Vrystaat-plaasmoord: Geen borgtog, eis gemeenskap

Ina en Sakkie van der Berg (Foto: Facebook)

Die gemeenskap van Boshof in die Vrystaat pleit dat die vier verdagtes in die onlangse moord op die plaaslike egpaar Sakkie en Ina van der Berg nie vandeesweek op borgtog vrygelaat moet word nie.

Sune Oosthuizen, buurvrou van die egpaar, het Woensdag aan Maroela Media gesê ’n memorandum is Maandag deur gemeenskapslede met behulp van ’n prokureur saamgestel.

Dié memorandum sal Donderdag aan die klerk by die plaaslike landdroshof asook die staatsaanklaer oorhandig word voordat Johannes Sekgoro (41), Daniel Tsekiso Selwane (28), Kat Terrance Thami (34) en Sidasie Daniel Lephele (44) in dié hof verskyn in verband met die moord op die egpaar. Hulle sal na verwagting aansoek om borgtog doen.

“Van die verdagtes is reeds verhoorafwagtend en ander het vorige misdrywe teen hul naam. Daar is niks wat dié verdagtes keer om te vlug of net weer so ’n misdaad te pleeg nie. Sou hulle borgtog toegestaan word, kan hulle sekerlik dit net weer doen,” vertel Oosthuizen.

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes is verlede week in hegtenis geneem vir die moord op Sakkie en Ina. Dié egpaar is vroeër vandeesmaand in hul huis op die plaas Bloubos vasgebind, aangerand en toe doodgeskiet. Sakkie was 67 jaar oud en Ina 62 jaar oud.

Sekgoro, wat onder gemeenskapslede bekend staan as “Lolo”, moet juis volgende maand in verband met ’n ander plaasaanval in die hof verskyn terwyl sy naam vantevore ook by twee plaasaanvalle en veediefstalsake in die Vrystaat opgeduik het. Ook Lephele was na bewering betrokke by een van dié plaasaanvalle wat genadiglik verhoed kon word.

Volgens Oosthuizen is die memorandum Maandag om 20:00 vrygestel, maar eers vanaf gisteroggend aan gemeenskapslede in die dorp beskikbaar gestel om te onderteken.

Teen die middag is daar reeds 220 e-posse ontvang ter ondersteuning van die memorandum. Die memorandum, wat by die Suidwes-tak in die dorp se hoofstraat beskikbaar is, is toe ook reeds 100 keer onderteken.

“Die e-posse stroom in en die mense hou nie op bel nie. Dit is net ’n bewys dat dit nie net ons gemeenskap raak nie, maar almal in ons land. Ons het selfs e-posse van die buiteland ontvang,” vertel sy.

Oosthuizen verduidelik dat die e-posse as handtekeninge dien aangesien nie almal die memorandum by Suidwes in die dorp kan onderteken nie. Dié e-posse sal by die memorandum gevoeg word wanneer dit by die hof oorhandig word.

Dié memorandum is wettig en met behulp van die prokureur Riaan Bode met insette deur die Nasionale Vervolgingsgesag opgestel.

Sy vertel dat sy geen benul het hoeveel mense die memorandum voor môre gaan onderteken nie. Sy is ook nie seker hoeveel gemeenskapslede gedurende die verdagtes se hofverskyning buite die hof gaan saamdrom wanneer gemeenskapslede aan ’n “stille protesaksie” gaan deelneem nie.

“Ons hoop vir teenwoordigheid sodat hulle kan sien ons is ernstig oor die saak, maar ons verwagting is reeds oortref deur al die navrae en reaksie.”

Oosthuizen vertel dat die gemeenskap geskok gelaat is ná die moord op Sakkie en Ina. “Jy weet dit gebeur, maar wanneer dit naby jou gebeur, is jy ewe skielik meer paraat en versigtig. Ek dink dit het ons almal teruggestuur na ons eie veiligheid toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wurmpie

As hul op borg uitkom pleeg hul net weer misdaad en moord. Hul weet hul gaan tronk toe om lekker te lewe so gee nie om wat hul doen terwyl hul op borg uit is nie

wraggies

Hopelik sal almal wat kan buite en binne die hof hulle mening duidelik maak, gemeenskappe sal moet begin fisies teenwoordig wees.

Lizane

Hoe kan ons die memorandum onderteken?

Stom

Suid afrika is n demolratiese land maar tog lyk en voel dit nie so nie Tog het jy nie n stem nie maak nie saak hoe hard n mens na hulp roep nie N potlood merkie is dalk wat jy het maar wie weet of dit nie dalk n geen tel is net omdat jy vir die blou of groen stem en nie vir rooi en geel? Sekuriteits maatkappy bars uit hul nate net omdat die nasionale polisie korrup is Die pa van die huis slaap met een oog oop terwyl die wette van sa vas aan die slaap is… Lees meer »

Schalla

Ek sal ook graag die memorandum wil teken – is daar besonderhede hoe ek dit kan doen? Dit sal ‘n skreiende skande wees as hulle borg kry!