
“Siya, Siya, Siya …” Bokkaptein Siya Kolisi wys die gesogte Webb Ellis-trofee aan rugbygeesdriftiges in Durban. (Foto: @lusandakluthuli/Twitter)
Vrystaat Rugby sê hy het die afgelope week “ongekende ongelukkigheid en teleurstelling” van oral ervaar nadat SA Rugby (Saru) besluit het dat dié provinsie nie in die Bokke se Wêreldbeker-trofeetoer ingesluit word nie.
“Vrystaat Rugby deel die frustrasie en ongelukkigheid en ook die gevoel dat die Springbokke Sentraal-Suid-Afrika moet besoek, veral omdat daar so ʼn groot ondersteunersbasis in die streek is,” het die rugby-unie in ʼn verklaring gesê.
“ʼn Groot aantal Springbokspelers, afrigters, skeidsregters en administrateurs het in hul rugbyloopbane ʼn pad deur die streek geloop en by vanjaar se Wêreldbeker was 11 mense betrokke wat ʼn band met die streek het. Hulle sluit afrigters, spelers en selfs die skeidsregter Jaco Peyper in.”
Die unie sê volgens Saru het hy sy besluit gegrond op die reeds vol program wat die Springbokke moet volg.
Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, het ook sy teleurstelling hiermee te kenne gegee.
“ʼn Landwye Springbok-toer wat nie alle provinsies insluit nie, is onnodig. Ek het die kwessie met die minister van sport en die president van Saru opgeneem,” het Saul gesê.

Durbaniete het in hul duisende opgeruk om die Bokke te ondersteun en inwoners van sentraal-Suid-Afrika is vies omdat hulle nie ook die kans kry nie. (Foto: @lusandakluthuli/Twitter)
“Dit is werklik ongelukkig dat ons mense moet herinner dat ons as provinsie en as mense bestaan.”
Vrystaat Rugby het gesê ná besprekings met Saru en weens druk van die publiek, ondersteuners en die regering, het Saru aangedui dat hy moontlik die Wêreldbeker-trofee en -spelers in ʼn latere stadium na die streek sal stuur.
Die Bokke het Durban Vrydag besoek nadat hulle die vorige dag Bokondersteuners in Pretoria en Johannesburg ontmoet het.
Die Springbokke sal oor die naweek in Oos-Londen en Port Elizabeth, asook Maandag in Kaapstad met die trofee spog.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
16 Kommentare
Bloemfontein so beter gewees het ook voorstede!!
Maar Soweto was op die lys!!
Elke provinsie moes n beurt gekry het.
Haha is selfs die organisering van wat n fees moes wees n gemors danksy die regering. Aggenee kan niks dan reg werk nie?
Niks minder as reg!! Bloemfontein en ten minste Upington! ALMAL is ondersteuners.