Sewe vermeende onwettige myners is Dinsdag in hegtenis geneem vir die besit van grond wat goud bevat, asook toerusting wat gebruik word om die goud te verwerk.
Kapt. Steven Thakeng, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê lede van Welkom se polisie vir openbare orde, reaksiespan, honde-eenheid en provinsiale intelligensietaakspan het omstreeks 09:30 op ʼn huis in Riebeeckstad toegeslaan tydens ʼn gesamentlike operasie.
“By die Riebeeckstad-huis is ʼn 42-jarige man vasgetrek vir die besit van toerusting wat gebruik word om goud te myn. Die beamptes het toe na ʼn huis in Cilliersstraat in Dagbreek gegaan waar vyf verdagtes ook in hegtenis geneem is,” het Thakeng gesê.
Die beamptes het nóg ʼn huis in Constantiastraat in Thabong besoek en ʼn 36-jarige verdagte in hegtenis geneem.
Volgens Thakeng is grond wat goud bevat en toerusting soos gasbottels, skale, goud- en platinumtoetsers, plastiekhouers, goudkookpotte, en so meer by die verdagtes aangetref.
Die verdagtes, tussen 29 en 45 jaar oud, sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn.
Hoekom is dit nog onwettig ? Die pres se dan alles moet gedeel word ….