Vrystaat-munisipaliteit sleep voete met Eskom-kontrak

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Demokratiese Alliansie in die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Phuthaditjhaba) in die Vrystaat is besorg oor die munisipaliteit se versuim om te reageer op ʼn hooggeregshofbevel oor kragtoevoer deur Eskom.

Alison Oates, DA-raadslid in die munisipaliteit, sê inwoners gaan steeds gebuk onder gereelde kragonderbrekings – die jongste in Tshiame en die spesiale ekonomiese sone, net buite Harrismith, wat al meer as twee weke nie enige kragtoevoer het nie.

“Die Gautengse hooggeregshof het op 8 Junie 2021, ná ʼn land en duur hofsaak deur plaaslike ondernemings, bepaal dat Eskom betrokke moet raak in die verskaffing van elektrisiteit by die munisipaliteit. Dit het tot 23 September 2022 geduur vir die stadsraad om die munisipale bestuurder magtiging te gee om ʼn verspreidingsagentskapooreenkoms met Eskom aan te gaan. Intussen is dié ooreenkoms nog steeds nie afgehandel nie.”

Die DA het geskrewe vrae aan die munisipale bestuurder gerig en hy word volgens die wet verplig om dit te antwoord.

“Ons wou weet wat die vertraging veroorsaak; watter stappe gedoen word om die impak te verlig en wanneer die ooreenkoms onderteken sou word.”

Oates sê die enigste antwoord wat die DA op 14 Februarie ontvang het, was dat die ooreenkoms” na verwagting op 15 Desember 2022 onderteken sal word”. “Dit is natuurlik nie gedoen nie. Dit is skokkend dat bevele van die hooggeregshof bloot geïgnoreer word. Inwoners en ondernemings gaan gebuk onder die probleme en daar is geen verduideliking waarom die munisipale leierskap nie die dokument onderteken nie.”

Die DA gaan voort met sy versoek vir ʼn artikel 139 (7)-ingryping, “aangesien die huidige leierskap nie die mas opkom nie”. Artikel 139 (7) van die Grondwet bemagtig die nasionale regering om in te gryp wanneer ʼn munisipaliteit nie ʼn uitvoerende plig nakom nie of nie in staat is om dit na te kom nie. “Die DA is verbind om verandering in die provinsie teweeg te bring en maan alle inwoners om te registreer om aan die 2024 nasionale- en provinsiale verkiesings deel te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wakkerslaper ·

Die DA is “besorg”…… dis waar ek ophou lees het….

annie ·

Nooit! G’n wonder daar is g’n outeur se naam by dié berig nie. Ons sal moet ophou met die fopnuus versprei oor swak munisipaliteite in die land en so die ANC-regering in ‘n slegte lig probeer stel. Al die munisipaliteite werk klopdisselboom; g’n probleem nêrens nie! Is daar ‘n benaming vir voor eerstewêrelds, want dit is daar waar ons land pryk; uniek op die skaal van bekwame bestuur en gereed vir ‘n toekomstige planeet van ewige volmaakte geluk. Ons kan nie wag nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.