Vrystaat-reeksmoordenaar beken skuld

Argieffoto

Argieffoto

Nog twee liggame is Vrydag op die plaas Geduld naby Kestell in die Vrystaat uitgehaal, wat die aantal liggame op ses te bring staan.

Die eerste twee liggame is op 21 Oktober gevind toe die plaasgemeenskap ʼn slegte reuk uit ʼn vlak graf in die bosse geruik en die polisie ontbied het.

Maroela Media het vroeër berig Lentsha Molefe (32) is op 26 Oktober by sy broer se huis in Carletonville aangekeer.

“Ná sy inhegtenisneming het hy skuld beken en nog vier grafte uitgewys waar hy liggame begrawe het,” het lt.kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy het ook die vyfde gebied uitgewys waar hy glo ʼn 17-jarige meisie se liggaam aan die brand gesteek het.”

ʼn Forensiese span van Pretoria is Dinsdag na Kestell ontbied en het die opgrawings Woensdag hervat. “Hulle het op die liggaam van ʼn driejarige seuntjie afgekom en Donderdag die liggaam van ʼn vrou gevind,” het Mbambo bygevoeg. “Nog twee liggame is Vrydag langs mekaar opgegrawe.”

Die liggaam wat na bewering aan die brand gesteek is, is glo die eerste persoon wat hy in 2008 vermoor het. “Dié liggaam is nog nie gevind nie, aangesien ʼn hele aantal jaar al sedert haar moord verloop het.”

Lentsha het glo in 2008 met sy moordtog begin toe hy die 17-jarige dogter van sy meisie verkrag en toe verwurg het, uit vrees dat sy haar ma sou vertel. Hy het die liggaam aan die brand gesteek om die bewyse weg te steek.

In 2010 het hy glo sy eerste meisie, die ma van die 17-jarige, verwurg, nadat hy haar daarvan beskuldig het dat sy egbreuk pleeg. Haar liggaam is gister opgegrawe.

In Junie 2014 het hy glo sy tweede meisie se kêrel aangerand en hy is in hegtenis geneem en het ʼn opgeskorte vonnis van twee jaar ontvang. Hy het die meisie glo daarna verwurg en haar begrawe.

In November 2014 het hy sy derde meisie en vierde slagoffer verwurg nadat sy glo nie die skuldinvorderaar betaal het, soos hy versoek het nie.

“Die derde en vierde slagoffer is langs mekaar begrawe en hulle liggame is vandag uitgehaal,” het Mbambo gesê. “Een van die vroue was die ma van sy vierjarige dogtertjie.”

Later in November 2014 het hy die driejarige seuntjie verwurg nadat die seuntjie glo by hom geneul het oor waar sy ma haar bevind.

In Augustus 2015 het hy Nomvula Mkhoanazi van Reitz verwurg wat hy in 2010 ontmoet het tydens seisoenale werk op plase. Hulle het mekaar in 2015 weer raakgeloop en hy was jaloers toe sy hom vertel dat sy ʼn kind by ʼn ander man gehad het.

In September 2015 het hy ʼn familielid, Dieketso Lefatsa, versoek om by hom te kom bly om na sy vierjarige dogtertjie om te sien. Twee weke nadat sy aangekom het, het hy haar egter daarvan beskuldig dat sy oor sy huislike omstandighede skinder aan die plaasgemeenskap. Hy het haar verwurg en langs Mkhoanazi begrawe. Dit is Lefatsa en Mkhoanazi se liggame wat op 21 Oktober ontdek is.

Die man moet op 4 November weer in die Kestell-landdroshof verskyn. Hy staan nou tereg op ses aanklagte van moord.

Lees alle vorige berigte oor Lentsha Molefe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

GES ·

Wat se genot put hy uit moord? Gee dit hom ‘n gevoel van mag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.