Vrystaat-munisipaliteit dien ‘Kom ons eet’-begroting in

Conny Msibi, uitvoerende burgemeester van die Thabo Mofutsanyana-distriksmunisipaliteit (Foto: TeamTMDM/Twitter)

Die Demokratiese Alliansie het Woensdag die “Kom ons eet”-begroting verwerp wat die Thabo Mofutsanyana-distriksmunisipaliteit (Phuthaditjhaba) in die Vrystaat ingedien het. Personeel en funksies word bó noodsaaklike dienslewering aan inwoners gestel.

“Die DA se primêre kommer is opgesluit in die begroting se beduidende toewysings vir spyseniering en geleenthede terwyl noodsaaklike items soos geletterdheidsprogramme, begraafplase en die bekamping van siektes soos cholera en witseerkeel geen finansiering ontvang nie,” sê Bea Campbell-Cloete, DA-raadslid in die munisipaliteit.

Spyseniering sal die distrik R7 612 624 kos, terwyl R6 500 850 vir geleentheidspromotors begroot is. Tussen 2024 en 2026 beloop salarisse vir werknemers R220 061 041. Die enigste kapitaalprojek wat in die begroting verwag word, is R10 miljoen vir pad- en brugkonstruksie.

“Beloftes word al jare lank gemaak om weer beheer te neem oor noodsaaklike dienste soos water- en kragtoevoer en rioolstelsels. Die distrik gaan egter gebuk onder agterstallige skuld aan Eskom en voortdurende watertekorte wat inwoners vir lang periodes ontneem van dié basiese menseregte.”

Campbell-Cloete sê daar was soortgelyke voornemens vir brandweer- en nooddienste, maar nie een van dié verpligtings het gematerialiseer nie.

“Brandweerstasies in Warden en Bethlehem verswak en die QwaQwa-brandweerstasie het tans slegs een brandbestrydingsvragmotor om verskeie gebiede te bedien. Die distrik het die afgelope vyf jaar versuim om ʼn padoudit te doen en paaie in die distrik is vervalle. Afvalbestuur en rommelstortingsterreine onder beheer van die plaaslike munisipaliteit het ook ineengestort en begraafplase is ʼn toevlugsoord vir swerwers en misdadigers. Daar is geen plan vir langtermynoplossings nie.”

Sy sê toerismefasiliteite bestaan nie en daar ekonomiese groei staan stil met ondernemings en fabrieke wat hul deure sluit.

“Waar die DA regeer, geniet dienslewering en ekonomiese groei voorrang tydens die begrotingsproses. Die gemeenskap se behoeftes is die prioriteit. Dié party bly verbind daartoe om die munisipaliteit aanspreeklik te hou vir die verantwoordelike gebruik van belastingbetalers se geld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Diana ·

Die staatsamptenare en munisipale amptenare se “wat is daar vir my te kry” uit die begrotings is angswekkend en is deel van die algehele verval van die land.

Amelia ·

En wie het geskenkies gekry Laat me msibi maar die geldtjies terug betaal wie is die om belasting geld so te vermors

Stoffeltjie ·

Dit is die hele probleem – die geld wat aan partytjies, drank en kos spandeer word! Dit maak mens woedend. Nie een wat daar werk verdien eers ‘n stukkie gratis brood nie, want hul salarisse oorskrei die inkomste.

Elméne ·

Ek stem 10000% saam met jou, hulle is nie EENS HULLE salarisse werd nie!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.