior het vroeër die week in hul huis doodgebrand nadat die polisie eers ure ná die brand ontstaan het, ontbied is.

Sers. Martin Xuma, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn brand het Dinsdag omstreeks 22:30 by Tos en Tilly du Plessis se huis in Excelsior ontstaan. Die egpaar was albei in hul 70s. Volgens Xuma het die egpaar ʼn vriendin gebel en haar gevra om te kom help.

“Die vriendin het haar na die huis gehaas en probeer om die hoofdeur oop te maak, maar dit was gesluit. Sy het probeer om ʼn venster oop te maak, maar al haar pogings om die egpaar te red was tevergeefs,” het Xuma gesê.

Hy het gesê die polisie is eers twee uur nadat die brand ontstaan het, ontbied. Hulle kon daarin slaag om ʼn venster te breek en Tilly uit die huis te verwyder. “Sy het egter reeds aan rookinaseming gesterf. Die polisiebeamptes kon nie mnr. Du Plessis uit die huis red nie,” het Xuma gesê. Die brandweer het kort daarna opgedaag en die brand geblus. Tos se verkoolde liggaam is daarna in die huis gevind.

“In hierdie stadium word ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie,” het Xuma gesê.

Brig. Khothatso Ramokotjo, die plaaslike polisiebevelvoerder, het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om altyd die polisie, brandweer en ander nooddienste so gou moontlik in te lig wanneer daar ʼn noodgeval is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stella ·

Dit raak darem nou te erg met al die brande van geboue en mense wat doodbrand? Wat gaan aan?

Diefwering ·

Ons is so ingehok met diefwering en toesluit van deure dat ons nie betyds kan uitkom. Ek neem aan dat dit ook hier gebeur het. Ek reken dat ‘n ystersaag met spaarlemme die oplossing is wat beter sal wees as ‘n knipper (bolt cutter) wat nie maklik gebruik kan word deur ‘n ouer persoon.
Tragies om so aan jou einde te kom.

Ashlee ·

Jy slaan die spyker so op sy kop. Vertel altyd vir alger hier by by hoe vasgekeer Suid Afrikaaners in hul eie huise moet lewe om hulself te probeer beskerm, wat gebeur as n vuur binne uitbreek.

Gogga ·

Wat help dit om die ‘bevelvoerders’ vd SAP te laat weet van ‘n brand as daar GEEN water op Excelsior dorp beskikbaar was ten tyde van die brand nie??Weet die publiek daarbuite dit??

Jennifer ·

Wat as wa met 2 pap bande staan?glo nie mens kan verwag die brandweer gaan betyds opdaag. Limpopo dorp.

Semaarnet ·

So Gogga .. die kastige aanspraak dat die vuur geblus is .. is dit dan nou weer versinsels .. soos waaraan ons gewoond geword het? Of het die vuur homself geblus na 2 ure? Ek vra .. want ek is n dorp of 2 van jou af .. en ja .. om 3 of 4 dae sonder water te wees is GEEN nuwigheid .. veral na n naweek as meneer te dronk of lui was om sy werk te doen en al die reservoirs is leeg! Dis so siek en ons voel so verlam .. want wat doen jy wat regtig iets gaan verander?

Leoni ·

Ons as familie het nie eers van die water te kort geweet nie.

Mk ·

Bel hul belowe hul gaan nie antw nie het nou die aand hier by ons gebel en gebel hul antw net nie

Peet J ·

Jammer dat die oorledenes op so ‘n manier aan hulle einde moes kom. Ek is seker die omstandighede sou anders gewees het as dit voor 1994 gebeur het.

SARIE VAN HEERDEN ·

My deure en versters het oral klein vierkantige staal raampies vir die ruite, en so ook die diefwering om ooreen te kom met die vensterrame. Ek het by my een “oopmaak-venster” in my slaapkamer ‘n “noodvenster” laat installeer wat met ‘n slot in die muur oopsluit en toemaak sodat ek daardeur kan ontsnap tydens ‘n brand. As daar by my ‘n brand ontstaan sal ek vasgekeer wees in my slaapkamerarea. Die noodvenster se diefweringgedeelte werk nes die venster met skarniere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.