Vrystaat-gebedsbyeenkoms: ‘Kerk gee volle samewerking’

(Argieffoto: pixabay)

Groot kommer heers nadat vyf mense wat ʼn geleentheid by die Divine Restoration Ministries in Bloemfontein bygewoon het, positief vir Covid-19 getoets het.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het vandeesweek gesê die sowat 200 mense wat die Jerusalem Prayer Breakfast-geleentheid (JPB) bygewoon het waar die prediker Angus Buchan en die ACDP-leier, eerw. Kenneth Meshoe, ook teenwoordig was, moet hulself dringend aanmeld om vir die nuwe koronavirus getoets te word. Die minister het gedreig om die name bekend te maak van diegene wat dit nie doen nie.

Divine Restoration Ministries het Woensdag reageer en bevestig dat vyf oorsese gaste by die geleentheid positief vir die virus getoets het. Die organisasie sê die byeenkoms is deur Suid-Afrikaners gereël en die pastoor van Divine, wat betrokke is by die Israel-gebaseerde Jerusalem Prayer Breakfast-beweging, het aangebied dat die byeenkoms by die kerk se perseel gehou kan word.

Die organisasie sê drie van diegene wat positief getoets het, was op 10 en 11 Maart by byeenkomste en ʼn vierde persoon het op die aand van 11 Maart by die groep aangesluit. Die vyfde persoon wat positief getoets het, het op 13 Maart by haar man in Suid-Afrika aangesluit.

Al vyf was ook op die 15de by ʼn kerkdiens, maar het ingekom nadat almal reeds hul plekke ingeneem het en het die diens voor die res van die mense verlaat. Die organisasie sê die vyf het wel by die JPB-konferensie kontak met ander mense gehad.

“Neem asseblief kennis dat die kerk dadelik stappe gedoen het nadat die [vyf se] toetsuitslae positief teruggekom het,” het die organisasie gesê.

Volgens die kerk het geen van diegene wat positief getoets het, enige simptome met hul aankoms in Suid-Afrika getoon nie.

Nadat pres. Cyril Ramaphosa op 15 Maart aangekondig het dat alle internasionale besoekers getoets moet word voor hulle die land verlaat, is die buitelanders vir toetse geneem en op 18 Maart het die toetsuitslae positief teruggekom. Die gaste is dadelik in isolasie geplaas en die departement van gesondheid in kennis gestel.

Volgens die bediening het hy ook dadelik boodskappe aan almal op die JPB én kerk se databasis gestuur.

Een en twintig mense, ook die pastoor wat nou kontak met die besoekers gehad het, is dadelik getoets en het hulself in isolasie geplaas. Sommige wag steeds op hul toetsuitslae.

Die kerk sê daar is ook besluit om álmal wat op 21 Maart op die kerkperseel was te laat toets. Altesame 305 mense is vir simptome getoets en ʼn verdere 48 is vir toetse verwys. Hiervan het net 14 aan die voorwaardes vir Covid-19-toetse voldoen.

Die volgende dag is nóg 55 mense vir simptome getoets en 25 het verdere toetse ondergaan.

Die kerk sê altesaam 360 mense is eindelik nagegaan en die gesondheidsdepartement het 39 mense getoets.

“Ons het al die inligting beskikbaar gestel waarvoor die departement gevra het en aan al hul versoeke voldoen,” het die kerk gesê.

Die evangelis Angus Buchan. (Foto: Facebook)

“Ons is deeglik bewus van die erns van die siekte, maar ons doen in samewerking met die departement alles moontlik om die verspreiding tot die minimum te beperk.”

Die kerk het ook ontken dat die besoekers Vryheidsplein in die stad, óf ʼn groot winkelsentrum daar besoek het.

Buchan se Shalom Ministries het intussen gesê weens ʼn groot agterstand met toetse vir Covid-19 wag hy en sy vrou, Jill, nog op hul toetsuitslae.

“Angus en Jill is gesond en toon geen simptome van die virus nie. Dankie vir jul voortgesette liefde, ondersteuning en kommer. Bid asseblief steeds vir hulle.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.