Vrystaat-polisiebeamptes verdink van korrupsie

(Argieffoto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Twee polisiebeamptes sal Maandag weer in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie, dwarsboming van die gereg, ontvoering en uitbuiting.

Kapt. Loraine Earle, woordvoerder van die polisie, sê die twee konstabels is Vrydag in hegtenis geneem toe die direkteur van openbare vervolging besluit het om hulle te vervolg in verband met ʼn voorval in Julie vanjaar.

“Die teenkorrupsie-eenheid het op 7 Julie 2023 inligting ontvang oor die twee konstabels wat ʼn uitlander in hegtenis geneem en geld van sy vriend geëis het om hom vry te laat.”

Die vriend, die klaer in die saak, het die geld gereed gekry en die eenheid het hom onder waarneming gehou.

Die konstabels het die vriend van die uitlander se selfoon geskakel om te sê hulle sal die geld kom oplaai.

“Toe hulle by die klaer se winkel opgedaag het, het hy die geld aan die konstabels oorhandig. Hulle voertuig is deur lede van die teenkorrupsie-eenheid voorgekeer en ʼn persoon is agterin die polisiebakkie aangetref.”

Die dossier is na die direkteur vir openbare vervolging deurgestuur vir ʼn besluit en die twee konstabels is in hegtenis geneem.

Die twee konstabels, onderskeidelik 32 en 34 jaar oud, het Vrydag vlugtig in die hof verskyn. Hulle bly oor die naweek in aanhouding. Hulle sal Maandag in die hof verskyn vir regsverteenwoordiging en aansoek om borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.