Vrystaat-krag: Onsekerheid heers weens twis tussen Eskom, metro

Bloemfontein. (Argieffoto: Facebook)

Eskom hou voet by stuk dat daar nog nie ʼn amptelike betalingsooreenkoms met die Mangaung-metro is nie en dat krag na die metro onderbreek sal word indien só ʼn ooreenkoms nie vandag bereik word nie.

Dit volg nadat die Mangaung-metro in ʼn verklaring gesê het die waarskuwing wat Eskom uitgereik het, is ongeldig.

“Geen onderbreking van die kragtoevoer is in die vooruitsig nie en ons elektrisiteitsverspreider (Centlec) skuld Eskom nie geld nie,” het die metro gesê nadat Thembeni Nxangisa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Donderdag met verteenwoordigers van Eskom en Centlec vergader het.

Volgens Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, is daar tydens die vergadering ooreengekom dat Centlec nie vir Eskom geld skuld nie en besig is om die lopende rekening te diens.

Eskom ontken dit egter ten sterkste. Volgens die kragvoorsiener moet die Mangaung-metro ingevolge die voorsieningsooreenkoms binne 15 dae vir Eskom betaal.

“Eskom ontvang egter sedert Augustus laat betalings. Die rekening vir Oktober beloop R148 miljoen en is van 16 November af agterstallig. ʼn Bedrag van R21 miljoen is ook meer as 90 dae agterstallig.”

Eskom sê die kennisgewing wat hy op 25 November uitgereik het waarin Centlec, kragverskaffer van die Mangaung-metro, asook die Mafube- en Mantsopa-munisipaliteit ingelig is van sy voorneme om die kragtoevoer vanaf 3 Desember vir die grootste gedeelte van die dag af te sny, is dus steeds geldig.

“Indien die Mangaung-metro en Eskom nie teen die einde van Vrydag ʼn betalingsooreenkoms kan bereik nie, sal Eskom vanaf 3 Desember voortgaan met kragonderbrekings na die Mangaung-metro.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

chrisjan ·

Hou op praat ESKOM en sny die krag af.Dan sal hulle vinnig tot hul sinne kom en betaal!

Karlahari ·

En wat van die betalers in die mislukkepaliteit wat op datum is?
Prepaid of maandeliks. Almal word gesny.

Siener ·

@Kalahari— En dan is jy die eerste ou wat kla oor Eskom se skuld as die munisipaliteite nie betaal nie.

Devil ·

Gaan ons begin betoog oor hierdie goed of gaan ons maar net sit en dit sluk?
Kry die ANC nie skaam nie?

Johan ·

Die mislike paliteite se boekhouding is nie op standaard nie. Sekere mense ken nie die waarheid nie en om alles te ontken, is al ‘n jarelange gewoonte….

Kasper ·

Mangaung muni is besig om inmekaar te tuimel weens inkompetensie en wan bestuur. Eskom dreig om krag te sny en die noorde van die stad sit sonder water, want bloemwater word nie betaal deur die muni nie, maar daar is geld vir baie duur motors vir die burgemeester en kie. Die amptelikke opposiesie party trek ook net skouers op. Dankie vir VF plus wat nou probeer om Mangaung reguit aan te vat.

HPV ·

Bemagtig die VF+ nog sterker in alle komende en tussenverkiesings, dit is ons enigste moontlike hoop. ANC en die ANC lite(DA) het hul kans gehad en jammerlik gefaal.

HPV ·

Bankrot Mangaung se bestuurders gaan julle nou die stad heeltemaal oor die afgrond stoot. Dalk moet julle ‘n opname doen hoeveel besighede het die afgelope maande hul deure hier gesluit en sodoende mense werkloos gelaat! My woning is een van honderde wat te koop is, niemand stel belang want te veel mense wil die Bankrot Mangaung Metro se stof permanent van hulle afskud. DA begin net iets doen anders as praat asseblief!

Die sterwende stad.

Pampoen ·

Ja, sny die krag af, MAAR, sny dan ALLE munisipaliteite en ander kliente wat nie betaal nie se krag af. Dis hoogtyd dat ons ‘n betaal-kultuur ontwikkel.

Oog vir n Oog ·

Ja nee. En die straatligte brand sover al vir n week lank elke dag!

vermeende ·

Is daar al n ooreenkoms met Soweto bereik, dit is tyd om vir eskom die voorstel te maak van R100 flat rate per huis, ongeag die verbruik.
Orals waar blankes is word die stadsrase gedreig met afsny sodat eskom verder kan gaan om Soweto te subsideer.
Eskom moet eers Soweto gaan uit sort!

Gert ·

R100 is soos in 5% van die werklike gebruik, so dan kan hulle dit net sowel los. Volgens my moet almal ongeag ras of blyplek betaal volgens een tarief en volgens hulle werklike verbruik, enigiets anders is onaanvaarbaar.

Wessel ·

Eskom en Bloemwater se betalings raak al hoe verder agter . Dinge gaan nooit verbeter nie inteendeel dit gaan al slegter raak .My raad aan almal is om so min as moontlik van die munisipaliteit afhanklik te wees Die langtermynoplossing is sonpanele vir ligte geysers buiteligte gasstowe boorgatwater jojotanks ens .Ek waarborg jou jy sal jou geld gou-gou terugmaak en nie geld op bankrot mun mors nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.