Vrystaat se elektrisiteit nie nou afgeskakel

Argieffoto

Argieffoto

Eskom het ingestem om die afsluiting van elektrisiteit na verskeie munisipaliteite in die Vrystaat op te skort.

“ʼn Ooreenkoms is bereik wat die betrokke munisipaliteite gedurende Augustus 2014 die geleentheid bied om betaalplanne te ontwikkel,” het Eskom gesê. Die afsluitings sou Maandag plaasgevind het.

Daar is geen verdere besonderhede oor die ooreenkoms bekend gemaak nie.

Die Demokratiese Alliansie het die ooreenkoms tussen Eskom en die provinsiale regering van die Vrystaat oor die munisipale skuld verwelkom.

David van Vuuren, woordvoerder van die DA, het egter gesê die munisipaliteite is nie in staat om hul finansies behoorlik te bestuur nie. “Hulle sukkel ook om uitstaande skuld van inwoners in te vorder,” het hy gesê. “Die munisipaliteite het verlede jaar versuim om skuld van meer as R5.4 miljard in te vorder. Betalende inwoners kan nie verantwoordelik gehou en gedreig word met die opskorting van dienste weens onbekwame munisipaliteite nie.”

Van Vuuren sê wanbetaling deur munisipaliteite aan Eskom vir dienste gelewer moet deur die kabinet hanteer word. “Die Vrystaatse regering is nie in ʼn gesonde finansiële situasie nie,” het hy gesê. “Die huidige stand van sake is ʼn teken dat daar binne munisipaliteite en provinsiale regerings ʼn kultuur van onverantwoordelikheid, ʼn gebrek aan deursigtigheid en roekeloosheid bestaan.”

Eskom het in September 2013 ʼn kennisgewing gepubliseer dat hy beplan om elektrisiteit na die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit af te sny, wat glo nie ʼn rekening van meer as R205 miljoen betaal het nie. Van die skuld was al langer as 90 dae uitstaande. Eskom sou op 4 Desember 2013 elektrisiteit na die munisipaliteit afgesluit het. Betrokke gebiede en dorpe sluit Harrismith, QwaQwa, Kestell, Tshiame, Phuthaditjhaba, Tsheseng en Witsieshoek in.

ʼn Soortgelyke kennisgewing is vir die Ngwathe-munisipaliteit uitgereik vir hul skuld van meer as R188 miljoen. Dorpe en gebiede wat onder dié munisipaliteit val sluit Edenville, Heilbron, Koppies, Parys, Phiritona en Vredefort in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

En wie gaan op die einde van die dag die skuld vereffen…ek Weet…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.