Vrystaat-egpaar, vriendin op plaas oorval

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Maroela Media)

Twee verdagtes is in hegtenis geneem ná ’n aanval Woensdagaand op ’n plaas in die omgewing van Senekal in die Vrystaat.

Ses verdagtes het Dami Stemmett en sy vrou, Zelda, en ʼn vriendin op die plaas The Heights oorval en beroof.

Volgens kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het die egpaar en hulle vriendin omstreeks 20:30 by die huis aangekom.

Dami was besig om kruideniersware uit die motor te laai toe twee gewapende mans hom gekonfronteer het. Zelda en die vriendin was in daardie stadium reeds in die huis.

“Die twee mans het [Dami] in die huis geneem. Nog vier verdagtes het toe by die twee mans aangesluit,” sê Earle.

Die twee vroue se hande is met ’n kabel vasgebind, terwyl Dami in die slaapkamer ingedwing is.

“Die verdagtes het in die kamer na die kluis gesoek. Hulle het drie vuurwapens, juwele, selfone en kontant gebuit en daarna gevlug.”

Niemand is tydens die voorval beseer nie.

“Die vriendin het met iemand op haar selfoon gesels toe die verdagtes aanvanklik die huis ingekom het. Die persoon met wie sy op die foon gepraat het, het gehoor alles is nie pluis nie en het boere van die omgewing gevra om te kyk wat op die plaas aangaan.”

’n 37-jarige buitelandse burger is kort daarna in hegtenis geneem. Hy is in besit van ’n groot bedrag kontant gevind.

“Die wegkommotor is langs die hoofpad, nie ver van die plaas af nie, gevind. Die bestuurder van die voertuig, ’n 33-jarige vrou, is ook in hegtenis geneem.”

Ná verdere ondersoek is ’n vuurwapen en voertuigsleutels van die slagoffers buite die plaaswerf gevind.

Die twee verdagtes sal na verwagting Vrydag in die landdroshof op Senekal verskyn.

Die polisie is nog op die spoor van die ander vyf verdagtes.

“Enigiemand met meer inligting wat tot die vyf se inhegtenisneming kan lei, kan die stasiebevelvoerder van Senekal, lt.kol. Melato Sephiri, by 082 455 6108 kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

M ·

Skêrp van die persoon met wie gesels is om te hoor alles is nie pluis nie !!! Dankie tog daarvoor ????

Vanessa ·

Ons is so dankbaar julle is veilig danksy die persoon op die foon en die Here se genade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.