Vrystaat-munisipaliteit erken gebrek aan brandweerdienste

Brand op ʼn plaas in die Welkom-omgewing op die Bultfontein teerpad (Foto: Annatjie van der Merwe)

Die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) het erken dat hy nie aan die nasionale standaarde vir brandweerdienste voldoen nie.

In antwoord op ʼn vraag van die VF Plus in die munisipale raad, het die munisipale bestuurder, Zingisa Tindleni, bevestig dat Welkom, volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (SANS) vir gemeenskapsveiligheid teen brande, oor ʼn tweede brandweerstasie moet beskik.

“Die munisipaliteit is ook veronderstel om oor twee groot en vier medium brandweerwaens te beskik,” sê Manie Pretorius, VF Plus-raadslid in die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit. “Stadige herstelwerk kniehalter egter die aantal brandweerwaens wat te eniger tyd beskikbaar moet wees.”

Pretorius sê weens die munisipaliteit se jarelange verkeerde prioriteite kan hy nou nie hierdie noodsaaklike diens aan inwoners verskaf nie.

“Plaaslike boere en die gemeenskap was die afgelope naweek genoodsaak om weereens self in te spring om die brand wat buite Ventersburg langs die N1 uitgebreek het, te blus. Onsekerheid het geheers oor wanneer en of die plaaslike brandweer sou opdaag.”

Ná ʼn versoek van die VF Plus dat die Mmamahabane-brandweerstasie in Ventersburg met die brande moes help, was dit duidelik dat daar geen werkende toerusting was om op ʼn noodgeval te reageer nie. Brandweerdienste van Welkom het later met ʼn bakkie en ʼn bestrydingssleepwa opgedaag.

“Die munisipale bestuurder se verweer dat brandweerdienste begrotings- en hulpbron-intensief is, wys dat die ANC nie daartoe in staat is om effektiewe brandweerdienste in Matjhabeng te lewer nie. Matjhabeng se gemeenskappe verdien ʼn munisipaliteit wat in ʼn hoë-brandrisikogebied doeltreffende diens kan verseker.”

Maroela Media het vroeër berig Woodmasters, ʼn bekende onderneming in Welkom, het op 9 Augustus afgebrand weens die munisipaliteit se onvoldoende brandweertoerusting. Na bewering is vyf brandweermanne met ʼn bakkie en ʼn brandslang by die toneel afgelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Miskruier ·

Dink ook nie die brandweer het verlede week gehelp by die lodge wat in Modimolle uitgebrand het nie. Die boere het.

Papsak ·

Ja pateties hulle moet net erken hulle is heeltemal onbevoeg in alles nie net in munisipaleteite nie hele land dan is hulle darem eerlik

Waarnemer ·

Wat het van Welkom se brandweer geword?Sjoe,daardie manne was paraat op hulle tyd(90gir jare)….het selfs die spietcops oo die rugbyveld gewen.

Danie ·

Wat my dwars in die krop steek waarom wag wetende daar is geen dienste dan kla is dit nie beter om voorkomend op te tree nie? Kom ons identifiseer tekortkominge en vat die spul aan deur forums,politieke partye en geskrewe klagtes.

Danie ·

Daar is geld om nuwe karre te koop en hopeloos te veel personeel wat net eet en nie werk en die hoop verkeersbeamtes wat geen inkomste genereer en om elke hoek staan en bedel.Dit is hoekom daar nie geld is om instandhoudings en brandweer waens.

Samuel ·

Ernstig, is daar enigiets wat die cANCer nie tot in die afgrond bestuur nie? Alles verval en wie gee om?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.